Sandra Troskie ontdek tydens ’n reis na Spanje dat sy met meer as net die Camino moet stoei ….
Tjsk, glip die kop van die vuurhoutjie oor die swaelkant van die boksie. Vir ’n stonde sis die tongetjie vuur goud voor dit onseker terugsak. Ek bak my vry hand beskermend daarom, draai die houtjie om die bibberende vlammetjie hoër te lok. Om my skuifel ander begrafnisgangers, kers in die hand; oënskynlik onbewus van die swart skadu aan die rand van die lig. Vir maande reeds hou dié wurm wag …
“Is jy nog oukei?” wil Dirk weet.
“Piekfyn, dankie,” mompel ek onentoesiasties. Die sterk wind klap die blou van die reënponcho teen my ore vas en die reëndruppels het lank reeds ’n ysige pad deur die goedkoop plastiek gevind. My stewels trap ’n spoor wat mense op soek na die jeti hulle na Spanje sal laat haas en met elke suig-klap waarmee hulle die modder los, hoor ek hul verwyt: dom, dom, dom. Dom om nie vanoggend Dirk se nugter rede te aanvaar en vandag se skof prys te gee nie.
“Kom ons stap dan eerder teerpad langs,” het hy ’n kompromis probeer tref. “Bergoor gaan baie moeilik wees in dié reën.”
“Dis veronderstel om moeilik te wees!” het ek hardkoppig my sin gekry. “Ons is op ’n pelgrimstog.”
“Jy lieg!” was my donker metgesel van die afgelope tyd onmiddellik daar om te treiter. “Nie net vir jou man nie, maar ook vir jouself. Jy’s nie op ’n pelgrimstog nie; jy’s op ’n kruistog.”
“En een wat ek gaan wen!” Maar selfs ék kon hoor die bravade in my stem was die leë lui van ’n simbaal.
Ek het van die begin af geweet die skof van Castro del Rio na Córdoba sou die moeilikste van die hele staptog wees. Maar teen dié tyd, was ek oortuig, sou ons lywe taai wees; in staat om die 39 km in een dag baas te raak. Boonop sou hierdie die laaste van die sewe skofte wees. Siel en liggaam kon tot hul limiet gestoot word, want aan die einde daarvan sou die rus volg.
Wat ek nie kon weet nie, was dat ’n onseisoenale koue front die suide van Spanje sou tref; met swaar sneeuneerslae op die Sierra Nevada en ’n stormsterk wind wat die reën nou reeds vir twee dae deur ons onvoldoende reënweerklere dryf.
“O, gaan julle die Camino stap?” wou ’n ieder en elk weet as hulle van ons planne gehoor het om in Spanje te kom stap. Wel, ja. Ons was van voorneme om van Granada tot in Córdoba te stap op ’n roete wat ’n deel van die Camino Mozárabe vorm. Maar nee, ons het dié weg bloot as ’n bestaande roete gekies.
Wanneer het ’n staptog vir plesier dan ’n pelgrimstog geword? Een wat tot alle prys volbring moet word?
“Die dag wat jy besluit het om mý aan te vat!” koggel die skadu.
Hy’s reg. Die dag toe ek van Hans se breingewas gehoor het, het wat bloot ’n roete sou wees ’n weg geword; ’n weg om vir ’n lewe te onderhandel. “As ek hierdie pad stap, O Heer, as ek wind en weer trotseer en ten spyte van swaarkry deurdruk en klaarmaak, sal U dan my vriend genadig wees?”
Maar vir ’n lewe moet ’n mens met Skoppensboer onderhandel.
In Sevilla, by die deur van die klein kapel van die Hospital de la Caridad, het hy my reeds kis onder die arm ingewag. Die vingers van sy linkerhand was om die bekende seis gekrul; die regterhand het bo ’n flikkerende vlam gedreig. Vir ’n lang oomblik het ons mekaar berekenend in die oë gestaar; syne twee leë poorte na die swart ewigheid.
“In ’n kérk sou ’n mens iemand anders kon verwag,” het ek bitter geappelleer. “Iemand genadig. Iemand regverdig …”
“Maar jy weet wat hulle sê, nè? Daar ís nie so iets soos regverdigheid nie. Daar’s net ek,” het hy vanuit die donker skildery gegryns en die vlammetjie met een benerige hand gedomp.
“Ons kruis die N432 hier voor iewers,” bring Dirk my terug na die hede. “Dit gaan baie makliker wees as ons eerder daarmee verder stap.”
Ek stem gelate in, maar ons keuse bring ’n volgende ellende. Swak sig en die feit dat dit in Spanje onwettig is om op die nasionale paaie te stap, veroorsaak dat ’n skel toeter elke dan en wan verontwaardig agter ons opklink.
“Só gaan ons nie in Córdoba kom nie,” probeer my lankmoedige man sy steekse wederhelf sin in die kop praat. “Sal ons nie maar op Espejo ’n bus haal nie?”
Ek gaan staan, lig die flap van die reënponcho op en kyk hunkerend terug nawaar die Sierra Nevada waarskynlik nog sigbaar sou gewees het as dit nie vir die grys reënsluier was nie. Gaan ek sowaar op die heel laaste skof uitgeknikker word?
“Kom nou,” pla my Nemesis. “Watter deel van hierdie hele onderneming sou jy bereid wees om oor te doen noudat jy weet wat op jou sal wag?”
