Alexander Mickel is ’n Duitser wat Suid-Afrika nog nooit besoek het nie, maar hy het dit reggekry om homself Afrikaans te leer
Deur THERESA VAN BAALEN Foto VANESSA LY PHAM
Alexander Mickel van Duitsland is passievol oor Afrikaans. Hy is in Halle gebore, maar het op ’n klein dorpie grootgeword. “Ek is mal oor die natuur en dus het ek begin biologie studeer en my eerste graad in dié vak behaal. Daarna het ek omvattende navorsing gedoen op ’n swam wat mielies besmet en aan die Martin-Lutheruniversiteit Halle-Wittenberg my doktorsgraad in plantpatologie verwerf. Ek is baie goed opgelei en beskik oor kennis in molekulêre biologie, epigenetika, mikroskopie van swamme en besmette plante en ek het met swamdoders gewerk. Ná universiteit het ek verder in die bestuur van gehalte en goeie vervaardigingspraktyk (GMP) gekwalifiseer. Tans werk ek by ’n maatskappy op die gebied van gehalteversekering van medisyne.” Hoewel die veld waarin hy werk, niks met Afrikaans te doen het nie, sê hy dié taal het hom gevind en nooit weer gelos nie. “Dit het met ’n samewerking tussen die universiteite van Halle-Wittenberg en Stellenbosch begin. So het ek in 2013 vir die heel eerste keer met Afrikaans in aanraking gekom toe twee Afrikaanssprekendes Halle toe gekom het. Hulle het gesels en toe dink ek dit klink baie snaaks! Ek het ’n paar woorde geleer en hoe om te tel. Ek het maar eers later begin om uit oefenboeke te leer. Alexander beantwoord nog vrae.
Ek wil graag my Afrikaanse droom verder kan uitleef, wonderlike mense leer ken, die taal ondersteun en bevorder en ’n goeie Afrikaanse ambassadeur wees
Jy kan in Afrikaans lees en skryf, maar is jy gemaklik met die uitspraak van woorde, en kry jy ooit die geleentheid om dit te praat?
Ongelukkig is daar min geleentheid om Afrikaans te praat. Uitspraak is iets waarmee ek nog sukkel. Ek kon nooit gereeld oefen nie. Ek het al baie probeer om Afrikaanssprekendes te vind. Ek het vir die universiteite in Halle (Saale) en Leipzig en verskeie wetenskaplike institute geskryf, maar ek het nie sukses behaal nie. Toe vind ek per ongeluk iemand in my stad. Ons het al ’n paar keer ontmoet, maar ongelukkig het ons min tyd vir kuiers. Daar was een aand ’n vergadering en ek sien toe op die plakkaat daar is ’n Suid-Afrikaner met ’n Afrikaanse naam. Ek het hom gevra: “Kan u asseblief met my Afrikaans praat?” Sy mond het opgehang en toe begin hy lekker lag. Dit was baie snaaks. Verder kon ek ’n Afrikaanssprekende nagraadse student in Leipzig ontmoet. Ek gebruik elke kans om iemand te ontmoet met wie ek Afrikaans kon praat. Die mense met wie ek gesels, sê darem my gesproke Afrikaans is goed!
Hoe het jy die taal aangeleer en watse raad het jy vir mense wat ’n nuwe taal wil leer praat?
Vind vreugde in dit wat jy doen. As jy keelvol is vir iets, sal jy nooit daarin kan presteer nie! ’n Mens moet met geesdrif vervul wees. Ek het nie ’n ander verklaring nie, want ek het byvoorbeeld nooit ’n Afrikaanse woordelys geleer nie. As mens ’n doktorale student is, is daar nie baie kanse om jou tyd aan ander dinge te bestee nie. Bakterie, swamme of enige selle ken glad nie naweke nie. Maar een van my eienskappe is dissipline. Ek het elke dag saans by die huis een of twee lesse Afrikaans uit Engelse oefenboeke geoefen. Daarna het ek begin boeke lees. En het nie ophou lees nie – gereelde toepassing is die geheim. Ek het al hoe gemakliker geraak sodat ek nou sukkel om iets in Engels te skryf. Daar is baie dinge wat ek veel beter in Afrikaans kan uitdruk. E
k het jou op Lekkerlees Boekrak op Facebook leer ken. Hoe het jy die Boekrak ontdek, en hoe vind jy die mense daar se reaksie teenoor jou?
