Julle was eens op ’n tyd verlief en mal oor mekaar, maar soos die jare verbygaan, praat julle al hoe minder met mekaar. Kan ’n mens daai gaping oorbrug?
Zerelda Esterhuizen
“Lank, lank gelede het ek en my man oor als gesels, maar vandag praat ons skaars met mekaar. Ons is al 17 jaar getroud en het twee pragtige dogters, maar deur die jare het ons so ons eie ding begin fokus dat ons net verder en verder van mekaar weggedryf het,” vertel Anel* (42). “Ons het een van daai paartjies geword wat by ‘n restaurant sit en na die mense of ons fone kyk en sulke ongemaklike stiltes beleef. Ek is steeds lief vir hom. Dit voel net asof ons buiten die kinders niks meer gemeen het nie …”
Verhoudingskenner Melodie Tucker sê op die webwerf www.yourtango.com dat paartjies vergeet om hul tyd saam te prioritiseer. “Ander aktiwiteite soos werk, skool, kinders en stokperdjies geniet voorrang. Elke beskikbare oomblik word oorgeskeduleer en die enigste tyd wat paartjies saam bestee, is as hulle slaap,” sê sy.
Andri Burger en Annemarike de Beer is sielkundiges by Synergy Psychological Services met praktyke in Ruimsig, Roodepoort en Garsfontein, Pretoria. Hulle sê as twee mense verlief is, is dit natuurlik dat hulle mekaar se behoeftes vervul, maar die gevoel van liefde en verlief wees stem direk ooreen met die hoeveelheid tyd en energie wat hulle aan mekaar en die verhouding bestee. As paartjies dus ophou om tyd en aandag aan mekaar te gee, sal die gevoel van liefde afneem.
“As ‘n mens in ag neem dat huwelike en/of verhoudings gewoonlik oor ‘n tydperk strek (soms selfs sewe tot agt dekades) is dit nie vreemd dat daar baie dinge in hierdie tyd kan verander en gebeur nie. Dit gebeur dikwels dat dit juis daai dinge is wat paartjies aanvanklik na mekaar aangetrek het, wat later tot frustrasie en konflik lei. “Natuurlik is daar ook persoonlikheidsverskille, liggaamsveranderings, kinders, werk- en finansiële stres plus ‘n besige lewenstyl wat ‘n rol speel. Dit veroorsaak dat paartjies min by mekaar uitkom en tyd vir mekaar maak. Dit dra tot die hoë egskeidingsyfer by.”
Om daai afstand te oorbrug
Andri en Annemarike sê soms kan paartjies hul verhoudings herstel, maar in sommige gevalle is professionele hulp nodig. Die goeie nuus is egter as mense toegewyd is om ‘n verhouding te laat werk, is daar geen probleme wat te groot is om te oorkom nie.
“Met die regte kennis en vaardighede kan jou verhouding weer wonderlik wees. Jy kry in ‘n gelukkige verhouding die kans om tyd saam met jou beste vriend of vriendin te bestee en dis ‘n veilige hawe waarin jy jou gevoelens kan uitdruk en jou sin van self kan ontwikkel. Dit bied jou verder ‘n geleentheid om eerlike terugvoer te ontvang van iemand wat jou liefhet.”
Andri en Annemarike glo die sleutel tot ‘n gelukkige huwelik of verhouding is om die gevoel van liefde te behou en te koester.
“Dit sal tyd en energie verg, asook ‘n bereidwilligheid om vir mekaar te sorg en mekaar te ondersteun om die gevoel van liefde en aangetrokkenheid te behou. Verder is dit nie net belangrik om mekaar gelukkig te maak nie, maar ook om daarop te let om mekaar nie ongelukkig te maak nie.”
Woema vir jul verhouding
• Bestee minstens twee keer per maand (sonder die kinders, selfone, TV) gehaltetyd saam (selfs al is dit ’n piekniek op die sitkamermat ná die kinders se slaaptyd).
• Word weer beste maats deur tyd te maak om regtig met mekaar te gesels.
• Vind ’n gemeenskaplike belangstelling en skep gedeelde ervarings.
• Hou op om op die negatiewe te fokus en gee mekaar eerlike komplimente.
• Doen iets lekkers en prettigs saam as ’n gesin.
• Dit is belangrik om die verskil te verstaan tussen om met mekaar saam te stem en om mekaar te verstaan. Dis normaal om verskillende menings te hê. Respekteer mekaar, moenie jou maat probeer oortuig om soos jy te dink nie en probeer ’n middeweg vind.
• Begin oor seks praat sodat julle mekaar se behoeftes hieroor kan verstaan.
• Besluit saam op ’n begroting en bly daarby om finansiële spanning te verlig.
• Onthou om (ten minste) vir jou maat ’n soen te gee wanneer julle “hallo” en “totsiens” sê.
• En dalk die belangrikste van alles: Moenie vir jou maat wag om eerste op te tree nie – as jy die eerste stap neem sal jou maat waarskynlik volg.
5 praktiese wenke
1. Praat elke dag oor jul dag en vra uit oor hoe dit regtig met jou maat gaan.
2. As daar probleme is, moenie net stilbly en dit ignoreer of stilstuipe kry nie. Kommunikeer daaroor.
3. Ondersteun mekaar se stokperdjies en belangstellings.
4. Hou hande vas of gee mekaar ’n drukkie. Aanraking is belangrik.
5. Doen nou en dan iets opwindends en nuut. Al is dit net om ’n nuwe restaurant te probeer of ’n nuwe roete te stap.
Meer inligting
Kontak Andri Burger en Annemarike de Beer op 011 662 1196, [email protected] en besoek www.ruimsigpsych.co.za