Kan ‘n mens ooit genoeg vir jou aftrede spaar? JB Roux praat met twee kenners . Hier is nog raad
Moenie op jou pensioen staatmaak nie
In Retire Rich Through Property skryf Jason Lee daar is veral twee redes hoekom die aftreevoordele wat werkgewers bied, selde ’n sorgvrye aftrede waarborg.
“In die eerste plek is die maandelikse pensioenuitbetalings ongeveer 30% minder is as jou salaris. Afgesien daarvan dat jou inkomste met amper ’n derde gaan daal, verloor jy ook voordele soos behuising en ’n motortoelae – dit maak jou situasie selfs meer benard.
“As jy nóú jou uitgawes en inkomste met mekaar vergelyk, sal jy waarskynlik sien dat jou inkomste skaars genoeg is om jou uitgawes te dek. Waar plaas dit jou wanneer jy ná aftrede 30% minder verdien en jou byvoordele weggeneem is? As jy nou reeds swaarkry, hoe moeilik gaan die lewe nie wees ná jou aftrede nie?
“Daar is net een manier om met dié vermindering in jou inkomste te oorleef en dit is om jou lewensgehalte drasties in te kort – en dan is dit tot daarnatoe met jou droom om ná aftrede die soort lewe te lei wat jy nog altyd wou hê. Jy sal skielik finansieel weerloos voel en jou sente moet omdraai.
“Die tweede rede is dat die aftreevoordele wat werkgewers bied, selde met inflasie tred hou. Om dit eenvoudig te stel: inflasie kan veroorsaak dat R100 binne tien jaar slegs R50 werd is, afhangende van die inflasiekoers oor dié tyd. Vir ’n uiterste voorbeeld van hoe inflasie die waarde van jou geld kan laat krimp, kan ’n mens net kyk wat met Zimbabwe gebeur het.
“Daar is selde enige waarborg dat aftreefondse met inflasie sal tred hou. Dis hoekom jy beheer oor jou beleggings moet hê en jou beleggings inflasie moet kan klop.”