Volgens ‘n studie wat in 2008 gedoen is, is bepaal dat graaddrieleerders ’n gemiddeld van 36% vir geletterdheid en 35% vir gesyferdheid behaal. Dit is dus duidelik dat probleme met wiskunde reeds op ‘n vroeë ouderdom manifesteer.
Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die volgende wenke vir ouers met kinders in die lae laerskoolgrade.
Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die Skole-ondersteuningsentrum, is ouers soms huiwerig om hul kinders te help omdat hulle nie selfvertroue in hul eie wiskundigevaardighede het nie.
“Die belangrikste is om dit pret te maak vir jou kind. Wanneer kinders wiskunde buite die klaskamer met pret assosieer, sal hulle in die klaskamer ook ‘n positiewe ervaring van die vak hê.”
Hier is ‘n paar speletjies wat jy kan oorweeg:
Tel voort
Die “Tel voort”-speletjie is bedoel om kinders te leer dat hulle met somme by die grootste getal moet begin as hulle bytel. ‘n Kind kan byvoorbeeld gevra word om 4 + 2 uit te werk. Hy/sy moet dan vier vingers van die een hand ophou en dan twee van die ander hand. Die kind moet dan tot by vier tel en dan tot by ses.
Tel terug
Een van die belangrikste syfervaardighede is om wiskundefeite vinnig en akkuraat te onthou. Die eenvoudige feit dat die een syfer na die ander kom, is ‘n belangrike faktor in die sukses van die kind. Laat jou kind tot by tien tel en dan weer vanaf tien tot by nul.
Kaartespel
Laat jou kind gewone speelkaarte uitdeel aan ‘n klompie “spelers”. Die herhaling leer kinders hoe om akkuraat te tel sonder om hul vingers of papier te gebruik.
Die dobbelsteen
Gooi ‘n dobbelsteen en laat jou kind tel waarop dit geval het. Jy kan later twee dobbelstene gebruik as dit te maklik raak om tot by ses te tel.
Wegsteek
Gebruik ‘n bekende aantal muntstukke en hou dan ‘n paar in jou hand versteek en plaas die ander muntstukke op die tafel. Jou kind moet dan tel hoeveel hy of sy sien en hoeveel jy in jou hand weggesteek het.
Raai-raai
Skryf ‘n getal tussen 1 en 100 op ‘n papier en steek dit weg. Jou kind moet raai wat die getal is. Wanneer hy of sy ‘n getal raai moet jy hom lei met die woorde “meer” of “minder”.
Bingo
Skryf getalle 1-12 op ‘n stuk papier, een vir jou en een vir jou kind. Maak beurte om die dobbelstene te gooi en trek ‘n kruis oor die getal waarop die dobbelstene val. Die eerste een wat al 12 doodgetrek het, wen. Dit leer jou kind hoe om tot by 12 te tel en ook hoe om syfers te herken.
Die SOS is reeds in 2012 in die lewe geroep en die organisasie glo dat armoede die hoof gebied kan word deur in opleiding te belê.
Vir meer inligting, kontak vir Hugo Vermeulen by 012 644 4390 of stuur ‘n e-pos na [email protected]