Die veelsydige aktrise, komediant, sosiale kommentator en teatervervaardiger Margit Meyer-Rödenbeck, dalk beter bekend om haar alter ego Dowwe Dolla, deel haar gunstelinggoed.
CHRISTIAAN J DE SWARDT
Margit Meyer-Rödenbeck (46) is bedrywig. Daar’s die nuwe vertoning, #dowwedolla, opvoerings van die amper-pantomime Liewe Heksie: Flower Power, die skryf en vervaardiging van die nuwe Vlooi-produksie, opvoedkundige kinderteater vir Kunstekaap, geleentsheidscompére as myself en as Dowwe Dolla, ‘n TV-kletsprogram wat later vanjaar verfilm word, onderhandelings vir ‘n moontlike rolprent en raamwerkvoorbereiding vir ‘n nuwe pantomime en ‘n nuwe vertoning (saam met Hannes van Wyk) vir 2017 … Hopelik ook weer ‘n radioprogram, maar: “Eintlik droom ek regtig net oor méér tyd saam met die mense wat ek lief het – veral my gesin.
“Hopelik kan ek eerder ‘n verskil maak in die mense naby my se lewe – ‘n blywende verskil.”
Wanneer sy nie werk nie, leef sy (óók) voluit!
Vreugdes: Die herinneringe aan my vriendin, sielsgenoot en oorlede moeder, Retha, my liefdevolle 80-jarige vader, Werner Albrecht Meyer-Rodenbeck,‘n Duitser wat as 19-jarige na Suid-Afrika geëmigreer het, my ousus Heike, my man, Jurgen Human, en ons wonderwerk-baba, Luca, ons sesjarige dogtertjie.
Kleredrag: Skoene. Ek is nou nie Ilmelda Marcos nie, maar ai, ‘n móói skoen … Ek het so 70 pare. Ek hou van Errol Arendz se skoene: elegant en soms uitspattig. My duurste skoene is nou juis Dolla s’n – wat van Amerika ingevoer moes word, wat saam met invoerbelasting nou al by R2 500 trek. Maar hulle is beautiful en maak ‘n statement. Dis juis dit: skoene maak ‘n statement. Maar ek hou ook van gemaklike skoene, soos Tsjongas as ? mens die dag op ‘n drafstap is. Natuurlik wil ek darem skaflik lyk, maar jy sal my dikwels heeldag sommer in my gimklere betrap. Ek sit ook selde grimering aan. Ek is regtig nie ‘n modewuste slaaf nie, maar mooi aantrek en versorg lyk, is lekker!
Te ete: Ek vergryp my aan brood! En dêmmit dan sukkel jy om dit af te skud … Ek is nie ‘n gourmet-sjef nie, maar kosmaak is terapeuties.
Te drinke: Rooiwyn. Soms vergryp ek my aan rooiwyn – glad nie aspris nie dit gebeur soms net en dan word jy die volgende oggend gestraf …
Kleur: Groen – enige skakering daarvan. Dis lewendig. Dan rooi en dan swart.
Klank: Lag. Ekself doen dit deesdae té min. Ek dink ons is so gejaag en almal ly aan post-traumatiese stres.”.
Geur: Seep en skoon parfuum – Kenzo se Flowers.
Aanraking: Net nie my ore nie; ek gril. Ek is nie ‘n huggy-touchy mens nie. Ek hou van my persoonlike ruimte. Hand- en voet-aanraking is spesiaal – nét vir geliefdes!
Gevoel en emosie: Stille vreedsaamheid.
Bederf: Elke tien dae gun ek myself ‘n gesondheidsmassering, ‘n mani- en pedikuur en diepreinigende velsorg. My lyf en my stem is my gereedskap; al daai spanning krop in jou spiere op en dit moet verlig word. Boonop wil ‘n vrou haarself soms bederf om op haar beste te lyk. Ek lees letterlik engiets. Langs my bed lê nou die volgende stapel wat ek nog moet lees: The Book Thief, Vlam in die sneeu van Andre P Brink en Ingrid Jonker. Ek is tans besig met John Cleese se biografie. Soms net vir lekker vinnige lees, geniet ek James Patterson. Lees bied ontvlugting en die gimnasium ook: nie omdat ek altyd wil nie, maar dis goed vir die lyf én die kop!
Verslawing: Bordspeletjies. Almal spot altyd. As Margit jou vir ete nooi, nooi sy jou eintlik om speletjies te kom speel en dan moet jy aanhou speel tot sy wen! Gelukkig is ek nogal goed met bordspeletjies … Ek kan regtig dag en nag speel en moet my dwing om dit sover moontlik weg te pak én net vir ‘n bederfie uit te haal!
