Sukkel jy om gehaltehuwelikstyd saam deur te bring te midde van al die eise wat ouerskap, werk en die lewe aan julle stel? Hier’s ’n paar lekker idees:
Shanda Luyt
– Sit een keer per week die kinders vroeg in die bed en bad saam terwyl julle oor jul dag gesels.
– Skep rituele van saamweestyd, byvoorbeeld om saam op die stoep te sit en koffie te drink voor die kinders opstaan of ná hulle gaan slaap het.
– Hou ’n afspraakaand in jul kamer met sjokolade en sjampanje.
– Vir ietwat ouer kinders, reël saam met vriende vir ’n baba-oppasser by een van jul huise. Die kinders sal die saamkuier geniet, dit spaar geld en julle kan elk jul eie afspraakaand geniet waar jy en jou maat weer bietjie in mekaar se oë kyk.
– Kies om af en toe alleen saam uit te gaan in plaas van saam met vriende.
– Doen take saam soos om skottelgoed te was of wasgoed op te vou in plaas daarvan om dit alles op te deel – dis lekker geselstyd.
– Doen takies vir mekaar om die ouerskapseise te verlig: Dis ware liefdesdade deur klein takies.
– Maak tyd vir pret saam met jou maat. Wissel gewone afspraakaande af met pretaktiwiteite wat julle saam doen sonder die kinders soos om saam ’n kookklas by te woon of ’n ent op jul bergfietse te gaan ry.
– Sit jul selfone af as julle saam tuis is en gesels gefokus met mekaar, al is dit net vir ’n kort rukkie.