In Vrouemaand kyk ons hoe vroue in die wetenskapveld verteenwoordig word. ‘n Paar vroue vertel
Deur DONNAY TORR
Dr Marina Joubert, ’n senior navorser
My pa was ‘n onderwyser en sy klaskamer was propvol interessante uitstallings. Ek dink ‘n onderwyser wat lief is vir wetenskap kan ‘n deurslaggewende rol speel om kinders ook nuuskierig te maak – en dis eintlik maar waaroor wetenskap gaan – nuuskierigheid om meer te weet en oor die wêreld om ons te leer, en om oplossings te vind om ons lewens beter te maak.
Toe ek (in 1987) vir ‘n nagraadse kursus in joernalistiek ingeskryf het, was dit vir sommige mense vreemd dat iemand wat wetenskap studeer het nou ook joernalistiek wou studeer. Vandag is dit baie algemener om wetenskap en kommunikasie te kombineer, want navorsers besef al hoe meer hoe belangrik dit is dat die breë publiek moet verstaan watter navorsing gedoen word en waarom dit belangrik is.
Ek het nooit uitdagings spesifiek aan vroue teëgekom nie, behalwe gedurende die jare wat my kinders nog klein was (veral voor hulle skool toe is). Dit was soms moeilik om voltydse werk- en reisverpligtinge te hanteer en mens moes maar opofferings maak. Ek sou nie in daardie jare my beroep kon beoefen sonder ‘n goeie ondersteuningsnetwerk nie, wat ‘n eggenoot wat ‘n gelyke vennoot was, ingesluit het.
Ek het in 2015 ‘n nasionale toekenning gewen vir my bydrae tot wetenskapkommunikasie in Suid-Afrika en dit het vir my baie beteken. Maar dit beteken vir my nog meer wanneer ‘n jong kollega of student my bedank vir my invloed op hul loopbaan en my laat weet dat ek hulle geïnspireer het om ook wetenskapkommunikasie as ‘n loopbaan te kies. Dit gebeur gelukkig van tyd tot tyd en gee my sommer weer nuwe moed en idees vir my navorsing en klasgee.
Elsabé Brits, ‘n wetenskapjoernalis
Ek was in die 1980’s op skool en om eerlik te wees, evolusie wat die kern van biologie en lewe op aarde is, is nooit aangebied nie. Ons het dus ’n skewe beeld gekry en my belangstelling was toe nie baie groot nie.
Ek dink die prentjie oor wetenskap wat as kind vir my geskep is, is dat dit baie moeilike, en redelik ontoeganklike werk is, veral vir ’n vrou. Ek het ook geglo jy moet superslim wees: dit is nie waar nie, jy moet net reg geleer word en ’n bepaalde manier van dink hê.
My keuse om wetenskapjoernalistiek te doen het ’n lang aanloop gehad. Daar is areas van bewese wetenskap waar mense steeds mites glo al is daar ’n magdom bewyse rakende die teendeel.
Die tientalle maniere waarop ons seksisties is, ook vroue teenoor vroue, is so diepgesetel dat mense nie eens meer agterkom hulle doen dit nie. Hulle besef nie watter wonderlike gelyke regte feminisme vir hulle gebring het nie, hulle sien net die woord en word kwaad sonder om ’n oomblik daaroor na te dink.
Mignon de Jager, ’n BscAgric-student
’n Stereotipe waarvan ek bewus is, is dat net “slim mense” ’n wetenskapgraad kan kry. Jy hoef egter net slim genoeg te wees om te weet dat jy moet sit en leer. Ek dink die meeste mense het die vermoë, dit gaan net oor of jy dit wil doen of nie.
Die belaglikste idee wat ek al oor vroue in STEM-velde gehoor het is dat vroue nie goeie ingenieurs is nie. ’n Vriendin wat chemiese ingenieurswese geswot het is altyd gevra om ander studente met hul skripsieprojekte te help, sodat hulle ’n onderskeiding kan kry. ’n Paar van my vriendinne moes ook hoor dat hulle net BSc swot om ’n man met ’n BSc-graad te kan trou.
Een van die uitdagings is om te leer hoe om met verskillende mense aan projekte te werk. Veral as jy die groepleier is en die meerderheid van die groep is mans. Dit is maklik om geintimideerd te voel, en jy is gewoonlik dan ook meer op jou hoede oor hoe jou werk beoordeel word. In so ’n situasie probeer ek net om minder selfbewus te wees en op my werk te fokus.
