Carla van der Spuy onthou die besonderse verhouding tussen haar broer en die man wat vir hom ’n boom geplant het
Carla van der Spuy
“Vra vir Fanie.” Hierdie woorde was soos ’n refrein in my oorlede broer Dirk Bosman se huis op Caledon en op sy plasie in die Overberg. Fanie Tobias was Dirk se voorman op Berseba. Tall, dark and handsome. Mooi grootgemaak. En hy het altyd gelag.
Hier was dit nie net ’n geval van ’n boer maak ’n plan op die plaas waar Dirk met essensiële olies geboer het nie. Sy voorman was ook ’n meesterplanmaker. Met hande wat vir niks verkeerd staan nie. Die kollig het onlangs helder geskyn op plaasmoorde en die Mensregtekommissie se verhore. Maar dalk hoor ons nie dikwels genoeg van die goeie verhoudings op plase nie. Soos dié tussen Dirk en Fanie. Ons het dikwels gespot en gesê die Bosman-nutsmanboek sou uit net een bladsy, een paragraaf en een sin bestaan: “Vra vir Fanie.”
As iets op die plaas gebreek het, het Fanie iets prakseer. As iets gedoen moes word, was Fanie daar. Ongeveer 15 jaar lank het hy vir Dirk gewerk. Vandat hy uit die skool is tot hy in sy hubare dertigs was. Hy was vir Dirk soos ’n seun. Dirk kon nooit van Fanie praat sonder om die woord “respek” te gebruik nie. Maar eendag het Fanie se lag begin opdroog.
Dirk is verlede jaar met melanoomkanker gediagnoseer nadat hy uit die bloute ’n ribbebeen gebreek het toe hy sakkies sement op die plaas opgelaai het. Die diagnose was verdoemend. Dokters het hom tussen 18 maande en vyf jaar gegee. Maar uiteindelik was ’n jaar al wat hy gehad het.
“Ja, ou Sus,” het hy op sy droë manier tydens een van ons laatnag-kaggelvuurkuiers vir my gesê: “Een van die dae doen ek shopping.” Hy het my met groot blou oë aangestaar.
Die man wat voor in die tou gestaan het toe looks in die familie uitgedeel is. “Shopping?” “Ja, by Avbob.” En hy het so ’n laggie gegee wat aan kleintyd herinner, om my te verpes. Dirk het al sieker geword tot die melanoom later sy tentakels in sy brein ingegrawe het. Maar steeds het hy sy plasie besoek wat hy en Fanie oor soveel jare opgebou het en waar duisende bloekomboompies geplant is wat hy nooit sou sien grootword nie. Oor ’n jaar of twee moes hy die vrug op sy arbeid gesien het. Hy was in hart en siel ’n boer.
Vyf keer in een jaar het ek Kaapstad toe gevlieg om van Dirk afskeid te neem en te sien hoe ek van praktiese waarde kon wees. En altyd was Fanie daar. Hy het my op die lughawe kom haal en Caledon toe geneem. Nooit was hy een sekonde laat nie. Jy kan hom met jou lewe vertrou. Fanie is nie een wat jou moeg praat nie, maar hy het my tydens ons ritte versigtig oor die siekte begin uitvra.
Ek was in daardie stadium besig om my boek Plaasaanvalle – Slagoffers vertel self te skryf en was deeglik bewus van plaaswerkers se kommer oor hul toekoms as ’n boer vermoor word en dalk wegtrek. Verhale is aan my vertel van boere wat wou oppak ná ’n plaasmoord, maar wat van plan verander het omdat hul plaaswerkers met trane in hul oë gevra het wat van hulle gaan word. Maar hier het dit oor meer, veel meer, as net werk gegaan.
“Dirk gaan nie weer gesond word nie, Fanie,” het ek vir hom gesê. Dirk het goed beplan vir dit wat ná sy dood moes gebeur. Die boerdery moes voortgaan. Die plasie is ’n nalatenskap vir sy kinders. Elke oggend het hy en Fanie daar waar hy in die bed in sy slaapkamer gelê het, eers oor die boerdery gesels. Ernstig maar met die gebruiklike grappies tussenin.
“Fanie, jy hoef nie bekommerd te wees as ek nie meer hier is nie. Jy sal nog werk hê,” het Dirk hom gerusgestel. Dirk is oorlede met die wete dat die boerdery tussen sy makelaarseun Gideon, wat in Kaapstad woon, sy ervare vennoot, Ian, en natuurlik Fanie sou voortgaan. “Fanie,” het Dirk op sy sterfbed vir die jongman gesê: “Jy is die enigste mens wat my nog nooit moeilikheid gegee het nie.” Hy het dit dikwels deur die jare gesê en kamma- verwytend na die res van ons gekyk. In sy laaste dae was Dirk bitter swak.
