Nederburg het vandeesweek gaste genooi vir ‘n vertikale proe van die Heritage Heroes The Young Airhawk van 2012, 2013, 2014, 2015 en die nuutste oesjaar, 2016, wat pas vrygestel is. (‘n Vertikale proe is wanneer een wynvariteit uit verskillende oesjare geproe word.)
Die gaste kon ook die II Centuries Sauvignon Blanc 2009 en 2014 proe. Dié wyn word net in uitsonderlike oesjare gemaak.
Die Heritage Heroes The Young Airhawk spog ook sedert 2016 met ‘n nuwe etiket. Die wynname in die Nederburg Heritage Heroes bring almal hulde aan belangrike figure in die plaas se kleurryke geskiedenis wat terugdateer na 1791.
Die Young Airhawk verwys na die plaas se eienaar, Johann Graue, gehuldig as The Brewmaster, wat die plaas in 1937 bekom het. Hy het sy seun begin voorberei om die plaas eendag by hom oor te neem, maar hy is op 29 in ‘n vliegongeluk oorlede.
Die wynproe is aangebied deur Natasha Boks, Nederburg se witwynmaker en by Bouchon Bistro in die hartjie van Kaapstad tussen die wynvate gehou. Die gasheer was die mede-eienaar van Bouchon en wynmaker Christophe Durand van Dorrance Wines.
Natasha het gesê dat 2012 en 2013 gemiddelde oesjare was, maar dat 2014 ‘n grensverskuiwende jaar vir die wynbedryf was. Die veranderende klimaat het gewis ‘n uitwerking op die kwaliteit druiwe wat geoes word en sal ook in die toekoms meer bepalend wees oor watter kultivars in sekere gebiede sal aard.
Nederburg se Sauvignon Blanc word in Franse eikehoutvate verouder en die druiwe kom van sover as Elim en Darling.
Wynmaker Christophe Durand van Bouchon Bistro en Natasha Boks, Nederburg se witwynmaker.
Die Nederburg Ingenuity Spanish blend 2012 word voor die tyd gegooi om asem te haal.
Die vertikale proe is tussen die wynvate van die Dorrance Wines se kelder gedoen.
Die Heritage Heroes The Young Airhawk spog sedert die 2016-oesjaar met ‘n nuwe etiket.