Die rede hoekom sy nie vriende gehad het nie, was eintlik maar omdat sy nooit gedink het sy het iets om enigeen te bied nie
Maretta Bellingan
Ons almal wil graag hê dat daar ’n rede vir ons bestaan moet wees. Nie almal kan ’n uitmuntende atleet, ’n gewilde sanger of bekende model word nie, maar met die verloop van tyd vind ons tog op ’n manier ons plekkie in die son.
Tillie Visagie was niemand se niks nie. Sy was ’n weeskind wat nooit regtig iewers ingepas het nie. Op skool het sy nie in die akademie uitgeblink nie, sy was glad nie sportief nie en in haar enigste skoolkonsert was sy ’n boom, ook net omdat die kind wat aanvanklik die boom sou gewees het, pampoentjies gekry het. Maar Tillie was oortuig dat haar dag sou kom – iewers op haar lewenspad sal sy tot haar reg kom en die erkenning en liefde kry waarna sy haar hele lewe lank gehunker het, én wat sy verdien het.
Toe Tillie ná 27 jaar goeie diens weens regstellende aksie by die plaaslike munisipaliteit afgedank is, was sy nie meer so seker daarvan nie. Sy’t haar koffiebeker en “Charlie” se foto in haar handsak gedruk en die kantoordeur agter haar toegemaak. Buite op die sypaadjie het sy die foto in ’n asdrom gegooi en reguit Spur toe geloop waar sy ’n wafel met ekstra room bestel het.
Charlie is haar kamma-verloofde wat sy geskep het sodat haar kollegas moet dink sy het ook ’n regte lewe. Charlie, wat veiligheidswerk in Iran gedoen het, het elke jaar op haar verjaardag vir haar blomme gestuur, hy’t vir haar ’n verloofring by Sterns gekoop en een keer per jaar het hulle saam op die een of ander eksotiese plek gaan vakansie hou. Drie weke lank het sy haar in haar eenslaapkamerwoonstel toegesluit, te bang dat sy dalk iewers in ’n kollega gaan vasloop en drie weke lank het sy koek gebak, die enigste ding in die lewe waarvoor sy werklik ’n passie gehad het. Dis ook dié liefde wat meegebring het dat Tillie haar klere in die laaste jare in die mansafdeling gekoop het.
Tillie was nie ’n onaangename mens nie. Die rede hoekom sy nie vriende gehad het nie, was eintlik maar omdat sy nooit gedink het sy het iets om enigeen te bied nie. Mense het uitgereik na haar, maar sy’t altyd ’n verskoning gehad. Later het die uitnodigings opgedroog en mense het aanvaar dat Tillie wat so lekker koek bak, seker maar haar eie geselskap verkies. En hoe ver van die waarheid af was dit nie! Maar dis die lewe wat Tillie Visagie vir haarself geskep het en dis die lewe waarin sy veilig gevoel het. Tot en met die dag dat meneer Tshabalala haar ingeroep het met die nuus. “I’m so sorry, miss Visagie, but we have to let you go.”
Die kelner het die wafel voor Tillie neergesit, maar skielik was sy glad nie meer lus daarvoor nie. Sy’t haar rekening betaal en huis toe gestap. Dié aand het sy ook nie soos gebruiklik die meel en eiers uitgehaal en ’n koek gebak wat jy myle ver kon ruik nie, sy’t sommer met haar klere in die bed geklim. Terugskouend sal sy erken dat dit die begin van ’n donker tyd in haar lewe was. Tillie, wat aan ’n grys lewe gewoond was, het die donkerte omhels. Sy was so gewoond daaraan om niks te wees en van niks te droom nie, dat hierdie intense mistroostigheid vir haar ’n vreemde, maar tog opwindende, nuwe ervaring was. Tillie het nie meer kerk toe gegaan nie, sy’t elke dag dieselfde klere gedra en die hartseerste van alles, sy’t nie meer gebak nie.
Maande lank het Tillie net asemgehaal en so nou en dan die TV aangeskakel. Tillie het gehoop dat sy een oggend net nie sou wakker word nie. En toe sien sy een aand ’n advertensie vir ’n kompetisie op TV. “Is jy Suid-Afrika se beste koekbakker? Kom bewys dit aan ons en wen reusepryse.”
Tillie het instinktief ’n pen gegryp en die besonderhede neergeskryf. Toe het sy omgedraai en vir haar ’n bad gaan tap. Die volgende dag het sy haar vliegkaartjie bespreek en reëlings getref vir iemand om haar na die lughawe toe te neem. Sy het die winkels ingevaar en nuwe klere gekoop, in die vroue-afdeling, en haar hare laat sny en kleur. Op pad huis toe het sy na die weerkaatsing van die vreemde vrou in die winkelvensters gekyk en skielik het die donkerte verdwyn. Op die dag van haar vertrek het die lugdiens haar in kennis gestel dat daar stakings is en dat haar vlug gekanselleer is. Dit was net ’n droom, het Tillie gedink, ’n simpel, onmoontlike droom en die telefoon neergesit. Sy was besig om haar tas weer uit te pak, toe sy besluit om die busdiens te bel. Dieselfde aand het sy met ’n kloppende hart op die bus geklim. Daar het reeds ’n man in die sitplek langs haar gesit. Hulle het begin gesels en ure later, toe almal reeds slaap, het hulle steeds gesels. Iewers het die bus gestop en die man, ’n wewenaar wat op pad was om vir sy dogter te gaan kuier, het gevra of hy vir haar ’n koeldrank kan koop. Toe hy opstaan, het hy sy hand uitgesteek. “Jy moet dink ek het nie maniere nie. Charles Bouwer, bly te kenne. My vriende noem my Charlie.”