Jennifer Thomson, emeritus-professor
My ouers het my ten volle ondersteun. My pa was iemand wat altyd gesê het, doen net wat jy wil – as jy doen waarvoor jy lief is sal jy goed doen en gelukkig wees.
Ek was my studieleier se eerste PHD-kandidaat. Nadat ek by Harvard studeer het, het ek teruggekom en ’n werk by Wits gekry. My studieleier het my ’n werk in sy departement by Rhodes aangebied, maar ek het nee gesê, ek wou onafhanklik bly.
Later word hy toe die hoof van die mikrobiologie-departement by die Universiteit van Kaapstad, en besluit ná ’n paar jaar om ’n pos as adjunk-visekanselier te aanvaar. Sy pos was vakant, en drie mans binne die department het aansoek gedoen, maar hy wou my hê, want ek het al die jare onafhanklik gebly terwyl die ander almal onder hom gewerk het.
Dit was tydens apartheid, so omtrent 15 wit mans het die onderhoud met my gevoer en baie wou my beslis nie hê nie. Maar ek het die pos gekry en ’n groot sukses daarvan gemaak.
In 1996 het die regering die National Science and Technology Foundation begin, en ek en ’n vriend het besluit hulle het ’n vrouestem nodig, so ons stig toe SAWise: South African Women in Science and Engineering. Dit bestaan nou nog, en fokus daarop om vroue in akademiese instellings te bevorder.
Daarna is ek gevra om by OWSD in die Suid-Afrikaanse tak betrokke te raak … En skielik, uit die bloute, kontak die uitvoerende direkteur van die Wetenskapakademie (onder wie OWSD in Suid-Afrika setel) my en sê OWSD soek na ’n nuwe president, en stel ek belang? Ek sê toe vir hom: Is jy laf? Ek’s ’n wit vrou! Maar ek was aanvaar en ingestem – die ondersteuning wat ek tydens die betrokke vergadering gekry het, was ongelooflik.
SA vroue
- Die Suid-Afrikaanse plantfisioloog Jill Farrant – professor in die departement van molekulêre en selbiologie aan die Universiteit van Kaapstad, en in 2012 as L’Oréal-Unesco-wenner vir Vroue in Wetenskap in Afrika en die Midde-Ooste aangewys. “Die dooie plante op die klippe was lewend – maar Pappa wou my nie glo nie … ” het die negejarige Jill toe in haar dagboek geskryf.
- Glenda Gray, die president van die Mediese Navorsingsraad, is deur Time-tydskrif as een van hul invloedrykste mense aangewys.
- In 2005 is Wits se bevolkingsgenetikus Himla Soodyall met die Nasionale Orde van Mapungubwe (brons) vir haar wetenskaplike bydrae bekroon.
- ‘n Kankernavorser aan Rhodes-universiteit Tebello Nyokong is al met verskeie toekennings vir haar werk bekroon.
- Anusuya Chinsamy-Turan, ‘n dinosourus-deskundige aan die Universiteit van Kaapstad, is ‘n wêreldleier in haar veld.
* ‘n Span plaaslike wetenskaplikes het vroeër vanjaar nuwe hoop in die stryd teen kanker gebring. Prof Marianne Cronjé is een van die voorlopers en dr Zelinda Engelbrecht, ‘n postdoktorale student, was eerste outeur van die werk in ‘n akademiese tydskrif.
Ontdek meer
- Lees: Inferior: The True Power of Women and the Science that Shows It deur Angela Saini
- Kyk die fliek Hidden Figures
- OWSD (Organisation for Women in Science for the Developing World): https://owsd.net/
- ASAF (Academy of Science of South Africa): https://www.assaf.org.za/
- SAWISE (South African Women in Science and Engineering): http://www.sawise.uct.ac.za/
- UN Women: http://www.unwomen.org/en
- Gendered Innovations: http://genderedinnovations.stanford.edu/index.html
- UNESCO Women in Science: http://uis.unesco.org/en/topic/women-science
- South African Young Academy of Science: http://www.sayas.org.za/
- Soek: Corlia Meyer, Lars Guenther & Marina Joubert (2018): The Draw-a-Scientist Test in an African context: comparing students’ (stereotypical) images of scientists across university faculties, Research in Science & Technological Education. https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/02635143.2018.1447455