Moenie net in die ‘probleem’ van AGHS vaskyk nie. Jou kind kan ‘n uitblinker word, skryf Ansja Ferreira in ons 5 Augustus-uitgawe. Lees hier verder:
Ansja Ferreira het self drie kinders met AGHS gediagnoseer is. (Anco Gouws, wat in die gedrukte artikel genoem is, is haar oudste seun en verskeie lede van haar familie toon tekens van die sindroom of is reeds daarmee gediagnoseer). Hier is haar wenke vir ouers met kinders wat AGHS het en hulself in dieselfde bootjie bevind:
- Nadat ‘n diagnose gemaak is, verkry soveel as moontlik inligting oor die sindroom, die verskillende soorte medikasies wat beskikbaar is en hoe die medikasie werk. Uit my ondervinding weet ek dat die medikasie ‘n reuseverskil ten opsigte van konsentrasie, huiswerk, eksamen en toetse maak. Ek was versigtig vir medikasie totdat ek dit (baie huiwerig) op die proef gestel het. Navorsing wys dat medikasie wat deur ‘n dokter of spesialis voorgeskryf is en volgens voorskrif gebruik word veilig is. Kennis is mag. As jy weet waarmee jy te doen het, kan jy dit hanteer. As ‘n sekere medikasie nie met jou kind akkordeer nie of te veel newe-effekte veroorsaak, is daar altyd ander alternatiewe beskikbaar.
- Werk saam met ‘n span en kommunikeer gereeld met elkeen. Dit kan jou kind se pediater of psigiater, ‘n arbeidsterapeut, remediërende onderwyser, klasonderwyser en selfs ‘n dieetkundige insluit.
- Moenie in sak en as gaan lê nie. Al moet jou kind dalk nou medikasie gebruik en moontlik arbeidsterapie of remediërende onderwys ontvang, kan hy of sy ná skool potensieel floreer en sukses behaal in ‘n werk wat energie, innovasie, kreatiwiteit en entoesiasme verg, soos media-beroepe, uitvoerende kunste, fotografie, musiek, haarkappery of grimering, onderwys, paramediese en selfs mediese beroepe. Talle volwassenes wat medikasie moes gebruik toe hulle kinders was, om hul skoolloopbane te kon voltooi, kon dit staak omdat hulle floreer in die beroep wat hulle gekies het. As ‘n mens die beste maak van dit wat die lewe vir jou uitgedeel het en boonop dinge positief aanpak en ‘n tikkie humor daarby voeg, kan jy selfs ‘n uitdaging soos AGHS en hiperaktiwiteit vir jou pleks van teen jou laat werk.
- Roetine en reëls is baie belangrik, maar maak ook tyd vir pret en speel. Moenie jou kind “moor” nie. Hy of sy kan moedeloos word en voel of hulle wil tou opgee. Vind ook kreatiewe maniere om jou kind te help leer en onthou. Maak dit vir hom of haar interessant, juis omdat sulke kinders maklik hul aandag verloor en verveeld raak. Vir sommige kinders kan dit help as hul poppe of speelding saam leer en hulle die werk hardop vir die poppe opsê (vir die kleintjies), of as julle die werk hardop lees, assosiasies maak, of kernwoorde neerskryf. (As myne byvoorbeeld ‘n mondeling het wat hulle uit hul kop moet leer, neem ek dit op video op my selfoon op en speel dit oor en oor vir hulle sodat hulle dit kan onthou. Dit is ook vir hulle groot pret.)
- ‘n Gesonde, gebalanseerde dieet en lewenstyl is baie belangrik. Vra hulp by ‘n dieetkundige oor die regte dieet vir jou AGHS-kind. Oefening is ‘n uitlaatklep vir ekstra energie. Moedig sport of dans by jou kind aan. Joga kan help om fokus te verbeter, ook by volwassenes met AGHS.
- Slyp jou kind se talente en help ‘n goeie selfbeeld bou. Baie AGHS-kinders is baie kreatief of sportief. As jy agterkom dat jou kind dalk ‘n aanleg vir sport, kuns, sang of musiek het, moedig hom of haar aan om dit te ontwikkel en soek ‘n goeie onderwyser/afrigter om jou kind se talent te help slyp.
- Laat jou kind verstaan dat hy of sy nie ‘n siekte het of ‘n “frats” is nie, maar dat hy of sy spesiaal, net ‘n bietjie anders en wonderlik op sy of haar eie unieke manier is.
- Ek glo dat kinders en grootmense met AGHS spesiaal is, soos sterre wat heeltyd skitter. Met die regte hulp en ondersteuning kan hulle ook sterre in die wêreld word wat uitblink in sport, vermaak, sang, fotografie, kuns en al wat beroep is wat ‘n hoë vlak van energie, spontaneïteit, kreatiwiteit, vindingrykheid en sprankeling verg. (Alles eienskappe van mense met AGHS.)
- Ek het ook al opgelet dat baie van die AGHS- en hiperaktiewe mense in ons wêreld uiterse kreatiewe, interessante en besonderse mense is. Die volgende bekendes het almal AGHS en het hulle nie daardeur laat onderkry nie en dit vir hulle laat werk: sangers Justin Timberlake en Adam Levine (van die groep Maroon 5), sjef Jamie Oliver, die akteurs Will Smith en Jim Carrey, die hoogs suksesvolle Richard Branson, Paris Hilton, die swemmer Michael Phelps, wenner van 22 Olimpiese medaljes, die sokkerster Tim Howard, die joernalis Lisa Ling en die aanbieder Howie Mandel.
- Volgens die webwerf http://psychcentral.com/lib/famous-people-with-adhd/ word daar genoem dat indien jy AGHS het, jy in die baie goeie geselskap is van die volgende bekendes wat of daarmee gediagnoseer is of baie van die simptome daarvan het wat ‘n aanduiding is dat hulle dit dalk gehad het: Albert Einstein, Galileo, Mozart, Leonardo da Vinci, Cher, Walt Disney, John Lennon, Winston Churchill, Henry Ford, Alexander Graham Bell, Hans Christian Anderson, Nelson Rockefeller, Thomas Edison, Agatha Christie, John F Kennedy, Whoopi Goldberg, Rodin, Beethoven en nog baie ander.
Addisionele bronne: www.addadult.com/add-education-center/famous-people-with-adhd/
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.