Sedert die Coffee Snobs se tweetalige debuutalbum Storm uitgereik is, skink dié vierstuks musikale koffie vir die fynproewer. Hulle gesels oor die lewe en hul musieksmaak
CHRISTIAAN J DE SWARDT
Vernette Wessels, die hoofsanger en kitaarspeler, is go-getter en daarom is geduld nie een van haar beste eienskappe nie.
“Ek wil hê alles moet nou gebeur, maar die lewe werk nie so nie en ’n mens moet kan wag vir goed om op die bestemde tyd te gebeur. Ek dink ek is nogal ‘n effektiewe mens en kry dinge gedoen. Ek sit nie net agteroor en wag vir goed om te gebeur nie – dalk omdat ek soms te maklik aan myself, my vermoëns en talente twyfel.”
Haar musikale hoogtepunt was toe Laurika Rauch ‘n liedjie wat Vernette geskryf en self opgeneem het – Bly nog ‘n bietjie – ook opgeneem het: “Ek het verlede jaar ook die voorreg gehad om saam met Laurika by Aardklop op te tree: dit was awesome!”
Vernette put vreugde uit haar man, Marius, hul seuntjie Matthias, familie, vriende, musiek en haar kitaar. Maar: “As ek haastig is en iemand ry stadig voor my of as ek rustig ry en iemand haastig sit op my ster t… Ek kan slange vang wanneer belsentrum jou in die aand bel om nóg ‘n selfoonkontrak aan jou te verkoop! Op ‘n ernstiger noot: Dit maak my hartseer wanneer mense swaarkry; elkeen het maar ‘n pakkie swaarkry gekry wat ons saamdra. Ek wens die lewe het nie soveel seer en swaarkry gehad nie.”
- Musieksmaak: Coldplay en van Norah Jones tot Andre Rieu.
- Verjaardag: 19 Januarie (1982)
- Doopname: Esmé Vernette Rautenbach
Haar man, Marius, terg oor sy rol in die groep. “As ek klaar die speakers op- en afgelaai het, mag ek ‘n bietjie baskitaar speel en backing vocals doen. Ek hanteer ook die finansies en help met die bemarking. Musikante sukkel mos maar en doen dit ter wille van musiek, maar ons kry darem af en toe ‘n gratis pizza of steak, eier en tjips vir vanaand. Môre het sy eie bekommernisse!”
Marius sê hy het ‘n klein hartjie. “Maar daar is plek vir baie. Ek wil die lewe regtig geniet. Daar’s nie altyd ‘n tweede kans nie.” Hy waardeer ander se geluk en voorspoed, lekker eet, goeie musiek en sy gesondheid en hy verpes liegbekke, padvarke, onbetroubaarheid en ja-broers.
- Musieksmaak: Van Andre Rieu, Bon Jon Jovi en Koos du Plessis tot die Beatles en Queen.
- Verjaardag: 7 September (1979)
Vernette en Marius is albei musikaal. Helaas, daar is iets wat hulle nie doen nie!
Vernette: “Ek kan nie fluit nie!’
Marius: “Ek kan nie ballet nie!”
Die klawerbordspeler Wicus Struwig sê: “Ek is ‘n vriendelike ou en wil almal net gelukkig maak. Daarom is ek geneig om mense te gou te vertrou en te help en ek sukkel om nee te sê. My tydskedule is my grootste uitdaging en ai, al probeer ek hoe hard: Ek kan nie ‘n vrou kry nie!” skerts hy.
- Doopnaam: Lodewicus
- Verjaardag: 31 Mei (1980)
- Musieksmaak: Van jazz en rock tot REM. Solank dit net goeie musiek is!
Die tromspeler Johan Willemse se bynaam is Noddy. “Ek het op skool pragtige rooi wangetjies gehad en toe dink iemand Noddy is ‘n gepaste naam. Ek stel baie belang in natuurwetenskappe en wou kleintyd ‘n argeoloog word en dinosourusbeentjies uitgrou, maar toe ontdek ek my pa se ou kitaar…”
- Musieksmaak: Goeie ou blues en rock, alternatiewe en grunge-musiek en ook jazz en ligte klassieke musiek.
- Verjaardag: 9 September (1982)