Agt vrae aan Marno van der Merwe, sanger, liedjieskrywer en akteur
Hoe ontspan jy weg van die verhoog en sportveld?
Ek geniet dit om tyd met vriende en familie deur te bring en ’n lekker braai laat alle stres verdwyn.
Wat eet jy graag wat jy nie tuis berei nie?
Ek is mal oor pizza, maar geen knoffel asseblief. Daar is twee dinge wat mense nie van my kan verstaan nie en dis twee goed wat ek nie kan eet nie. Knoffel en avokado. Ek hou van rissies en pynappel en my pizza moet altyd dun kors hê. Met nog bietjie Tabasco nou en dan. Lekker.
Wie is jou rolmodelle?
Daar is baie mense wat my inspireer en by wie ek al baie geleer het. Elvis Blue is vir my ’n groot inspirasie en ek sal ook nog graag saam met Karen Zoid en Steve Hofmeyr wil werk omdat hul musiek die tipe musiek is wat ek self wil skryf en sing.
Wat is die beste raad wat jy al gekry het?
Dat mislukkings ’n vervaldatum het en dat jy altyd jou vrese in die oë moet kyk, sodat jy dit stuk-vir-stuk kan afbreek. Ek volg en doen gewoonlik maar wat my hart sê, anders werk dinge gewoonlik nie goed uit nie.
Hoe belangrik is musiekvideo’s in SA om jou beeld te bou?
Musiek ironies het ’n baie visuele medium geword met die internet. Dit het begin met TV en MTV, maar met Youtube nou is dit baie belangrik. Mense wil sien waarna hulle luister.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Nog baie reis, trou, kinders hê en onvergeetlike tye saam familie en vriende. En beslis nog goeie uitdagende rolle en liedjies te skryf wat ek op trots kan is.
Waar is huis en wat beteken die beginsel vir jou?
Ek is nou al 12 jaar op my eie en rondom Gauteng. Ek bly tans in Centurion, maar huis is steeds vir my waar ek grootgeword het op die plot waar my ouers in Rustenburg bly. Daar met die groot huis, groot oop groen grasperke, perde, skape en familie, daar voel ek waarlik myself.
Jy het twee glanskookkompetisies op jou kerfstok. Is jy lief vir kook en hoe het die kompetisies gebeur?
Ek sal nie sê ek is lief daarvoor nie. Ek geniet dit in ’n groot kombuis saam met iemand, as ek kan kuier en grappies maak, terwyl ek dit doen. Dis baie selde wat ek net vir myself sal kook.
Wat die kookkompetisies aanbetref, dink ek ek was ek meer gelukkig as enigiets anders. Ek is partykeer goed om ’n haas uit ‘n hoed uit te ruk maar ek moet sê dit was vir my groot genot. Ek hou van kos en ek is kompeterend, so skryf my enige tyd in vir ’n kookkompetisie.