‘n Pa se inset in die lewenslegkaart van ‘n kind is net so belangrik soos die ma’s s’n. As ‘n pa afwesig is of die verhouding ongesond is, bly daar ‘n leemte. Dit is een van die motiverings vir die stigting van The Fatherhood Fondation of SA wat deur die akteur Zane Meas ondersteun word.
Elize Perrin
Die genoemde organisasie wil juis poog om die omstandighede van gemeenskappe te bevorder deur pa’s aan te moedig om weer betrokke, verantwoordelike en liefdevolle pa’s te wees.
Maar hoe voel die pa’s oor vaderskap?
Die sanger Jak de Priester is die trotse pa van drie woelwaters. Hy erken dat vaderskap sy hele lewe verander het. “Vaderskap het my geleer dat ek nie meer die belangrikste mens in my lewe is nie,” sê hy. “Vaderskap leer my van God en my afhanklikheid van iets groters. Dit leer my wat onvoorwaardelike liefde is. Vaderskap maak die wêreld waarin ons leef die moeite werd.” Hy bieg dat ‘n pa se liefde so intens is, dat dit jou weerloos laat. Volgens hom leer ‘n pa ook vinnig hoe belangrik tyd is.
Vir die man agter die stem van RSG se Omgewingspraatjies op ‘n Saterdagoggend, prof Kobus van der Walt, is vaderskap die grootste verantwoordelikheid op aarde. Hy wys daarop dat jy so tussen 15 en 16 jaar het om ‘n kind te probeer vorm. “Daarna moet jy terugsit en kyk of jy geslaag het.” Volgens hom is die moeilike deel wanneer sy kinders seerkry in verhoudings of teleurstellings beleef en hy nie antwoorde of trooswoorde het nie. “Die besef dat ‘n kind jou sien as sy of haar versorger, sekuriteit, vertroueling – eintlik sy of haar hele lewe – is soms oorweldigend, want ek is maar net ‘n swak mens vol foute en gebreke.” Skertsend wys hy daarop dat kinders (waarvan hy drie het) ook baie duur is. “Kinders sien ‘n pa meestal nogal soos ‘n persoonlike kitsbank.” Hy beklemtoon egter dat dit ‘n wonderlike seën en voorreg is om ‘n pa te mag wees.
Wynie Strydom beaam dat vaderskap ‘n voorreg is. Wynie is die voormalige spanbestuurder van die Blou Bulle en Bulls. Dit is die man wat so opgewonde langs die veld kon raak. Oor vaderskap is hy ook opgewonde en beskou dit as ‘n groot voorreg om pa van drie kinders te kan wees. “Een vir my, een vir my vrou en een vir die land,” skerts hy. Hy stem saam dat vaderskap saam met ‘n groot verantwoordelikheid kom. Die geboortedag van elk van sy kinders beskryf hy as ‘n wonderwerk. “Ek het onder die besef gekom dat God nie doubles maak nie,” sê hy. “Elke kind is so uniek dat dieselfde opvoedingsresep nie vir almal gaan werk nie. Dit maak pa-wees so opwindend en uitdagend!” Wynie noem dat die pad wat hy saam met sy kinders deur die verskillende fases in hul lewens kon stap vir hom die hoogtepunt van vaderskap is. Hy is wel spyt dat hy nie meer tyd saam met elkeen van hulle kon deurbring nie. “Die sielsvreugde wat elkeen van hulle vir my in herinneringe vasgelê het, maak nou van my ‘n ryk man en dit gee sin aan my lewe.”
Nalatenskap
Gedurende sy reise koop Jak graag vir sy kinders kunswerke en skryf hul name met die datum agterop. “In ‘n materialistiese wêreld sal ek graag vir hulle spesiale goedjies, soos die kunswerke wil agterlaat,” sê hy. “Dit is ook lekker om te weet ek skryf vir hulle liedjies wat hulle steeds kan luister as hulle groot is en ook kinders het; selfs lank ná my dood.” Jak beklemtoon egter dat die dinge slegs ‘n bonus is. “Al wat regtig belangrik is, is dat hulle ons verhouding sal onthou. Hulle moet weet dat ek hulle liefgehad en aanvaar het net soos hulle is, dat ek hulle ondersteun het en vlerke gegee het.” Vir hom is herinneringe van hulle as ‘n gesin saam, ‘n belangrike nalatenskap. “Ek wil hulle op hierdie aarde leer om lief te wees vir hulle kultuur, hul taal, hul land en hul familie,” sê hy. Hierdie pa hoop dat hulle hom sal onthou as ‘n positiewe mens wat ook planne kon maak.
Kobus vertel dat hy reeds ‘n deel van dit wat hy vir sy kinders wou nalaat, kon regkry. Hy het hulle aangemoedig om elkeen ‘n professionele beroep te kies en om die beste wat hulle kan in hul beroep te wees. “Al drie het mooi vir my geluister,” sê hy. “Ek is dus tevrede dat my nalatenskap wat kwalifikasies betref, goed is.” Dit wat vir hom werklik belangrik is, is dat hulle kinders van die Here moet wees.
“Ek sal graag wil hê dat my kinders my moet onthou as iemand wat net ‘n doodgewone mens was. Iemand wat met oorgawe geleef het en alles probeer doen het wat hier op aarde moontlik is; iemand wat die lewe met ‘n lag begroet het en probeer het om ‘n goeie mens te wees, maar ook iemand wat foute gehad het.”
Vir die Strydoms is Sondae gesinsdag. Met die kinders wat almal steeds in die omgewing woon, sit hulle die tradisie voort. “My wens is dat hul kinders eendag net soveel vreugde vir hulle sal inhou en net soveel mooi herinneringe vir hulle sal nalaat as wat hulle vir my gegee het,” sê Wynie. Hy moedig jong pa’s aan om hul kinders te geniet en by hul kinders se lewens betrokke te wees. “Jy behoort meer tyd aan jou kinders as aan jou werk te bestee, want die herinneringe wat kinders agterlaat is kosbaar!”
Eie herinneringe
Jak se onthou van sy eie pa is dat laasgenoemde streng en hardwerkend was. “En hy het ‘n Sondagmiddagslapie geniet,” voeg hy by.
Kobus vertel van die keer toe hy saam met sy pa TV gekyk het. “Destyds het die horlosie die laaste tien sekondes tot by die nuus afgetel. Ons het albei gesit en kyk hoe die sekondes aftik toe my pa uit die bloute sê: ‘Elke sekonde is ‘n ewigheid. Jy kry dit nooit weer terug nie.’ Hierdie opmerking het my lewe van daardie oomblik af gerig,” sê hy.
Kobus het besef dat die lewe op aarde nie ‘n kleedrepetisie is nie. ‘n Tweede kans is daar nie. Sy pa stap nou reeds 81 jaar die lewenspad. “Ek eer en respekteer my pa, want soos ek self ouer word, besef ek elke dag meer en meer hoe groot sy invloed in my lewe was.”
Soos baie kinders was Wynie se pa kleintyd vir hom die slimste en sterkste. “Dink ek nou terug aan my oorlede pa, Hendrik, onthou ek ‘n baie wyse man wat altyd die antwoorde gehad het. Ek kon nie verstaan dat hy so baie weet nie. Hy kon oor enigiets gesels,” vertel hy. Vandag besef hy dat dit sy pa se liefde vir lees was wat tot sy kennis bygedra het.
Lees meer:
www.fatherhoodsa.com