Al gewonder wat tydens vrugbaarheidsbehandeling gebeur? Lees hier
Vrugbaarheidstoetse sluit die volgende in:
Medikasie wanneer vroue nie ovuleer nie om die groei van die eiers te stimuleer. Dit word versigtig gemonitor totdat hulle ryp is sodat medikasie ingespuit kan word wat ovulasie aan die gang sit.
Kunsmatige inseminasie waartydens die eiertjies gestimuleer en gemonitor word soos hierbo beskryf.
Wanneer ovulasie plaasvind, word die man se sperms in die uterus ingespuit. Hierdie prosedure vind in die dokter se spreekkamer plaas.
In vitro as die eiers deur medikasie wat deur middel van inspuitings toegedien word, gestimuleer word. Wanneer die eiers ryp is, word hulle geoes (uit die uterus gehaal). Die man se sperms word geneem en bevrugting vind in die laboratorium plaas. Die embrio’s groei vir drie tot vyf dae in die laboratorium waarna hulle in die uterus teruggeplaas word. Hierdie prosedure asook die oes van die eiers vind in ´n spesiale vertrek in die hospitaal plaas. Swangerskap hang daarvan af of ´n embrio aan die uteruswand vasgroei en of verdere selverdeling plaasvind. ´n Bloedtoets kan tien dae later aandui of die in vitro suksesvol was.
ICSI (intracytoplasmic sperm-inspuiting) is ‘n soort in vitro, maar elke eiertjie word met ´n gekose (die sterkste en gesondste) sperm ingespuit om die kanse vir bevrugting te verbeter. Daar word van skenkerspermselle of eierselle gebruik gemaak. Dieselfde prosedure word gevolg as met in vitro, maar ´n skenker se eiertjies of sperms (afhangende van die infertiliteitsprobleem) word gebruik.
Bron: Die e-boek Kinderlose Moederhart beskikbaar by [email protected].
LEES OOK: Swangerskap verander jou brein
Vyf wenke as jy vrugbaarheidsbehandeling ondergaan
Karlien Erasmus van Erasmustherapy verskaf die volgende wenke aan vroue wat vrugbaarheidsbehandeling ondergaan:
PRAAT Jy en jou man moet genoeg met mekaar praat. Wees eerlik oor jul gevoelens, verwagtings, hartseer en vrese. Praat ook met vriende en kollegas wat jou graag wil ondersteun. Wees egter kieskeurig oor met wie jy dit deel. Jy hoef dit nie aan almal uit te blaker nie – net waar jy veilig voel. ´n Sielkundige kan ´n objektiewe klankbord wees in die proses van verdere besluitneming.
STEL GRENSE Stel grense vir dit waarmee jy gemaklik is soos om nie ´n vriendin se ooievaarstee by te woon as jy op die oomblik deur ´n seer proses gaan nie.
EIE TYD Gun jouself tyd om dinge te doen wat goed vir jou is.
ROUPROSES Gun jouself tyd om te rou vir die tydperk wat jy nie kon swanger word nie, want julle ervaar ook ´n verlies. Gee erkenning en behoorlike uitdrukking daaraan.
ISOLASIE Waak daarteen om jou te veel te isoleer en van aktiwiteite wat kinders behels, uit te sluit. Te veel afsondering kan depressiesimptome aanhelp.