Voel jy of chaos jou verswelg? Ruk dit só reg
Vrouekeur-span
Dis weer blou Maandag. Ná ’n verwoede geskarrel om almal aangetrek en uit die huis te kry sodat jy hierdie keer be tyds by die werk kan wees vir daardie vergadering, ontdek jy jou karsleutels is weg. Jy wéét dis iewers in die huis, maar waar? As jy dit uiteindelik kry, is jy ’n kwartier laat, het jy klaar ’n vuil kol op jou klere en lyk jou huis of rowers dit geplunder het. Ontsnap uit die chaos en gryp ’n beter georganiseerde lewe aan. Dis glad nie so moeilik nie …
1 Beplan slim. Deur ’n paar minute ’n situasie goed te deurdink sodat jy presies weet wát jy wil bereik en hóé jy dit wil bereik, kan jy take vinniger, makliker en meer doelgerig aanpak en klaarmaak.
2 Gebruik tien minute aan die begin van die maand om belangrike datums op ’n kalender aan te bring. Kry ook ’n gesinskalender waar alle gesinslede hul belangrike datums kan aanteken. Gebruik nog tien minute aan die begin van elke week om vir die week te beplan.
3 Gebruik elke oggend, of die aand tevore, vyf minute om jou dag te beplan. Stel vaste tye vir bepaalde take vas, maar los genoeg tyd oop vir onvoorsiene situasies en versoeke. As jy dink iets gaan vyf minute neem, sit tien minute opsy!
4 Bou vir jouself tyd in by jou rooster . Anders moet jy dit iewers afknyp en dan voel jy onnodig skuldig.
5 Skeduleer kreatiewe of moeiliker take vir die tyd van die dag wanneer jy op jou produktiefste is. Los roetinewerk vir die tye wanneer jou voete sleep.
6 Moenie bang wees om nee te sê nie. Jy het net 24 uur in jou dag. ’n Rooster sal dit vir jou makliker maak om eerlik te sê jy kan nie help nie.
7 Gaan soggens ’n halfuur vroeër werk toe en benut hierdie stil tyd om werk sonder onderbrekings af te handel.
8 Gebruik doen-lysies. Stel ’n maandelikse lysie op vir langtermyntake asook ’n doenlysie vir elke dag. Werk doelgerig om dit af te handel.
9 Prioritiseer die take op jou lysie. Soms is dit goed om eers ’n paar klein goedjies te doen sodat jy voel jy het iets bereik, maar moenie groot take te lank uitstel nie.
10 Moenie probeer onthou nie: skryf neer! Maak gebruik van jou dagboek of rekenaar om al jou belangrike goed neer te skryf.
11 Moenie telefoonnommers en inligting op los stukkies papier skryf nie.
12 Dra ’n notaboekie en pen oral met jou saam. Skryf dadelik alles neer wat jy onthou – van telefoonnommers tot afsprake. ’n Elektroniese sakorganiseerder help ook.
13 Gebruik plakbare notatjies op jou yskas en voordeur om jou te help onthou.
14 Stel jou selfoon om jou aan spesiale geleenthede te herinner.
15 Gebruik die internet vir rekeningbetalings eerder as om in toue te staan.
16 Stel ’n eenvoudige liasseerstelsel in plek wat vir jóú werk.
17Staan elke dag ’n paar minute aan papierwerk af. Die goue reël is om elke stuk papier net een of twee keer te han teer. Gooi alle gemorspos dadelik weg, teken belangrike datums onmiddellik aan en liasseer die res dadelik.
18 Organiseer jou e-pos met sublêers en sorteer e-pos soos dit inkom, sodat jy nie deur e-pos na iets hoef te soek nie.
19 Moenie uitstel nie – ’n daaglikse klein takie kan in ’n oorweldigende taak ontaard as jy dit ’n paar dae uitstel.
20 Koop jouself om. Beloof jouself iets lekkers as jy ’n TV-program mis om jou administrasie op datum te kry.
21 Delegeer! Delegeer! Delegeer!
22 Breek groot take in kleiner, hanteerbare stukke op as jy oorweldig voel.
23 Ontwikkel goeie gewoontes, soos om dadelik as jy tuis kom jou sleutels op te hang. Studies wys gedrag raak gewoontes as jy dit 21 dae aanmekaar doelbewus en kon sekwent toepas.
24 Bêre goed dadelik as jy dit klaar gebruik het.
25 Berei die vorige aand voor vir die vol gende dag. Dek die ontbyttafel en laat die kinders hul klere regsit. Kalm begin is half gewin.
26 Kry vir elke ding ’n vaste bêreplek. Merk die bêreplekke vir ’n paar maande indien nodig en dring daarop aan dat gesinslede dit gebruik. Bêreplekke moet logies geplaas, maklik herkenbaar en toeganklik wees.
27 Organiseer jou huis prakties. Beland die klere op die vloer omdat die wasgoedmandjie te ver staan? As die tyd skrifte iewers ophoop, het jy dalk ’n tydskrifrak daar nodig.
28 Skaal af. Hoe eenvoudiger jou lewe, hoe makliker om te organiseer.
29 Dis beter om min goed te hê wat alles gebruik word as baie waarvan jy die helfte nooit gebruik nie. Raak van enigiets ontslae wat nie meer gebruik word of nie meer werk nie.
SOURCES
pexels.com