Anette het alleen die 570 km van die Skedelkus gestap en leer nou meer mense die wonder van introspeksie op staproetes
Hoe het die besluit gekom dat daar mense op sommige van jou staptogte saans in gastehuise kan slaap en hul bagasie aangery word?
Ek dink daar is ’n mark vir slenterstappe met gerieflike akkommodasie en heerlike etes, net soos daar ’n mark is vir ‘n slenterstap in die middel van nêrens waar jy saans in ’n tent slaap en bietjie minder geriewe het.
Jy het vir Johnny van der Westhuizen op Shoreline of the San as veldgids. Hoe het hy by jou uitgekom en wat beteken dit vir jou as jy iemand soos Johnny so sien blom?
Johnny het een Vrydagmiddag op Elandsbaai by my kom aanmeld en gevra of hy kan saamstap en sonder vergoeding kan help! Ná net een naweek saam met hom het ek geweet hy het potensiaal en het net ’n kans nodig. Silent Steps en vriende, selfs my eie vriende asook sakemense op Lambertsbaai, het dit moontlik gemaak om hom Kaap toe te stuur om te gaan studeer en as ’n Wes-Kaapse toergids te kwalifiseer, kompleet met sy registrasienommer en lapelwapentjie. Ja, dit maak my trots om hom te sien blom, maar nie ’n egosentriese trots nie, meer ’n trots op die mensdom dat daar nog mense is wat reeds vuisvoos gegee is, maar steeds hul beursie sal oopmaak as hulle in iemand glo.
Jy doen alles alleen behalwe die hulp van Johnny en ook Sanna Holtshauzen op Shoreline wat bussie ry, kosmaak en help met logistiek. Is sy by al die roetes betrokke?
Sanna is ’n hippie en swerwer. Sy het gesê sy gaan my ’n jaar help en dis nou amper twee jaar. Mens vra nie ’n hippie wat sy of haar vyfjaarplan is nie! Ek glo die meeste van die stappers wat haar leer ken, wens hulle kan soos Sanna leef, so, ek wys deur Sanna ook vir mense wat is moontlik as geld en goed nie vir jou saak maak nie.
As jy nie stap nie, hoe ontspan jy en wat doen jy elke dag?
Ek help met ’n gastehuis naby Calvinia, genaamd Toekoms. Dis in die Karoo en ek bring al my vrye tyd daar deur. Ek stap baie met die honde, werk in die tuin en ervaar die Hantam-hartlikheid van boere, vriende en vriendinne van die Calvinia-omgewing.
Hoeveel dae per jaar is jy op staproetes?
Nie genoeg nie!
Wat is die mooiste woorde wat jy al van ’n stapper gehoor het ná afloop van ’n voltooide stap?
“Dankie dat jy my gehelp het om my innerlike krag te ontdek. Ek gaan nooit weer dieselfde mens wees nie.” Soms hoef mense niks te sê nie, hulle huil net, en ek huil saam!
Watter wenk het jy vir iemand wat nog nie voorheen gestap het nie, maar graag wil?
Begin met 1 km om die blok, gevolg deur twee. En dan bespreek jy vir jouself ’n intree-Silent Steps-staptog soos die Wildernis- of Shoreline-stap ’n jaar voor die tyd, sodat ons saam kan werk om jou gereed te kry en mooi na jou sal kyk!
Waarvoor is jy bang?
Donderweer en olifante!
Wat is jou swak punt en hoe oorkom jy dit?
Alles moet perfek verloop, of dit nou ’n stap of ’n sosiale geleentheid is. Ek kon dit nog nie self oorkom nie, ek omring myself nou net meer met rustiger mense, wat dit sommer namens my doen!
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.