Wat, inderdaad? Die fisieke ooreising wat ons lywe aan die einde van ons eerste skof tussen Granada en Pinos Puente onbedaarlik laat rittel het? Die wanhoop waarmee ons aan die voet van die bergdorp Moclín besef het dat ons, ná ’n uitmergelende dag se stap, ’n 800 m hoë berg sou moes bemeester om ons tweede bestemming te bereik? Die blase wat ek vir 22 km moes ignoreer omdat daar in die afgeleë wêreld op pad na Alcalá la Real geen apteek was nie? My voete wat ná ’n moordende 24 km so geswel was dat ek Alcaudette ietwat onwaardig moes inhobbel? Die moedeloosheid toe ons, tot in die murg toe moeg ná 25 km, geen slaapplek in Baena kon vind nie? Die sakke natgereënde klere waarmee ons Castro del Rio ingestrompel het?
“So wat is daar om te verromantiseer?” begaan my kwelgees egter ’n taktiese fout. Want opeens, in die miserabele grys van onthou, blom die helder kleure van soveel ander herinneringe: Die geur van ’n koppie café con leche voor ons ’n dorpie vroegdag verlaat. Die smaak van ansjovis of mossels wanneer ons vroegmiddag onder ’n olyfboom ’n blikkie vir ete oopsny. Die rooi van papawers in velde vol lentebloeisels. Die ewige klank van kabbelende waterstroompies. Die gekneusde reuk van ’n pas omgeploegde land. Die koper gloei van die ou Moorse kastele waaraan ons ons laatmiddag oor ’n glas vinos españoles kon verwonder …
Dit álles, inspireer Leipoldt meteens, kan ek speel op my tjienkerientjee.
“Maar wat kan jý speel?” troef ek na die man met die seis. “Níks … omdat jy leef sonder ’n hart in ’n wêreld sonder kleur. Níks, sou Leipoldt sê, omdat jy alles wat lewe en ly sonder gees moet bekyk.”
Maar dié enkele oorwinning is te skraal om die verwesenheid te besweer toe die bus se maag ’n paar uur later om ons rugsakke toesuig. Dit neem ons skaars ’n halfuur om die 26 km af te lê waaraan ons andersins ’n halfdag sou stap – vanaf Espejo na Córdoba. “Ons kon nie eintlik anders nie,” probeer Dirk rasionaliseer toe die son homself pervers ontbloot kort ná ons aankoms in dié ou Moorse stad. “Ons kon tog nie weet hoe lank die reën sou aanhou nie.”
Laatmiddag stap ons na die ou Romeinse brug af wat die grysgroen waters van die Guadalquivir span. Hoeveel pelgrims het oor die eeue reeds hierdie rivier op hul roete na Santiago de Compostela oorgesteek?
Iewers, in ’n parallelle werklikheid waar hoop die wanhoop altyd sal troef, is ek een van hulle; ’n peregrino wat die stryd gestry en die prys – ’n dierbare lewe – gewen het.
“Maar in hiérdie werklikheid is dit ék wat laaste lag.”
Daar is nie ’n druppel soet in hierdie beker gal nie.
Ek voer die kers aan die honger tentakel, wag tot die vlammetjie dapper ’n stukkie donker sluk voor ek dit na die ander brandende kerse oorstoot. Aan die rand van die uitdyende sirkel lig tree ’n skadu ongedurig terug.
Terug by my sitplek tel ek die gedenkblaadjie op. Op die foto sit Hans salig oor Voëlklipstrand se see en tuur. Hier in die kerk tuimel die laatmiddagson verby die Gotiese vensters en onder ’n smeersel goud begin die foto lewe. En, o, die heerlikheid van vlees en bloed; die hare wat die sonlig vang en weergee in ’n goue gloed …
“Ha!” verwyt ek, “Jy sit daar kompleet asof jy met vakansie is!”
Hans glimlag selfvoldaan. “Dis die perfekte oomblik, dié van sonsondergang aan die einde van ’n mooi dag.”
Agter hom begin die donker skadu monsteragtig groei. Onder sy arm dra hy ’n kis en sy vingers krul reeds om die seis. En die mantel om sy benerige skouers is geweef van die swart van eindes.
“’n Oomblik is egter in ’n oogwink verby, Hans!” waarsku ek.
“Dis nou maar so,” antwoord my lakoniese vriend terwyl die goud om hom vergrys. “Maar wie’t nou weer gesê? Against one perfect moment, the centuries beat in vain.”
Dis wie MY VRIEND was
Hans P Müller was voorsitter van die departement inligtingwetenskap en direkteur van die sentrum vir kennisdinamika en besluitneming aan die Universiteit Stellenbosch. In Maart 2013 is ’n aggresiewe breingewas by hom gediagnoseer. Hy het met behandeling begin in dieselfde tyd as wat ons met ons staptog begin het en is in November kankervry verklaar. Ses maande later was die gewas egter terug; groter en aggressiewer. Hans, moes ons almal aanvaar, was terminaal. Hy is op 14 Augustus, ses dae voor sy 52ste verjaardag, oorlede.
“Omdat jy alles wat lewe en ly sonder gees moet bekyk …” uit Plakkerslied van C Louis Leipoldt
“die heerlikheid van vlees en bloed; die hare wat die sonlig vang en weergee in ’n goue gloed …” uit Skoppensboer van Eugene N Marais.
“Against one perfect moment, the centuries beat in vain” uit Thief of Time van Terry Pratchett.