Die Suid-Afrikaanse Butler-akademie het onlangs na ‘n mansion in Plattekloof in die Kaap verskuif, waar studente die fynere etiketkunsies kan aanleer en ook praktiese ondervinding opdoen. Jackie Pienaar-Brink het daar ingeloer.
Newton Cross, prinsipaal van die Butler-akademie, en Adriaan Coetzer, wat die plasings behartig, vertel ‘n bietjie meer van die kursusse wat aangebied word en gee ook ‘n klompie wenke.
Wat kos die plaaslike kursus?
R45 000 vir agt weke, wat volle verblyf in die Butler-mansion insluit. Dit word vier keer per jaar aanbied en heelwat buitelanders maak ook van die geleentheid gebruik.
Hoeveel studente word toegelaat?
Maksimum 16 op ‘n keer. Hulle woon in kamers met al die nodige geriewe soos televisie en internet.
Beskryf jul opleiding.
Europees met ‘n Suid-Afrikaanse hart.
Wat kan ‘n butler salarisgewys verwag?
Ons werk nie vir minder as R15 000 nie en dit kan tot nagenoeg R60 000 opgaan. Hoewel ons butlers in Saoedi-Arabië het wat baie geld maak, doen ons nie sommer plasings daar nie omdat dit te veeleisend is. Jy moet die regte kliënt kies.
Waar bied julle nog opleiding aan?
Ons het ‘n baie gewilde opleidingsprogram oor ses dae in die Maldives, hoofsaaklik vir butlers wat in hotelle en vakansieoorde werk. In ruil vir die gebruik van hul gereiwe, kry tien werknemers die kans om dit gratis by te woon, wat ons met nog 15 betaalde plekke laat. Ons kan nie voorbly nie. Ons doen ook op aanvraag opleiding by vakansieoorde en gaan die personeel van ‘n luukse passasierskip oplei terwyl dit vir herstelwerk in die droogdok lê. Ons het dit reeds met die Queen Mary II gedoen.
Vertel ‘n bietjie van jul eie skoonmaakmiddels wat julle self aanmaak?
Dis ‘n maklike manier om geld te spaar.
Algemene skoonmaakmiddel (“all purpose cleaner”): Voeg 1 e Sunlight Liquid stadig by 400 ml water in ‘n spuitbottel.
Antibakteriële skoonmaakmiddel: Meng 200 ml “pine floor cleaner” in 600 ml water in ‘n spuitbottel.
Aggressiewe skoonmaakmiddel: Maak ‘n sterk asyn-en-water-oplossing aan. Onthou net, as jy hiermee werk, moet jy met die algemene skoonmaakmiddel eindig om te keer dat jou plek daarna soos ‘n vis-en-tjips-winkel ruik!
Kan julle ‘n paar algemene etiketwenke gee?
- Jou handdruk dra iets van jou persoonlikheid oor. Moet nooit met ‘n pap hand iemand se hand skud nie. Moet dit ook nie te ferm doen nie. Vermy ‘n handdruk met ‘n sweterige hand deur iemand eerder aan die skouer te vat. En moet nooit ‘n sweterige hand aan jou broek afvee nie.
- Hou ‘n wynglas aan die onderkant vas. Dit geld vir rooi- sowel as witwyn.
- Moet nooit met jou mes en vurk beduie nie.
- Moenie jou bord boordensvol skep by ‘n buffetete nie. ‘n Buffetete sê vir jou: Kom terug.
- Neem klein happies en moet nooit jou kop na die bord toe afbuig om te hap nie.
- Hou jou hand onder die piering as jy tee drink.
- Vee jou mond altyd met die binnekant van die servet en vou dit dan weer toe sodat dit nie jou klere vuilmaak nie.
- Maak jou huis in drie dele skoon en in die regte volgorde: bo, middel, onder. Stofsuig heel laaste.