Dit is hierdie tyd van die jaar wat ouers begin wonder oor hul kinders en graad 1. JB Roux gesels met kenners in ons 12 Augustus-uitgawe. Lees hier oor nog kwessies
Sommige kinders is met toelating tot hulle eerste skooljaar meer gevorderd as ander en kan selfs lees en skryf. Kan dit so ’n kind frustreer of verveel om saam met minder gevorderde kinders in ’n klas te wees?
“Verveling is nie ’n groot faktor by Graad 1-leerders wat reeds met toetrede tot skool kan lees en skryf nie, want daar is soveel nuwe dinge in die Graad 1-jaar,” sê Helena Bester, remediële konsultant en terapeut. “Tensy ’n voorskoolse kind ’n duidelike behoefte toon om te begin lees en skryf, behoort die ouers dit liefs daar te laat. Die meeste ouers is nie bewus van die komplikasies wanneer ’n kind byvoorbeeld letters eerder as klanke aanleer nie. Die visuele en ouditiewe perseptuele vaardighede moet ook eers goed ontwikkel wees voordat daar met lees- en skryflesse begin word. Voorskoolse onderwysers weet presies wanneer en hoe om klankwerk in te faseer.
“Die Graad R-jaar is ook die jaar waarin die simptome van ’n ADHD-lyer duidelik raak. Klagtes soos ‘Siviwe kan nie op die mat stilsit en luister nie’; ‘Bianca pla die ander’; ‘Jean is dromerig’; ‘Michelle voltooi nie haar taak nie’, word al hoe meer gehoor. Indien ’n kind wel ’n AGHS-lyer is, is dit goed om hom of haar te laat evalueer om die graad van afleibaarheid en/of hiperaktiwiteit te bepaal.
“Gelukkig is daar tans meer opsies as medikasie vir die behandeling van AGHS. Neuroterapie is in Oktober 2012 deur die ‘American Acadamy of Pediatrics’ as ’n vlak 1-behandeling (soos stimulante-medikasie) vir aandagverwante simptome verklaar. Daar is baie inligting oor neuroterapie op die internet.
“Dit is belangrik dat ’n ervare terapeut of mediese spesialis AGHS diagnoseer. Diagnose op hierdie ouderdom is ’n komplekse en sensitiewe saak. Baie van die simptome van ADHD is ouderdomstoepaslik op sesjarige ouderdom.
“Kinders met simptome word later as ander kinders emosioneel ryp en tree anders op as ander kinders van hul ouderdom. Op ses- en sewejarige ouderdom is die emosionele ‘agterstand’ sowat ses maande. Teen hoërskoolouderdom kan dit soveel soos twee jaar wees.”
Vir verdere inligting:
www.helenabesterneurotherapy.co.za
www.south-african-homeschool-curriculum.com/shirley.html