Selfs volwassenes kry soms koue rillings by die gedagte aan ’n lang, koue, hospitaalgang en steriele, kliniese omgewing. Maak dit vir jou kind makliker
Deur: Luisa van der Linde
Hoe kan jy kinders op hul gemak stel en hulle op ‘n hospitaalervaring voorberei?
Die organisasie vir pediatriese ondersteuning in Suid-Afrika, (OPSSA) lig gesinne oor gesondheidsorg en die sielkundige aspekte daarvan in.
Dr Annemarie Oberholzer is die president van OPSSA en sê Suid-Afrika is een van die min lande ter wereld wat nie professionele mense in hospitale en klinieke het wat uitsluitlik op die voorbereiding en ondersteuning van die kind fokus nie.
“Oorsee word mense wat dié werk doen child life specialists of healthcare play specialists genoem. Jy kan selfs jou meestersgraad in byvoorbeeld child life doen. Hierdie diens is so belangrik aangesien kinders nie klein volwassenes is nie. Hulle het unieke denkpatrone, vrese en fantasieë en hulle sien gewoonlik enige pyn of swaarkry as straf vir iets wat hulle verkeerd gedoen het. Dit lei tot baie misverstande. Onthou, trauma is nie wat met ons gebeur nie – dis wat ons dink wat met ons gebeur en dus word kinders baie keer in die hospitaal, kliniek of by die dokter getraumatiseer.
LEES OOK: As jou kind stres
“Kinders is dikwels teenwoordig wanneer die dokter met Mamma praat en al lyk dit asof hulle heerlik speel met die speelgoed in die spreekkamer, hoor hulle elke woord. Ongelukkig word daar dikwels groot woorde gebruik en dan maak kinders hul eie afleidings, wat tot verdere misverstande lei. Dit is dus baie belangrik dat daar met kinders op hul vlak gesels word en verduidelik word wat in die hospitaal gaan gebeur,” sê dr Annemarie.
Hospitaal toe
“Ek het al kinders gesien wat glo dat hulle in die hospitaal gaan doodgaan, want ‘Oupa is dan daar dood’, want dit was tot dusver nog hul enigste kennismaking met die hospitaal,” sê dr Annemarie.
Sy gee die volgende raad:
- “Maak seker daar is geen misverstande nie. Vra kinders wat hulle dink gaan gebeur en verduidelik op hul vlak hoekom hulle siek is. Jy kan iets sê soos: ‘Die kieme het huisies in jou mangels gebou en hulle kruip daar weg.’ Of sê iets soos: ‘Die kieme maak jou kort-kort siek en as dokter vir jou medisyne gee, dan hardloop die kieme vinnig terug na die mangels en kruip daar weg en die medisyne kan nie daar uitkom nie. Nou gaan die dokter die mangels uithaal sodat die kieme nie plek het om weg te kruip nie.’ Verseker kinders dat hulle niks verkeerd gedoen het nie.
- As ‘n kind in ‘n ongeluk was, verduidelik dat dit is hoekom ons dit ‘n ongeluk noem: Dit was nie sy of haar skuld nie. Vind uit by die dokter en hospitaal presies wat hulle gaan doen sodat jou kind daarop voorberei kan word.
- Berei altyd ‘n kind voor op alles wat hulle gaan beleef, maar hou dit so lig as moontlik. Dit is byvoorbeeld nie nodig om enige detail te gee van wat in die teater gebeur nie. Onthou dat kinders nie abstrak kan dink nie, maar dat hulle in prentjies dink. Alles wat ons vir kinders verduidelik, gaan hulle in prentjies omskakel – dink dus mooi oor hoe iets verduidelik word en bly weg van beeldspraak.
Op watter ouderdom sê ek wat?
Dr Annemarie gee die volgende riglyne:
“Berei twee- of driejariges een tot drie dae voor hospitalisasie voor, vier- tot vyfjariges vier tot vyf dae voor die tyd en ‘n kind ouer as ses ‘n week voor hospitalisasie.
