Daar is talle redes waarom ’n eilandvakansie ’n uitstekende besluit is, maar as jy na redes soek om Mauritius te besoek, het Dané Neuhoff die antwoord
Spierwit strande. Kristalhelder water. Skemerkelkies terwyl die son sak. Klink dit idillies? Dit is inderdaad.
Ek was onlangs die gas van Club Med op Mauritius en het verskeie redes opgespoor waarom hierdie eiland op jou emmerlys moet wees.
1. Dis Mauritius!
Natuurlik is die natuurskoon en eilandlewenstyl oorgenoeg rede om hierdie pragtige plek te besoek, maar het jy geweet dat die vlug jou slegs vier uur vat? Suid-Afrikaners het boonop nie ‘n visum nodig nie, net ‘n paspoort, natuurlik. Daar word ook nie spesifieke inentings benodig nie en die taal is nie eens ‘n probleem nie. Die amptelike voertaal is Engels. Jy kan dus selfs op die nippertjie ‘n reis daarheen beplan.
2. Daar is talle aktiwiteite
Watersport, landsport, opwindende uitstappies – jy kan daar doen net waarvoor jy lus is. Die water-en landsport is in die Club Med-pakketprys ingesluit.
Die La Pointe aux Canonniers-oord bied die volgende aktiwiteite aan:
Op land
- Vlugbal
- Tennis
- Bocce (balspeletjie)
- Boogskiet
- Gim
In die water
- Seil
- Snorkel
- Staanroei
- Kajak
- Waterski en “wakeboarding”
- Glasbodemboot
- Waterfiksheid
Die La Plantation d’Albion-oord bied die volgende aktiwiteite aan:
Op land
- Sweefstokklasse
- Boogskiet
- Gholf
- Tennis
- Pilates
- Gim beskikbaar
- Tai Chi
- Joga
- Bocce (balspeletjie)
- Strandvlugbal
- Sokker
In die water
- Seil
- Skubaduik
- Staanroei
- Snorkel
- Kajak
3. Vermaak vir volwassenes
Daar is natuurlik hope vermaak vir gesinne, maar vir kinderlose mense wat graag sonder die gegil van kinderstemmetjies wil ontspan, is daar zen-ruimtes waar daar ‘n swembad en kroeg vir die grootmense is.
4. Hope vermaak vir kinders
Die oorde het afdelings, dienste en fasiliteite wat spesifiek op kinders en tieners gemik is en wat beloof om hulle gelukkig en besig te hou. Die oorde bied aktiwiteite vir verskillende ouderdomsgroepe aan en selfs babas word nie uitgesluit nie. La Pointe aux Canonniers het ‘n “Baby Club Med”-program waar babas van vier tot 23 maande kan gaan om te speel en verskillende kleure, klanke en materiale te ontdek.
5. Daar’s tyd vir niksdoen
As vakansie vir jou sinoniem met niksdoen is en om op die strand met ‘n boek te ontspan, kan jy dit natuurlik doen. Vir diegene wat gek is na pamperlang, is daar spa’s waar jy vir masserings en ander behandelings kan gaan. Spabehandelings is nie in die pakket ingesluit nie, maar mens kan jou sekerlik ‘n bederfie gun as jy met vakansie is?
6. Heerlike kos
Hierdie is eintlik een van my topdrieredes, maar ek wil nie hê dit moet klink of my week in Mauritius net om kos gedraai het nie … Of jy nou lus is vir pizza, steak, kerrie of oesters, daar is als en nog meer. Vir suikertande soos ek, wag daar ‘n behoorlike fees. Ek was uit my vel uit oor die “Soft serve-“masjien, wat anders as wat jy verwag nie roomys spuit nie, maar room. Club Med het ook temas waarvolgens jy vir aandete kan aantrek, maar dis nie verpligtend nie en net vir die pret.
7. Als is ingesluit
Mens het die keuse of jy jou eie vlugte wil bespreek en of jy wil hê Club Med moet dit sommer vir jou doen. As jy kies dat hulle jou vlugte moet bespreek, hoef jy basies net jou tas te pak en by die lughawe op te daag. Die res word alles vir jou gedoen en gereël. Kos, drankies, verblyf, kamerdiens, aktiwiteite en al die vermaak word in hul pakkette ingesluit. Selfs jou vervoer van die lughawe tot by die oord word gereël. Ek het gevind dat ‘n pakket baie beter is, want as jy apart vir elke drankie of maaltyd moet betaal, kan dit duur uitwerk.
8. ’n Opwindende naglewe
Jy kan die aande net soveel soos heerlike stranddae geniet, want daar is elke aand ‘n vertoning en/of partytjie met lekker musiek wat tot in die vroeë oggendure aanhou! Club Med het selfs ‘n toep waar jy na oordaktiwiteite kan loer.
9. As jy moet oefen, kan jy!
Jy is met vakansie so jy is die een wat kan besluit wat jy wil doen. As jy ‘n oefengeesdriftige is wat selfs op ‘n eiland moet oefen, is daar hope keuses. Avontuurvakansies word al hoe gewilder waar mense reis en aktiwiteite kombineer en die oord bied ‘n groot verskeidenheid van oefeninge soos waterfiksheid, joga en tai chi.
10. Gerieflike verblyf
Mens kan kies watter tipe jy verkies: ‘n See-uitsig of eerder nie? Cannoniers is onlangs opgeknap en die kamers het ‘n baie moderne gevoel. Club Med het ook ‘n digitale armband wat die ou kamerkaarte en sleutels vervang.
Klik hier om Club Med se webwerf te besoek