Carinda Habig is eers op 28 met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) gediagnoseer. Sy vertel in ons 30 Oktober-uitgawe meer oor haar pad en die skool wat sy gestig het om hierdie kinders te help. Hier wys sy ’n paar wanpersepsies oor kinders met AGHS uit.
Wanpersepsies OOR AGHS
o Hulle is bloot stout. As gevolg van ‘n neurochemiese wanbalans in die brein veroorsaak dit AGHS-lyers baie swak impulsbeheer het. Sulke kinders is konstant in die moeilikheid omdat hulle inderdaad nie kan stop en dink nie.
o Hierdie kinders moet net gefoeter word. ‘n Pak maak op die meeste AGHS-kinders geen indruk nie.
o Kinders met AGHS is dom. Baie mense dink dat omdat hul kind ‘n gemiddelde of selfs hoë IK het, hy of sy beslis nie AGHS kan hê nie. Dis vals.
o Kinders met AGHS kan nooit lank op iets gefokus bly nie. Hulle kan vir ure gefokus bly op dinge wat hulle werklik interesseer, maar dis gewoonlik nie skoolwerk nie.
o AGHS verdwyn sodra hulle volwasse word. Die simptome kan wel verminder en lyers leer om aan te pas. Emosionele intelligensie verhoog wat help om sekere take beter te kan aanpak en uitvoer, maar AGHS word nie “ontgroei” nie.