Sy toegewyde vrou, Verda, wat ’n verpleegkundige is, het van ’n groot rugoperasie herstel. Sy het nagte nie geslaap nie. Sy was gedaan en kon nie meer alleen na haar terminaal siek man omsien nie. Fanie het in hul dorpshuis kom oorslaap om met Dirk te kom help. Hy het hom snags in sy sterk arms badkamer toe gedra.
Op een snerpend koue winterdag, daar tussen die fynbos en die sneeubedekte berge op sy geliefde plasie, is Dirk ter ruste gelê. ’n Jaar lank, voor daardie dag, het ek na binne gehuil. Ek moes na die teraardebestelling later in die kerk ’n huldeblyk oor Dirk lewer. Dis mos die joernalis in ’n familie se lot om alewig, tydig en ontydig, by al wat troue en begrafnis is, die toesprake te skryf. Ek was vas van plan om nie aan die grens te gaan nie. Maar toe kom ek en my dogter, Tanya, op die plaas aan …
Langs die graf staan Fanie se diep gelowige familie en geliefdes, netjies in hul kisklere, hoede op die kop. Langs hulle staan Verda en die drie kinders, almal in swart. Hul jongste dogter is hoogswanger en moes spesiale toestemming kry om vir die begrafnis van Amerika af na Suid- Afrika te vlieg. Aan die ander kant staan Dirk se stapmaats (middeljarige jappies) informeel in hul bergklimklere en stewels. Hulle gaan ’n houtbankie daar by Dirk se graf oprig om die natuurskoon te bewonder. Die groepies kom uit twee wêrelde, maar hulle deel een groot smart. Die eenvoudige houtkis met toue vir handvatsels en fynbos bo-op wat lyk of dit in die veld gepluk is, is in die lykswa. Dis hoe Dirk dit sou wou gehad het. Sonder vertoon. Pure boer.
Daar is tafels met toebroodjies en termosflesse met koffie waarvoor sy stapmaats gesorg het. Mense het ver gery en dit sou ’n halfuur duur om kerk toe te ry om die roudiens agterna by te woon. Die pastoor merk op dat dit die eerste keer was dat hy koffie en toebroodjies by ’n graf gesien het. Maar stappers is mos praktiese mense. Vir my was alles hier in die hartjie van die ongerepte natuur so hartbreekmooi, dat sou ’n mens nie van beter geweet het nie, jy sou dink jy is ’n gas op ’n troue vir natuurliefhebbers. In die veld.
Nadat ek en Tanya uit die motor geklim het (’n viertrekvoertuig sou eerder die aanbevole vervoermiddel wees) en almal gegroet het, is my eerste vraag: “Waar is Fanie?” ’n Mens kan jou kwalik vir Dirk indink sonder Fanie in die omtrek. Al die ander draers was reeds by die graf.
Toe sien ek hom alleen staan. ’n Hele entjie van die rougangers af. Die liewe, saggeaarde, slim man met die onuitgesproke verdriet. Vir oulaas kom dra Fanie vir Dirk. Terwyl die kis sak, begin ’n buurman se hond, wat stertswaaiend saam met sy baas van die buurplaas af na die begrafnis toe geloop het, hartverskeurend tussen die rougangers se snikke te tjank. Het hy almal se hartseer aangevoel? wonder ek. Dit is ook die eerste keer dat hy ’n hond by ’n begrafnis sien, merk die oplettende pastoor op. Toe die kis in die diep gat afsak, sê Fanie se tannie in ’n bewende stem: “’n Mens sal nie weer so ’n vriend soos hy kry nie.” Ons ry na die kerk toe. Die huldeblyke word gelewer. Ek glo nie iemand is meer bedank as Fanie nie. Amper meer as die weduwee.
’n Paar weke later bel ek vir Verda. “Hoe gaan dit?” vra ek. “As jy weer Kaap toe kom, moet ek en jy Dirk se graf gaan besoek,” sê sy. “Natuurlik.” Sy bly ’n rukkie stil. Haar stem raak weg. Ek hoor hoe die sluise oopgaan. Dan vertel sy hoe Fanie een oggend stil-stil op die plaas aangekom het – nog voor die ander werkers daar was. Sonder om ’n woord te sê het hy die graf mooi gemaak. Rondom geskoffel. En ’n boom vir Dirk geplant.