Riette Rust kyk in ons 23 Mei-uitgawe na die voordele van meditasie en vertel wat dit vir haar persoonlik beteken het. Hier antwoord Mohanji, die gids wat haar geleer mediteer het, nog vrae
Riette Rust
MOHANJI AAN DIE WOORD
Hier is ’n verkorte weergawe van die ghoeroe se antwoorde:
Wat sou jy sê het die moderne mens op geestelike vlak nodig?
Drie dinge: ’n ander benadering tot opvoeding, stilte en meditasie. Ons opvoedingstelsel leer ons om wenners te wees, dus ook om mee te ding. Mededinging skep stres.
Dis eerder wanneer jy misluk dat jy leer en groei en dís ’n verdere stap tot sukses. Word so dikwels moontlik alleen stil. Só leer jy jouself verstaan, elke faset van jou. Jy sal leer om na jou liggaamlike behoeftes te luister en om daaraan toe te gee, soos om te eet wanneer jy honger is, of te urineer wanneer jy moet (en nie jou urine terug te hou nie). As jy na jou liggaam luister, sal jy gesond wees.
Mediteer. Verkeer in die hoër bewussynsvlak, word een met die Almagtige. Jesus was sonder vrees en as jy absoluut met Hom verbind, sal jy ook sonder vrees wees en totale vryheid ervaar.
Hoe behoort ons negatiewe mense te hanteer?
Besef eerstens dat daar negatiwiteit moet wees om positiwiteit te kan verstaan. Soos jy deur meditasie ’n hoër bewussynsvlak ontwikkel, raak jy meer en meer sensitief vir ander se ingesteldheid en kan negatiewe mense daarom jou energie tap.
Vermy hulle sover moontlik. As die negatiewe persoon ’n gesins- of familielid is, word dit moeiliker. Sorg daarom dat jy geanker is in en verbind is met jou ruggraat.
As jy jou bewussyn soontoe verskuif en jy deur jou sintuie bewus word van die 360 grade reg rondom jou, sal die effek van gebeure, soos negatiwiteit, jou nie so diep raak of jou oorweldig nie.
Jy sal ook vanuit ’n hoër bewussynsvlak optree en geen spanning, vrees of skuldgevoelens hê nie. Jy sal onvoorwaardelike liefde en empatie kan gee en kan ontvang en ook totaal gelate en dankbaar wees.
Só word jy ’n gebalanseerde mens. Lei jouself op om hierdie bewussynsvlak maklik en gou te kan bereik en só die energie wat negatiewe mense of ander omstandighede uit jou tap, dadelik te kan vervang.
Probeer gerus ook my 360 grade-meditasie (sien www.mohanji.org).
Is daar ’n oplossing vir slapeloosheid?
Alles in jou liggaam gebeur spontaan, ons haal asem, ons spysvertering verrig sy funksies, alles onbewustelik. Wanneer denke domineer, beheer dit ons en skeep ons ons liggaamlike behoeftes af.
Vrees ontstaan wanneer denke domineer. Alle emosies, gevoelens en vrese gaan sit ons ons liggaamselle. Dis dan dat jy nie kan slaap nie. Maar as jy ingestel is op jou liggaam wat altyd vir jou die waarheid vertel (soos om te sê wanneer jy dors of vaak is), is jy ook op jou bewussyn ingeskakel.
Dit help ook nie om oor gister of môre bekommerd te wees nie. Al wat jy het, is nou. Waarom dus vrees en daarom wakker lê? Vrees is onkunde, dit het geen waarde nie. Gee jou vrese totaal aan ’n Hoër Hand oor.
En finansiële vrees?
Geld is die verkeerde doelwit om na te jaag. Wees eerder ten volle in jou werk. Beskou jou werk as ’n vorm van aanbidding. Sorg dat jy alles daarvan weet en werk teen optimale vlak. (Dit beteken nie jy hoef langer ure te werk nie, jy sal jouself net uitbrand.) Die geld sal dan vanself kom.
Beteken dit passievolle joernaliste ook welgesteld kan word?
Moet nooit dit waarvoor jy geroepe is, los nie. Bly getrou aan jouself, dis wie jy is. Maar, as jy finansieel nie so goed daaraan toe is nie, doen twee werke of beoefen dit waarvoor jy werklik lief is as stokperdjie.
Een werk vir die brood en botter, die ander vir die passie. Daarna kan jy, soos wat ek ook gedoen het, geleidelik na jou ware liefde as beroep oorskuif, want dan kan jy dit bekostig.
Is daar ’n oplossing vir die gebrek aan vrede op aarde?
Wees jouself, gun ander om dieselfde te doen. Moet dus nie verwagtinge van enigiemand hê nie, veral nie dat jy hulle sal kan verander nie.
Dit skep net verdriet. Daar is nóg ’n geheim vir vrede en geluk: Die nóú is al wat tel. Gister is verby, jy kan niks daaraan doen nie.
Dis ’n mors van tyd om oor môre bekommerd te wees, want wie sê jy is dan nog hier? Al wat ons moet doen, is om ’n bydrae tot hierdie wêreld te maak, aktief betrokke te wees, jou alles te gee.
En as jy in God, of enige ander god, glo, doen dit 100%.