’n Groot groep gaste en media het onlangs die geleentheid gehad om by Nederburg landgoed hul lywe wynmakers te hou.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Die interaktiewe versnydingwerkswinkel, wynproe en middagete was getiteld “The Curious Case of Cabernet Sauvignon” en Andrea Freeborough, keldermeester, het gaste vertel dat Cabernet Sauvignon die kind is van ’n rooi kultivar, Cabernet franc en ’n wit kultivar, Sauvignon blanc.
Sy het toe ’n wynproe gelei waar twee Sauvignon blancs van Stellenbosch en Darling en twee Cabernet francs van Stellenbosch en die Paarl geproe is, om ’n aanduiding te gee van hoeveel dieselfde kultivar se wyn in verskillende terroirs proe.
Toe is almal kelder toe waar die vier wyne – drie Cabernet Sauvignons en een Cabernet Franc – op ons gewag het. Andrea en die assistant-rooiwynmaker, Heinrich Kulsen, het hier hul hande volgehad!
Die idee was dat elke groep ’n wyn versny, wat vir die vlagskip-reeks geskik sou wees. Die vier komponente was net as nommers aan die gaste bekend en al raad wat Andrea kon gee, is dat elkeen afsonderlik geproe moet word en “die een waarvan jy die meeste hou, is gewoonlik die grootste gedeelte van jou versnit”.
Terwyl die musiek deur die kelder gespeel het, almal hul voorskote styf vasgemaak en hul knieë met die kombersies toegegooi het, was daar ’n heerlike kompeterende atmosfeer tussen die reuse vate.
Die wyne was baie verskillend en dit was gou duidelik dat die kuns van versnyding nie sommer in enigeen se broek sit nie!