Moessorgski het gesorg dat Russiese volksverhale in dié 11 Hartman-prente in musiek voortleef
Deur JOHAN MYBURG
“Wat ’n tragedie vir die Russiese kuns wat nou wees agtergelaat is.” Dit is hoe die komponis Modest Moessorgski in 1873 op die dood van sy vriend, die Russiese argitek en skilder Viktor Hartman, gereageer het. Hartman was 39 en die vroeë dood van sy vriend was vir Moessorgski ’n gevoelige slag, ook omdat hulle saam na die vergestalting van ’n nuwe en eg Russiese kunsvorm gestreef het.
Tradisioneel Russiese motiewe wat Rusland sou kon bevry van die houvas wat Europa op die Russiese kultuuren kunslewe gehad het, was vir albei die oogmerk. Die volgende jaar, in 1874, het die kunskritikus Wladimir Stasov, ’n man wat as die vernaamste kunsskrywer van die 19de eeu in Rusland gereken is, ’n uitstalling in St Petersburg byeengebring van 400 van Hartman se waterverftekeninge. Dit was terloops Stasov wat met die beskrywing “Die magtige vyf” vorendag gekom het vir die komponiste wat hy gereken het Russiese musiek van Europese oorheersing sou kon bevry: Aleksander Borodin (1833–1887), César Cui (1835–1918), Mily Balakiref (1837–1910), Modest Moessorgski (1839–1881) en Nikolai Rimski-Korsakof (1844–1908).
Dit was ná ’n besoek aan dié uitstalling dat Moessorgski sy klavierwerk Prente op ’n uitstalling in Junie 1874 na aanleiding van 11 van Hartman se tekeninge geskryf het. Net ses van die prente het in argiewe behoue gebly, hoewel Stasov se beskrywing daarvan ’n idee van die werk gee. Moessorgski het egter gesorg dat Russiese volksverhale in dié 11 Hartmanprente in musiek voortleef. In dié 11 miniature skyn iets van Moessorgski se voorkeur vir die makabere deur, veral in die voorstellings van Die dwerg, Die ou kasteel, Katakombes en die vreesaanjaende Baba Jaga, die mitologiese vrouefiguur wat in die middel van ’n bos woon in ’n huis wat op hoenderpote staan en kinders vir ontbyt opvreet (iets soos die heks in Hansie en Grietjie).
LEES OOK: Klassieke klanke: Krzysztof Penderecki
Die onderskeie taferele het Moessorgski met ’n promenade verbind, ’n voorstelling van hoe die kyker van prent tot prent beweeg. Hoewel die bladmusiek vir Prente op ’n uitstalling eers in 1931 gepubliseer is, het Maurice Ravel dié werk deur middel van sy orkestrasie daarvan in 1921 ’n nog groter gehoor gegee. Soos Hartman is Moessorgski vroeg dood. Hy was jare lank ’n strawwe drinker en dié gewoonte het baie van sy vriende vervreem. Toe die vyf elkeen sy eie koers inslaan om ’n loopbaan te vestig, het dit Moessorgski bitter, alleen en depressief gelaat. Op 42 het ’n epileptiese aanval, waarskynlik deur vodka aangebring, sy einde beteken. Boris Godunov, sy opera oor die lewe van die Russiese tsaar, het hy in 1868/9 voltooi, hoewel die Marinski-teater gemeen het dit is te moeilik. Rimski-Korsakof se herorkestrering daarvan in 1896 het dié opera gewild gemaak.
Maar dalk is dit naas Prente op ’n uitstalling ook Nag op ’n kaal berg, een van die eerste Russiese toondigte, waarin Moessorgski voortleef. Dit is die vergestalting in musiek van ’n wilde heksesabbat naby Kiëf. Dis ’n vreesaanjaende affêre met opruiende musiek – totdat die kerkklok om 06:00 slaan, die son opkom en al wat ’n heks is in die niet verdwyn. Dié werk is ook deur Rimski-Korsakof verwerk en daar is mense wat meen Nag op ’n kaal berg is meer Rimski-Korsakof as Moessorgski. Nietemin is dit die suiwer oorspronklikheid van Moessorgski se komposisies wat uitstaan. En die feit dat hy ’n leeueaandeel in die vestiging van musiek in ’n definitiewe Russiese idioom gehad het.