Kan jy die pap te dik aanmaak wat jou gewese geliefde betref? Carla van der Spuy het ondersoek ingestel
Carla van der Spuy
Om platoniese vriende te wees nadat die vlam van passie eens vir julle hoog gebrand het, is ’n afgewaterde troosprysie – iets om oor te wroeg. Dis die gevoel wat talle oor hul ekse het.
Time to say goodbye, lui die gewilde liedjie. Soms geld dieselfde vir huwelike. ’n Mens deel herinneringe met jou eks wat jou laat lag en huil. Dus besluit baie ander paartjies dat hulle vriende sal bly, veral as daar kinders betrokke is.
Maar kan dit werk?
Dit is nou maar eenmaal so dat een van die twee partye gewoonlik die een is wat loop terwyl die ander een met gevoelens van verwerping, wraakgedagtes en ’n gebroke hart agterbly. En ’n gebroke hart kan tot bitterheid en jaloesie lei – veral as jou eks ’n nuwe liefde vind en jy nog nie aanbeweeg het nie.
As ’n mens egter daarin kan slaag om op ’n beskaafde manier en veral ter wille van die kinders vriende te bly, voel die “skuldige party” dikwels minder skuldig. Jy bied mos ’n olyftakkie aan.
Vir die treurende party kan ’n gunstelingliedjie, die geur van ’n sekere parfuum of naskeermiddel soos ’n klip op die hart kom lê.
Hoe kan jy vriende wees met iemand wat eens jou minnaar was? Is dit nie dan maar beter om net ’n skoon breuk te maak en die verlede vaarwel toe te roep eerder as om voortdurend daaraan herinner te word nie? Want deur jou eks gereeld van aangesig tot aangesig oor ’n koppie koffie te sien of hom te vra om nutsmantakies in jou huis te verrig en só die rol van ’n “surrogaatkêrel” te vertolk, kan pynlik wees. Veral as julle nie albei gelukkige nuwe verhoudings aangeknoop het nie.
Vir talle is dit dus alles of niks
Dalk jaag julle mekaar se bloeddruk ná al die jare steeds op. Of dalk het julle net ’n ysige “wapenstilstand” tussen mekaar verklaar. Of dalk is julle wonder bo wonder, ondanks al die bagasie uit die verlede, sulke groot vriende dat ‘n mens skaars kan glo dat julle in die skeihof gedraai het?
Dit lyk asof die goeie of vyandige verhouding tussen ekse gewoonlik aan die oorsake vir die egskeiding of beëindiging van die verhouding toegeskryf kan word.
Het jou eks die hele begroting uitgerinkink? Was hy gewelddadig? Of was hy dalk ’n reeksverkuller?
Daar is egter ook diegene wat ruim genoeg van gees is, wat vergeet en vergewe en wat die verlede laat waar dit hoort – in die verlede.
Leef in vrede saam
Die bekende aktrise Elzette Maarschalk het menige wenkbrou laat lig toe sy vertel het dat sy en haar eks, Pierre van Pletzen (Oubaas van 7de Laan), so goed oor die weg kom dat hulle selfs al saam Amerika toe gegaan het. Maar voor mense dalk hond se gedagtes kry, hul huweliksmaats, Sandra Vaughn en Joseph Clark, was saam. En hul kinders.
Ja, dis seker nie baie konvensioneel nie, maar hulle glo almal dat dit die beste ding is om in vrede saam te leef, vertel Elzette.
Elzette sê Joseph en Pierre kom beslis goed oor die weg. “Ek is seker ek en Pierre irriteer mekaar soms ‘n bietjie, maar dis darem nie te erg nie.”
Die drie weke lange besoek in 2003 aan Orlando en New Orleans in Amerika het uitstekend uitgewerk, sê Elzette. “Joseph moes nog eers in ‘n Kersvertoning saam met die filharmoniese orkes sing. Hy kon dus nie saam met my, Pierre, Sandra en die kinders vlieg nie en het eers twee dae ná ons in Orlando opgedaag.
“Dit was baie snaaks, want toe ons by die lughawe in die gehuurde ‘minibus’ klim, gaan sit Sandra outomaties dadelik agter in die voertuig saam met die kids en ek en Pierre sit voor soos twee wafferse ‘ouers’. Ons moes tot in ‘n stadium vir hulle sê: ‘Sagter, daar agter!’ So wild het die drie van pure uitbundigheid te kere gegaan.”
