Dis nie aldag dat ’n Stellenbosch wynplaas sy 100ste verjaardag vier nie
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Gaste is na die Middelvlei Landgoed se gewilde Boerebraai genooi, waar al die kos op die kole gemaak word en jy met braaibroodjies, boerewors, tjoppies, sosaties en selfs malvapoeding in ’n blikbeker, met die plaas se bekroonde wyne kuier.
Middelvlei se ryk geskiedenis dateer terug na 22 Februarie 1919, toe die twee Momberg-broers, Tinnie en Niels, die plaas vir £3 000 gekoop het. ’n Jaar later is die eerste sap gepars – hoofsaaklik vir gefortifiseerde wyn en 40 jaar later het hul twee seuns, Stiljan en Jan Bek die plaas geërf.
Die plaas se kelder is in 1941 gebou en in 1999 uitgebrei. In 1963 het Stiljan sy neef se gedeelte van die plaas uitgekoop en alleen-eienaar geword. Die jongste geslag Mombergs wat in 1995 by hul pa oorgeneem het, Tinnie en Ben, het moderne wynmaak- en wingerdboukundige tegnieke ingebring. Ben se vrou, Jeanneret, behartig die bemarking.
“Ons wynmaak-filosofie is daarop gefokus om meer vruggedrewe wyne te skep met sagter en sappiger tanniene – ’n proses wat in die wingerde begin en in die kelder voortgesit word,” het Tinnie by die geleentheid vertel. Gaste kon ’n indrukwekkende lys wyne van die plaas se kelder proe: 16 in totaal, waarvan die oudste oesjaar die 1978 Middelvlei Pinotage was. Ander ouer oesjare was die 1989 Middelvlei Pinotage; en van dieselfde jaar die Shiraz en Cabernet Sauvignon.
Die 130 hektaar plaas is bekend vir sy Pinotage, maar het drie wynreekse: die premie-wynreeks, Middelvlei, wat bestaan uit ’n Free Run Pinotage, ’n Cabernet Sauvignon, ’n Shiraz, ’n Pinotage Merlot en ’n ongehoute Chardonnay. Daar is ook die vlagskip Momberg, ’n versnit van Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon en Merlot, wat alles in nuwe Franse eikehout verouder word; en Rooster, ’n gemaklike reeks drinkwyne wat uit ’n lig gehoute Chardonnay, Sauvignon Blanc, Merlot en Shiraz bestaan.
Jeanneret het vertel dat die Momberg ’n ode aan haar skoonpa, Stiljan, is, wat die vader van Pinotage op Middelvlei is. Tinnie het vertel dat sy grootste uitdaging as wynmaker is om wyne te maak wat binne die volgende twee of drie jaar gedrink kan word, maar steeds uitstekende verouderingspotensiaal het.