Om jou kind langs die sportveld ondersteun, vereis ’n fyn balans tussen oorbetrokkenheid en onbetrokkenheid. Maar wat as jou kind werklik uitsonderlik talentvol is? Behoort jy nie dan ekstra in te sit nie?
“Dit behoort geen verskil te maak nie,” sê Mary Ann Dove van die organisasie Positive Sport Parent. “Navorsing gedoen met Amerikaanse Olimpiese atlete wat medaljes by die Olimpiese Spele gewen het, toon dat hul ouers onvoorwaardelik ondersteunend was, ’n voorbeeld vir hul kinders gestel het, harde werk en dissipline beklemtoon het en nie wen beklemtoon het nie, maar eerder ’n liefde vir sport.”
Sou ’n kind geïdentifiseer word as dat hy of sy vaardighede of potensiaal het, vereis dit nie noodwendig groter dringendheid of meer ouerbetrokkenheid as gewoonlik nie, beklemtoon Greg Wilmot, sportsielkundige van Grahamstad.
“Konsekwente ondersteuning, die bevrediging van die vereiste en verkose behoeftes van die kind en die fasilitering van talent-ontwikkeling deur die nodige hulpbronne te voorsien, is wel noodsaaklik.”
En, sê Greg, talentvolle kinders het nie nodig om meer gedruk te word nie. “Oorbetrokke ouers sê vir hul talentvolle kinders wat hulle wil hê hulle moet word, eerder as om hulle te ondersteun om dit wat hulle kan wees, na te jaag.
“Selfgegenereerde motivering, vaardigheidsontwikkeling, veerkragtigheid en besluitneming is die boustene vir gesonde, aktiewe en suksesvolle sportmanne en -vroue. Ouers kan ’n baie belangrike of afbrekende rol speel in die skep van ’n omgewing waarin hierdie waardes gekoester word … of verlore gaan.”
Net so, behoort ouers se vlakke van betrokkenheid by besonder talentvolle kinders nie te verskil van dié by ’n kind met gemiddelde talent nie, sê Greg.
“Ons word almal aangetrek deur mense wat talentvol en vaardig is, want dit is lekker om in hul suksesse te deel of in die idee oor wat hulle kan word, maar ouers behoort hul kinders se doelwitte te skei van hul eie idees van wat hulle wil hê hul kinders moet wees. Ouerbetrokkenheid is noodsaaklik in die ondersteuning van talentontwikkeling, maar dit is ook die een verhouding wat baie maklik ’n kind se belangstelling in en passie vir ‘n sport kan vernietig.
“Om jou deur jou kinders te laat lei en hul belangstellings te volg met die nodige ondersteuning deur jou onvoorwaardelike betrokkenheid en deur geleenthede en hulpbronne te voorsien, is genoeg om talent te ontwikkel,” sê Greg.