Sy en Sandra kom baie goed oor die weg en is lief vir mekaar.
“Sandra is gaande oor Peach en Zetske en beskou hulle as haar eie kinders. Dalk het sy hulle reg aan die begin eerder as ‘n nuwe jonger boetie en sussie beskou aangesien haar ouderdom nader aan Peach s’n as aan Pierre s’n is,” sê sy laggend.
Gevra of hulle doelbewus besluit het dat hulle ter wille van die kinders vriende gaan wees, sê sy: “Ons het nie ‘n besluit geneem dat ons gaan vriende wees nie. Dit het vanself gebeur.
“Destyds het ons ses nogal gereeld saamgekuier, maar die afgelope vyf jaar ongelukkig nie meer so dikwels nie – seker omdat Peach en Zetske nou albei getroud is en almal minder tyd het en met hul eie lewens aangaan. Ons gesels en kuier baie lekker wanneer ons mekaar by ‘n geselligheid of vertoning raakloop.”
Almal is egter nie ewe gaande oor die gedagte nie en Elzette vertel dat daar mense was wat vir haar gesê het dis nie normaal nie en hulle eerder nie vriende moet wees nie. Dat dit ‘n Hollywood-tendens en nie gesond is nie.
“Ons het beslis nie aan Hollywood gedink nie. Dinge het maar net so gebeur. Ons was seker net gelukkig dat ek en Sandra van die begin af van mekaar gehou het en dat dit met Joseph en Pierre ook so was.”
Nee wat, sy kan nie haar eks haat nie, vertel sy. “En ek glo hy is nog ‘lief’ vir my, sekerlik as die ma van sy kinders.”
Wat sê mense?
Vra die vraag op Facebook en onder jou kennisse of hulle goeie vriende met hul ekse is en jy kry uiteenlopende menings oor die onderwerp:
• Nee en dis nie omdat ek nie probeer nie.
• Daar is juis ter wille van my kinders geen kontak met mekaar nie.
• Ons kom oor die weg, maar ons is nie vriende nie. As ons was, was hy nie my eks nie.
• Ter wille van die kinders is daar geen kwade gevoelens nie. Altyd ordentlik met mekaar, maar vriende? Nee.
• Ek hoop die wat “ja” sê besef hoe bevoorreg hulle en hul kinders is. En ek hoop die wat “nee” sê, doen dit met grondige rede.
• Ja, solank hy net nie weer my probleem word nie. As sy nuwe vrou iets moet oorkom of van hom skei, sal ek Australië toe emigreer, maar solank hy “beset” word, is ek oukei.
• Hy is vir my meer soos ’n ou kennis met wie jy vriendelik is.
• Nee, sy is totaal onbetroubaar.
• Ons is nou beter vriende as toe ons getroud was.
• ’n Eks is met rede ’n eks. Vriendskap kan net komplikasies bring.
• Ek is vriende met al my ekse.
• Ja, hy bly die pa van my seun.
• Ja, dis goed vir almal.
• Vriendelik, maar nie vriende nie.
• Ek is op 19 met my eerste man getroud. Ons is later geskei, maar hy was dwarsdeur my tweede huwelik my beste vriend. Hy het selfs met my eerste swangerskap vir my ’n babastootwaentjie gekoop. Ek en my tweede eks is nou ook op baie voet nadat ons mekaar baie jare lank geïgnoreer het.
• Die X hoort in die X-boks.
• Ja. Vergewe mekaar. Dan begin die genesing outomaties.
• Beslis. Hy is my beste vriend.
• As jy in ’n stadium gedink het jy is lief genoeg vir hom om met hom te trou, kan hy seker nie heeltemal ’n kokkerot wees nie.
’n Kenner sê: ‘Pasop’
Dr Elmarie Mulder Craig, verhoudings- en huweliksterapeut, se raad is om maar lig te loop vir vriendskap met jou eks as jul huwelik ongelukkig was, veral as jou eks jou mishandel het.
“Jy moet jouself ook afvra wat die werklike rede vir die nuwe goeie verhouding is. Om so ’n verhouding te laat werk, moet jy emosioneel ongelooflik volwasse wees, veral as daar kinders is.”
Sy glo ook ’n gesonde afstand moet met so ’n verhouding gehandhaaf word, want met klein kinders kan dit veral die geval wees dat die hoop opvlam dat hul ouers weer bymekaarkom.
“So ’n verhouding moet van ’n intieme verhouding na ’n genootskap verander.”