Die feestyd beteken nie noodwendig dat jy skuld hoef aan te gaan nie, skryf Ansja Ferreira
Volgens ‘n opname deur CreditDonkey gebruik 37% van mense hul kredietkaarte om hul feestyduitgawes te finansier. “Geld is nie beskikbaar nie aangesien die ekonomie in ‘n afwaartse neiging is,” sê Connie Bruwer, ‘n geoktrooieerde rekenmeester.
“Oorbesteding en onderbegroting is die grootste foute wat mense hierdie tyd van die jaar maak,” sê hy. “Die rede daarvoor is waarskynlik dat mense nie dink wat hulle doen nie. Hulle ontvang in Desember hul jaarlikse bonus en skielik lyk dit vir hulle asof hulle baie geld het.
“Hulle koop dan te veel en koop ook op skuld en met hul kredietkaarte. Hulle dink glad nie aan uitgawes wat hulle Januarie moet dek nie, soos skoolgeld en skoolklere nie. Wanneer Januariemaand kom, kan hulle dan nie hul finansiële verpligtinge nakom nie en kan dit tot ‘n bose skuldkringloop lei,” sê Connie.
Izak Strauss, ‘n welvaartsafrigter, gee die volgende wenke om met jou besteding tred te hou:
- Eerstens moet jy weet wat jou inkomste is.
- Tweedens, ken jou basiese maandelikse uitgawes soos huur, voertuigpaaiemente, versekering en mediese fonds.
- Wees bewus van alle ander uitgawes deur jou bankstate na te gaan of alle betaalstrokies te hou.
- Stel dan ‘n begroting op in ooreenstemming met bogenoemde en bly daarby.
- Daar is toeps soos soos Mint.com, PocketMoney, Spending Tracker, Good Budget, Mvelopes, BillGuard en Pocket Expense om jou werklike kontantvloei, deposito’s, uitgawes, kredietkaartskuld en ander beleggings te sien. Hierdie formaat is uitstekend veral wanneer jy jou debiet- of kredietkaart vir alle aankope gebruik, maar dit werk ook met kontant, solank as wat jy elke aankoop invoeg om bygereken te word.
Werk só jou Kersbegroting uit
- Die eerste stap is om ‘n lys op te stel van al die mense vir wie jy geskenke wil gee soos jou gesin, familie, vriende, kollegas, jou huiswerker, onderwyseres en bure.
- Nou moet jy bereken hoeveel geld jy tot jou beskikking het vir geskenke en dan hoeveel geld jy op elke persoon gaan uitgee. As jy agterkom dat jy nie genoeg geld gaan hê nie, moet jy jou lysie aanpas en miskien van die name op die lysie skrap en vir hulle dalk net ‘n kaartjie of klein geskenkie gee.
- Breek jou uitgawes op. As jy met vakansie gaan, maak voorsiening vir brandstof, verblyf, sakgeld, etes en uitgawes by jou huis soos sorg en kos vir troeteldiere en iemand wat na jou huis of blyplek gaan kyk. As jy nie op vakansie gaan nie, maak voorsiening vir ekstra uiteet en gesinsuitstappies wat oor die feestyd gaan plaasvind. As jy ‘n huiswerker of tuinwerker, moet jy jou werker se bonus ook inreken as jy een gaan gee.
- Stel voor die Kerstyd’n begroting op. Maak in jou begroting vir geskenke, onthaal, vakansie-akkommodasie en reiskoste voorsiening. As jou begroting nie klop nie en jy agterkom dat jy skuld sal moet aangaan om alles te kan bekostig, sal dit beter wees om af te skaal en aan jou geskenke, onthaal en vakansiekostes te sny.
- Wees eerlik met jou familie en stel dit duidelik dat jy probeer om nie onnodige skuld aan te gaan nie en dat jy net kleiner geskenke gaan gee of selfs geen geskenke nie. Almal gee nie geskenke nie. Kommunikeer vroegtydig met familie en vriende. Tref vroegtydig reëlings met jou familie en jy sal vind dat dit julle almal sal baat.
- Deel onthaalkostes met familie en vriende. Groter families kan reël dat elke gesin een gedeelte van die ete saambring, byvoorbeeld een gesin bring die voorgereg, ‘n ander bring ‘n vleisgereg, ander bring bykosse en ‘n ander bring nagereg. So eet almal lekker saam maar teen ‘n laer koste.
- Gebruik jou bonus wys. Betaal eerstens jou skuld af, gebruik van jou bonus om geld weg te sit vir ‘n neseier wat jy in tye van nood kan gebruik, bepaal watter kostes daar vroeg in die jaar gaan wees soos skoolgeld, skoolklere, jaarlikse fooie, noodsaaklike herstelwerk by jou huis en voertuig en so meer. Hou hierdie geld eenkant sodat jy nie Januarie skuld hoef aan te gaan om hierdie uitgawes te kan dek nie.
Kontak Izak Strauss by [email protected] of besoek izak strauss ; besoek www.pcbruwer.co.za