Kies die regte mediese fonds vir jou behoeftes. Hier’s hoe. In ons 5 September-uitgawe kyk ons na wat jy kan doen as jou mediese versekering vroeg in die jaar uitgeput raak.
Ansja Ferreira
Vra kwotasies by verskillende mediese fondse aan en bestudeer wat elkeen bied. Die goedkoopste een is nie altyd die beste nie.
Dit is noodsaaklik om jaarliks jou mediese fonds te evalueer. As jy agterkom dat jou dag-tot-dag-voordele reeds vroeg in die jaar opgebruik is en jy die res van die jaar self alle dag-tot-dag- mediese uitgawes moet betaal, is dit tyd om jou opsies te heroorweeg.
Maak ’n lys van jou afhanklikes en jou eie behoeftes waaraan die mediese fonds moet voldoen. Doen ook navorsing oor die verskillende opsies en mediese fondse wat beskikbaar is.
As jy ’n lys van al die geregistreerde skemas wil bekom, besoek die Raad vir Mediese Skemas (CMS) se webwerf by www.medicalschemes.com. Die verskillende mediese skemas kan dan regstreeks vir meer inligting en ’n uiteensetting van kostes en voordele gekontak word.
Jy kan ook by ’n finansiële raadgewer of mediese fonds-makelaar vir raad gaan aanklop. Daar is ook sekere webwerwe beskikbaar waar verskillende mediese fondse met mekaar vergelyk word. (Tik in jou soekenjin in: Medical Aid Comparisons South Africa en jy sal verskeie opsies vind.)
- Besoek www.healthynumbers.co.za en www.mediease.co.za vir meer inligting.
- Kontak Connie by [email protected]