LEES OOK: Is jou kind oorafhanklik van jou?
“Skaf ‘n almanak aan en merk die slapies af sodat hulle weet wanneer hulle hospitaal toe moet gaan. ‘n Almanak kan ook in die hospitaal gebruik word om tred van die tyd te hou.”
Spesifieke prosedures
Die soort ondersteuning wat jy kinders bied, sal van hul prosedures afhang; of hulle byvoorbeeld pyn gaan verduur; ‘n terminale siekte het; die operasie groot of klein is; voorheen trauma beleef het; en aan die dood van ‘n geliefde, byvoorbeeld ná ‘n motorongeluk, blootgestel is.
- Ouers kan op OPSSA se webwerf na spesifieke prosedures gaan kyk en hul kinders dienooreenkomstig inlig wat om te verwag. “Dit is belangrik om uit te vind wat alles met die kind gaan gebeur en dan voor te berei,” sê dr Annemarie.
- Vra kinders wat hulle dink gaan gebeur. Dis belangrik omdat kinders soms die verkeerde idee kry of dinge wat hulle hoormisinterpreteer. Verduidelik weer indien nodig.
- Maak gebruik van kinders se sintuie. Verduidelik wat hulle gaan sien, hoor, voel, ruik en proe. Laat hulle byvoorbeeld aan ’n alhokollappie ruik, ’n keelstokkie voel of na die geluid luister wat ’n skandeermasjien maak.
- Verduidelik hoe lank die proses gaan neem en wanneer dit gaan klaar wees.
- Probeer hul aandag met ’n boek, liedjie of ’n speletjie aftrek.
- Gesels oor hul belangstellings soos, ballet, atletiek of netbal.
- Help kinders om tydens die prosedure diep en rustig asem te haal. Dit help om borrels of ’n windmeultjie te blaas.
Maak dit makliker
- Bring vir jou kind foto’s van die huis saam, byvoorbeeld ’n foto saam met Mamma en Pappa, Ouma en Oupa, of foto’s van sy of haar kamer of troeteldier. Herinner kinders gereeld dat hulle weer huis toe sal gaan.
- Maak die hospitaalkamer bekend deur speelgoed en selfs ’n duvet of kussing van die huis af saam te bring. Onthou, kinders verwerk stres deur te speel; sorg dat jou kind genoeg geleentheid het om te speel.
- Probeer so kalm en ondersteunend as moontlik bly.
- Wees eerlik met jou kind. Moenie ’n belofte maak waarby jy nie kan hou nie. Jy moet jou in alle omstandighede kan vertrou.
- Maak seker dat jy weet watter behandeling jou kind gaan kry sodat jy jou kind daarop kan voorberei.
- Doen self roetinesorg vir jou kind – dit is belangrik dat jou kind jou steeds as primêre versorger sien.
- As dit moontlik is, probeer so reëlings tref dat jy soveel moontlik by jou kind kan wees terwyl hy of sy in die hospitaal is. As dit nie moontlik is nie probeer dat iemand wat jou kind goed ken daar te wees.
As jyself onseker of bang is
Mense reageer verskillend wanneer hulle spanning ervaar.
As jou kind in die hospitaal opgeneem gaan word, veral as dit die eerste keer is, kan jy teenstrydige gevoelens ervaar.
LEES OOK: My kind se brose selfbeeld
Sommige ouers ervaar skuldgevoelelns, selfs al is daar niks wat hulle kon doen om hul kind se hospitalisasie te voorkom nie. Ander kan dalk gefrustreerd of oorweldig voel, of ontoereikend om hul kind te kan help. Jy kan ook angstig of bang wees omdat jy nie weet wat om te verwag nie.
Hierdie gevoelens normaal. As jy dit egter onmoontlik vind om die situasie te hanteer, win eerder professionele advies in sodat jy jou kind na die beste van jou vermoë kan ondersteun.
Kontak OPSSA met enige vrae oor jou kind se hospitalisasie, voorbereiding of siekte. Besoek hul webwerf by www.opssa.org.za