Dis nie elke dag dat ’n uitnodiging in jou inboks beland vir middagete en ’n toer aan boord die Queen Mary 2 nie. Maryke Roberts was gelukkig genoeg toe die skip onlangs in Tafelbaai aangedoen het op ‘n wêreldreis van 120 dae
Woorde en foto’s: Maryke Roberts en verskaf
Mens sien die reuse skip in die hawe, nog lank voor jy om die draai op die snelweg kom. Ook geen wonder nie, sy weeg 151400 ton en is 345 meter lank en op haar hoogste punt, 72 meter hoog. Die algehele hoogte is beperk, omdat die Queen Mary 2 onder New York se Verazzano Narrows-brug moet kan deurvaar.
Queen Mary 2 is op 8 Januarie 2004 gedoop en onderneem drie dae later haar eerste vaart van Southampton tot Fort Lauderdale.
Die skip het £550 miljoen gekos en kan ’n maksimum van 3090 passasiers vervoer. Daar is ’n totaal van 1238 bemanning aan boord wat van 60 nasionaliteite afkomstig is; daar is 17 dekke, waarvan 14 vir passasiers toeganklik is.
Daar is 22 passasierhysbakke en vier reuse wenteltrappe.
Queen Mary 2 doen gereeld transatlantiese reise tussen Southampton en New York, asook reise na die Meditereense See, Noord-Europa, die Karibiese See en Kanada.
Om die skip teen 30 knope te laat vaar, word die omgewingsvriendelike aanleg gebruik met vier diesel-enjins en twee gasturbines.
Die skip het drie 23-ton ankers – twee is in gebruik en een ekstra. Die ankerkettings is gesamentlik 770 meter lank.
Queen Mary 2 is die tegnologies-gevorderdste skip ooit gebou – wat beheer en beweegbaarheid betref. Die hele skip kan deur ’n enkele stuurstang vanaf die brug beheer word.
Die skip se wynlys het 343 verskillende etikette en jaarliks word 230 000 bottels aan boord gedrink. Altesaam 1,5 miljoen ander drankies word jaarliks bedien.
Daar word 1,350 mijoen teesakkies – genoeg om ’n Olimpiese swembad te vul, 1,728 miljoen eiers en 540 000 tandestokkies gebruik. Daar word ook 7 000 bokse aarbeie gebruik.
Daar is 30 kamers vir gestremdes en die skip beskik oor die grootste hoeveelheid kamers met balkonne – meer as enige ander skip wat die Britse mark bedien (955 in totaal). Die grootste passasier-getalle kom van Brittanje, Duitsland en Amerika.
So tussen al die lekker eet deur, verneem ons daar is baie gaste wat permanent aan boord bly en elke reis meemaak. In elke hawe word hulle per bus vervoer na die toeriste-attraksies, om saans weer aan boord te kom slaap.