Werkende ma’s ervaar dikwels skuldgevoelens
JB Roux
Self in ons ma’s se tyd was om voltyds na hul kinders om te sien, ‘n luukse wat baie vroue nie kon bekostig nie: Die meeste middelklasgesinne kan eenvoudig nie hul begroting sonder twéé salarisse laat klop nie.
Veral as hulle vroeg reeds moet begin voorsiening maak vir hul kinders se naskoolse opleiding.
Maar as ‘n mens ma’s vra hoe hulle daaroor voel om hul kinders bedags in iemand anders se sorg moet laat, is die antwoord amper altyd: “Ek voel skuldig.”
Felicity Huffman, aktrise van onder meer Desperate Housewives skryf op haar blog: “Toe ek en Sabrina, my vriendin en ‘n vervaardiger van Desperate Housewives, agt jaar gelede aan dié reeks begin werk het, was my kinders twee en drie jaar oud. Haar seun was vier. Sy is ‘n wonderlike vrou en ons het baie aanklank by mekaar gevind wanneer ons gesels het oor mawees en waar om cool, goedkoop skoene te koop! Ons het lang ure gewerk en moes naweke baie personderhoude toestaan om die reeks te help bemark, veral gedurende die eerste paar jaar.
Maar dit was ‘n verligting om soggens werk toe te kon gaan – dit het vir my as ma soos verlof gevoel. Dit het natuurlik aanleiding tot groot skuldgevoelens gegee. My kinders het gehuil wanneer ek werk toe gaan en dikwels ook wanneer ek saans teruggekeer het huis toe. Hulle het selfs gehuil toe ek destyds weggeglip het om ‘n oudisie vir Desperate Housewives af te lê en dit aan my man oorgelaat het om hulle te bad.
Maar ek was dol oor my werk. Ek is steeds en ek was baie bevoorreg om die rol te kry. Die eerste seisoen het verbygevlieg; ons was kort voor lank besig om aan die tweede seisoen se episodes te werk en ons was selfs besiger as voorheen.”
Oor wat voel ma’s skuldig?
Afgesien daarvan dat hulle sleg voel omdat hulle nie hul kinders die aandag kan gee wat hulle dringend nodig het nie, voel baie ma’s ook sleg omdat hulle dalk nie genoeg verdien om hul kinders alles te gee wat hulle wil hê of nodig het nie.
Ma’s voel ook skuldig omdat hulle dikwels te besig of te moeg is om saam te gaan tydens op gesinsuitstappies, of omdat hulle op die TV staatmaak om hul kinders besig te hou terwyl hulle agterstallige huiswerk inhaal. Hulle het dikwels ook nie genoeg geduld met hul kinders nie.
Joanne Evans, hoof van bemarking by ‘n maatskappy wat babasorgprodukte vervaardig, sê ma’s se skuldgevoelens begin dikwels reeds enkele dae ná ‘n kind se geboorte, hoofsaaklik as gevolg van die mites oor hoe ma’s hul babas moet grootmaak.
“Of ons nou besluit om ‘n bottel te gebruik pleks daarvan om te borsvoed – ma’s voel baie gou ná die geboorte asof hulle iets verkeerd doen. En ‘n studie bewys dat die skuldgevoelens nooit weggaan nie; dit word eerder erger soos die baba ouer word.
“Selfs om te voel dat hulle ‘n bietjie alleentyd nodig het, laat vroue voel asof hulle nie ‘n goeie ma’s is nie. En dit lyk asof ma’s alles erger maak deur druk op hulleself te plaas. Dis belangrik vir ma’s om te ontspan en nie so bekommerd te wees oor of hulle optree soos daar blykbaar van hulle verwag word nie, sodat hulle hul kinders kan geniet – sonder skuldgevoelens.
“Volgens ‘n studie is die feit dat hulle nie vir hulle jong kind ‘n boetie of sussie kan gee nie, om te veel tyd aan huiswerk te bestee en te sukkel om genoeg geld vir vakansies te hê, óók ‘snellers’ vir skuldgevoelens.
“Skoonma’s, eie ma’s, eggenotes en selfs kinders dra dikwels by tot skuldgevoelens – sowat 41% ma’s beweer hul kinders het al iets gesê wat hulle laat sleg voel het. Verreweg die meeste ma’s bekommer hulle daaroor of hulle hul kinders goed en reg grootmaak.
“Die meeste ma’s bekommer hulle ook daaroor dat ander hul opvoedingsmetodes beoordeel.
“Volgens die studie sal driekwart werkende ma’s ‘n bietjie ondersteuning wil hê en beweer hulle dat dit hulle minder skuldig sal laat voel.”
Volgens Evans is die belangrikste aspek van mawees om ‘n liefdevolle en omgee-omgewing te skep. As ma’s dit besef, sal hulle weet daar is geen rede vir hulle om skuldig te voel nie.
Mans vs vroue
Felicity Huffman skryf verder op ? dag dat op ? dag erge selfkastyding ervaar het.
“Ek het vir Sabrina gevra hoe sý die skuldgevoelens hanteer.
‘Ek hoef nie my skuldgevoelens te ‘hanteer’ nie,’ het Sabrina gesê: ‘Ek het besluit om nie skuldgevoelens te hê nie.’
“Ek het na haar gekyk asof sy dink die hemel is groen.
“Hoe het jy dít reggekry?” wou ek weet. “En hoe kan ek myself so ver kry om dieselfde te voel?”
Sy het gesê sy het altyd net so skuldig gevoel soos ek – totdat sy ‘n meningspeiling in ‘n glanstydskrif teëgekom het wat wou vasstel hoeveel ouers skuldig gevoel het omdat hulle moes werk. Die uitslag was: 87% vroue wat moes werk, het skuldgevoelens gehad, maar onder mans was dit 0%.
Dis reg: ‘n groot persentasie vroue het skuldig gevoel en die mans … glad nie! Nie één het skuldig gevoel nie. Ek besef die tydskrif het moontlik ‘n miljoen ouers ondervra, of dalk net tien. Maar die peiling het Sabrina perspektief gegee: As sy ‘n man was, sou niemand die feit dat sy voltyds gewerk het bevraagteken het nie – sy ook nie!
Die realiteit is: Sabrina is haar gesin se enigste broodwinner. Sy werk en haar man bly bedags by die huis. Sy het nie ‘n keuse nie: Sy móét werk.
Wat mans betref, is werk nie ‘n keuse nie. Om die waarheid te sê, as hulle nie voltyds werk nie, kry hulle emosioneel swaar en kan dit ‘n identiteitskrisis word, veral as hulle hul beroep geniet. Hulle oorweeg dit nie om op te hou werk wanneer kinders op die toneel kom nie en niemand verwag dit van hulle nie. Mans beskou nie ‘n voltydse werk as iets wat hul kind of kinders kan skade aandoen nie. Hulle dink nie eens so daaraan nie.
BRONNE:
http://whattheflicka.com/mother-guilt-part-1-why-do-i-feel-so-guilty-all-the-time/