Richard van As gesels in ons 30 Mei-uitgawe oor Robohand, ‘n projek wat ‘n groot verskil in mense se lewe maak. Kyk hier na ‘n paar van die algemene vrae wat Richard ontvang.
LINDI HERBST
Hoe gou ná ‘n besering kan ek ‘n Robohand kry?
Mense verskil, maar dit word aanbeveel dat die wond eers volkome herstel het, jy geen sensitiwiteit aan die beseerde hand ervaar nie en die swelling heeltemal gesak het. Jy moet ook eers geassesseer word om vas te stel of jy ‘n geskikte kandidaat is.
Op watter ouderdom kan ek ‘n Robohand kry?
Vir kleiner kinders word dit tussen twee- en driejarige ouderdom aanbeveel. Dit hang ook af van die grootte van die hand wat benodig word – hande kan nie te klein gemaak word nie omdat dit nie so goed funksioneer nie. Jy is nooit te oud om ‘n Robohand te kry nie.
Hoe weet ek of ek ‘n kandidaat is vir ‘n Robohand?
Jy moet minstens 30º-beweging in jou gewrig hê en geassesseer word om te bepaal of jy geskik is.
Hoeveel vingers moes ek verloor het voordat ek ‘n Robohand kan kry?
As jy slegs een vinger verloor het, sal jy vir ‘n Robofinger oorweeg word. Vir meer as een vinger, sal jy ‘n Robofinger of Robohand kan kry. As jy al jou vingers verloor het, is ‘n Robohand die enigste opsie.
Wat is die proses om ‘n Robohand te kry?
As jy nie ‘n 3D-drukker het nie, kan jy ’n e-pos stuur aan [email protected] – ‘n vorm sal aan jou gestuur word, wat jy moet invul en terugstuur. Daarna sal ‘n assessering op jou uitgevoer word.
Wat is ‘n Roboarm en Robofinger?
As jou amputasie bo jou gewrig is, sal jy waarskynlik ‘n kandidaat vir ‘n Roboarm wees. Dit vereis dat jy steeds ‘n klein deel van jou arm onder jou elmboog het en dat jy ‘n 30º-buigaksie met jou elmboog kan uitvoer. As jou amputasie bo jou elmboog is, sal jy fisiek ‘n assessering moet ondergaan om vas te stel hoe die Roboarm geheg gaan word. ‘n Robofinger is oorspronklik ontwerp met ambagsmense in gedagte, wat beteken dit moet sterk genoeg wees vir ‘n persoon om fisieke werk daarmee te kan doen.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na [email protected], [email protected] of besoek
www.facebook.com/robohandsa of bel 074 104 1847. Lees meer in die 30 Mei-uitgawe op bl 12.