Die meeste mense ontwikkel normale sensoriese funksionering, maar sommige kenners glo hierdie proses kan by soveel as 10% van kinders verkeerd loop. Hier is meer inligting oor die verskil tussen sensoriese-instegrasieversteuring en ADHD plus die uitdagings waarteen lyers te staan kom
Ansja Ferreira
Wanneer die simptome van ADHD en sensoriese-integrasieversteuring vergelyk word, kan verskeie ooreenkomste en verskille gesien word. Die twee toestande gaan nie noodwendig met mekaar gepaard nie, maar hulle kan wel. Volgens Carol Stock Kranowitz, skrywer van The Out-of-Sync Child: Recognizing and Coping with Sensory Integration Dysfunction, sal baie neurologiese probleme met mekaar oorvleuel. Volgens haar kan ‘n kind met ‘n wanfunksie in een ook ‘n wanfunksie in ‘n ander gebied hê.
Wanneer ADHD en sensoriese-integrasieversteuring wel saam by ‘n kind voorkom, is dit belangrik om die twee van mekaar te onderskei omdat die behandeling vir elkeen verskil.
Volgens Sadag (Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-steungroep) kan ADHD behandel word deur voorgeskrewe medikasie, wat die kind help om sy of haar gedrag te beheer, asook ‘n opvoedkundige program wat die kind se individuele behoeftes hanteer.
Sensoriese-integrasieversteuring word deur ‘n arbeidsterapeut behandel wat ook aan die ouers, kind en onderwysers kan voorligting bied en raad gee oor hoe om hierdie kind se omgewing beter by die kind se behoeftes aan te pas.
Die uitdagings
‘n Gewone uitstappie kan groot beplanning vir ‘n persoon met ‘n sensoriese-integrasieprobleem verg. Dr Dinelle Faul verduidelik waarmee so iemand te doen kan hê: “As ‘n persoon met ‘n sensoriese-integrasieprobleem byvoorbeeld saam met vriende restaurant toe sou wou gaan, sal hy eers moet besluit watter restaurant nie te veel lawaai nie. Dan sal hy ‘n tafel moet kies wat nie onder buisligte, naby ‘n dakwaaier, TV of lugverkoeler is nie. Hy sal moet oplet waarlangs die kelners die meeste beweeg en nie ‘n tafel langs hul paadjies of teenaan die bedientoonbank kies nie. As daar ‘n houtvloer is, sal hy ‘n tafel moet kies waar hy nie die vibrasie van mense wat loop op die vloer kan voel nie. Hy sal ook die kelner daarvan moet weerhou om kerse aan te steek aangesien die flikkerende ligte van kerslig dieselfde oorstimulerende effek as buisligte het. As al hierdie sintuiglike stimuli in ag geneem kan word, en sy vriende sy eksentrieke optrede verstaan, sal hy die kuier saam met vriende kan geniet.
“As hierdie persoon nie sy omgewing so monitor nie, sal hy nie die gesprekke met vriende optimaal kan volg of hulle samesyn kan geniet nie. As hy bevoorbeeld ‘n besige dag by die werk gehad het en reeds sensoriese oorstimuleer is, sal hy nie die kuier enigsins kan meemaak nie. Sy vriende sal dalk nie verstaan hoekom hy so min ná werk saam met hulle wil gaan kuier nie en mag hierdie persoon verkeerdelik opsom as iemand wat nie sosiaal wil verkeer nie.”