Ek kan nie eintlik onthou hoe ek daar beland het nie, ek het dit óf toevallig gevind óf is ek genooi om deel van die Boekrak te wees. Ek het daar my Duitse uitgawe van Agaat deur Marlene van Niekerk geplaas. Daar was baie positiewe kommentaar op my plasing. Ek het mense genooi om op my Facebook-blad te kuier, want ek het daar al my Afrikaanse boeke geplaas. Ek is mal oor boeke en het laat weet ek sukkel baie om Afrikaanse boeke te kry. Toe is daar verskeie mense wat gratis vir my ’n Afrikaanse boek gestuur het. Marion Erskine het byvoorbeeld sy nuwe boek Vlerke vir almal vir my gestuur en daar was ’n baie oulike vrou wat ’n boek saamgevat het Duitsland toe en dié vir my gepos het. Tans is daar weer mense wat beplan om vir my iets te stuur. Ek het sulke wonderlike mense leer ken. Ek word lekker bederf hierdie kant.
Watse interaksie het jy al met die Afrikaanse media gehad, bo en behalwe jou kuiertjies op Facebook?
Ek moes myself ’n bietjie help om by julle bekend te word. Ek het eers vir lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geskryf. Ek wou graag meer mense bereik en toe vind ek Maroela Media en verskeie taalorganisasies. Ek het vir hulle my storie vertel en hulle het dié vir ander platforms aangestuur. In een woord gesê: sneeubaleffek. Daar was ’n hele paar reaksies en niemand kon glo ek het myself Afrikaans geleer nie. Mense was verstom oor my vlak van Afrikaans. Brigitte Rath het vir my geskryf: “Ek staan stom van verbasing en is geweldig beïndruk deur jou toewyding en entoesiasme vir Afrikaans, asook jou verbintenis aan die taal.” Al die mense se woorde beteken baie vir my. Ek is baie trots op my eerste brief wat ek aan baie mense op Facebook gestuur het. Een jaar ná my eerste brief, op Internasionale Moedertaaldag 2018, is my tweede brief op Maroela Media gepubliseer. Ek hou ook baie van persoonlike interaksie met individue. Ná my eerste brief het mense om kontak gevra. Toe skep ek ’n Facebook-blad om ’n bietjie te gesels en om my passie vir Afrikaans te deel met mense wat belangstel.
Ek sal graag eendag Suid-Afrika wil besoek om die wonderlike natuur te beleef en om Afrikaans in sy tuiste te kan toepas. Ek is verstom oor al die mense se vriendelikheid, gasvryheid en aandag wat hulle vir my gee
Beplan jy om eendag Suid-Afrika te besoek?
Ek sal graag eendag Suid-Afrika wil besoek om die wonderlike natuur te beleef en om Afrikaans in sy tuiste te kan toepas. Ek is verstom oor al die mense se vriendelikheid, gasvryheid en aandag wat hulle vir my gee. Mense het my verblyf aangebied vir wanneer ek eendag in Suid- Afrika wil kuier. Ek dink die mense se positiewe terugvoering en my eie motivering het veroorsaak dat ek hierdie vlak van Afrikaans kon bereik.
Wat is jou wens vir die toekoms?
Ek wil graag my Afrikaanse droom verder kan uitleef, wonderlike mense leer ken, die taal ondersteun en bevorder en ’n goeie Afrikaanse ambassadeur wees. Dit sal lekker wees om dalk mense in Suid- Afrika te ontmoet vir wie ek lankal skryf.