As daar nou een reis is wat op jou emmerlys hoort, is dit om die Kersmarkte in Europa te beleef. En nou kan jy!
Ons besoek Salzburg, een van Europa se mooiste stede, en maak ’n draai by ’n Kersmark. Daar kan jy na hartelus rondsnuffel vir handgemaakte geskenke en aan lekkernye soos Schneeballe, Bratwurst, varsgebak en vrugtekoek knaag. Innsbruck is in die hartjie van die Alpe geleë.
Daar besoek ons die wêreldbekende Swarovski Kristallwelten, waar jy juweliersware kan aankoop. In Innsbruck gaan ons met die Hungerburgbahn (trein en kabelkar) tot bo waar ’n asemrowende uitsig wag en ons soos kinders in die sneeu kan speel. In Seefeld ry ons deur die skilderagtige skidorpie met ’n slee.
Ons sien Innsbruck se bekende Dak van Goud, wat in die 1500’s ’n trougeskenk van die Tiroolse keiser, Maximillian, aan sy bruid was.
Dan die boot! Ons vaar vir ’n week met die Amadeus Royal al met die Donau-rivier vanaf Wene tot in Neurenberg en geniet die mooi uitsigte, heerlike kos en elke aand ander wyne van die streek. In Wene besoek ons die Schönbrunnkasteel en wandel deur die kasteeltuine.
Dan maak ons gereed vir ’n klassiekemusiek- konsert met dans en ballet. Van hier vertrek ons na Melk/Emmersdorf, Passau en Regensburg. Die boot is ’n vyfsterhotel op water wat van een bestemming na ’n ander vaar. Waar die boot anker gooi, verken ons die dorpie.
Buite die dorpie Melk besoek ons die Melk-klooster wat uit die jaar 1089 dateer. Van daar gaan ons na die streek Wachau waar ons die wyndorpie Dürnstein verken en perskeschnapps geniet. In Passau besoek ons die Sint Stephan’s-katedraal waar die wêreld se tweede grootste pyporrel te vinde is.
In die Duitse staat van Beiere besoek ons Neurenberg en sien geskiedkundige geboue en plekke, onder meer die Zeppelin-veld waar Nazi-byeenkomste gehou is. Hier is nog baie Kersfeesstalletjies. Ons geniet ’n laaste ontbyt op die Amadeus Royal, doen laaste inkopies en vertrek na die lughawe vir ons vlug terug.
WANNEER IS DIT?
5 – 17 Desember 2016
WAT KOS DIT?
Die landreëlings van die toer kos tussen 2 205* euro per persoon wat deel ( bereken op ’n minimum van 20 toerlede), met ’n bykomende tarief van 650 euro* vir ’n enkelkamer, plus ’n vliegkaartjie van R4 900* per persoon.
INGESLUIT
• Retoervliegkaartjie van Johannesburg en terug. Verblyf op die MS Amadeus Royal en hotelle
• Alle etes soos op toerplan aangedui
• Engelssprekende gids
UITGESLUIT
• Binnelandse vlugte in Suid-Afrika
• Lughawebelasting: ±R8 100*
• Reisversekering: ±R725* (vir passasiers jonger as 69 jaar)
• ’n Schengen-visum word vereis
• 150 euro vir fooitjies
• Alle persoonlike artikels
• Opsionele toer in Wene na die Schönbrunn-kasteel
’n Deposito van R5 000 asook ’n voltooide besprekingsvorm sal jou plek bespreek. Deelname aan die toer is op ’n “eerste daar, eerste klaar”-grondslag. Die balans van die toerprys is twee maande voor die vertrek betaalbaar, tensy anders deur Seagull Toere gereël.
Geen kredietkaartbetalings word aanvaar nie.
*Beraamde koste, onderworpe aan die wisselkoers