Blomme en plante: Daisies, rose, vredeslelies en varings. Ons geniet ons tuin by ons ruim oopplanplek met ruim vensters en baie skuifdeure wat die lig en lug laat instroom in Proteavallei, Bellville. Ek het geensins ? hand met ? plant nie, maar plant graag blomme. Ek en Luca plant elke lente petunias. Die tuin is struikbeplant en altyd lowergroen.
Beheptheid: Met Luca, maar dit is normaal! Maar ek kan soms heeltemal behep – selfs effens obsessief – raak as iets my pla of as ek voel iemand is te nagekom. Dan wil ek dit onmiddellik uitsorteer en dis is gewoonlik nie die regte tyd daarvoor nie. Ek worstel regtig met onregverdigheid.
Vakansieplek: Ons vakansiehuis op Pringlebaai én Italië, waar ons nie ‘n vakansiehuis het nie!
Diere: Katte, luiperds en olifante. Ons het drie katte. Daar is Trixie, tien jaar oud en genoem na my teater-ma, Trix Pienaar. Trixie is so ‘n gemengde gemmer; selle kleurskema as Trix, die mens. Sy – Trixie! – is ‘n regte Garfield: baie vet en baie liefdevol – ‘n groot snoesspeelding. Sy het ná ‘n jaar blind geword, maar cope ongelooflik. Luca het so ses maande terug twee babakatte gekry: Sokkies en Nutmeg – wat onlangs sy eerste voëltjie gevang het. Luca het hul name uitgedink en sy is dol oor katte en pikkewyne. Ons kan hulle ongelukkig nie aanhou nie; anders het ons seker. Sy het oor die 60 snoesdiere, waarby ‘n halfdosyn pikkewyne pryk. Almal het name, elkeen met ‘n eie storie. En dan het ons Doppie, die skilpad, wat sy vir haar derde verjaardag gekry het. Ons diere se lawwighede bied ons baie pret.”
Musiekgenres: Rock en ligte Afrikaans musiek soos Koos Kombuis, Karen Zoid, Stef Bos, Chris Chameloen, Arno Carstens, Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom en Lucas Maree.
Skrywers en boeke: PG du Plessis, Marlene van Niekerk, Dana Snyman en Isabel Allende.
Toeskouersport: Rugby en tennis. Foeitog, die sportgene het my gepass. Wel, toe ek klein was, wou ek so graag eendag as ek groot is, ‘n Olimpiese swemmer raak. Dis mos daardie sesjarige ouderom waar jy een dag ‘n dokter is, die volgende dag ‘n swemmer en dan mej SA. (Dit laat my nogal dink aan my Luca, wat in ‘n stadium ook ‘n dokter wil word, toe ‘n juffrou en toe ‘n kassier … Nou moet dit egter erg warm wees vóór ek in ‘n swembad klim! Op laerskool het ek ‘n bietjie netbal gespeel, tennis was ‘n saak van gebed en hokkie het ek ná die eerste game opgegee – toe iemand my enkel goed gemoker het!”
Realiteitsprogram: Survivor. Die uitdaging aan die deelnemers herinner my daaraan dat ek nog altyd oorleef het!
Moerigmakers: Die mishandeling en verwaarlosing van die weerloses – kinders, bejaardes en diere – ontstel my. Bedelaars met babas en kinders in die bloedige son by ‘n robot maak my die bliksem in: Ek wil die ma skud en die kind wegvat. En padvarke, leuenaars, korrupsie en politici wat ons geld mors en dink ons is dom.
Gunstelingaanhaling: Life is a journey; not a destination.
Gunsteling-sêding: Ja! Helaas, daarom sukkel om nee te sê en ek maak myself moeg met dinge wat ek nie kan verander nie …
- Verjaardag: 20 Januarie (1970)
- Optredes: www.dowwedolla.co.za of Carna Visser: [email protected]
- Margit se KKNK-produksie #DowweDolla word van 24 tot 30 Maart op Oudtshoorn by die 22ste fees aangebied. Dolla storm die kuberruimte in om die verskil tussen Twitter, Facebook, Instagram en Solitaire te probeer deconstruct. In die proses onthul sy die werklike redes hoekom vrouens nog mans “aanhou”, sy ontleed die Suid-Afrikaanse “braai” in detail – uit ’n blonde sielkundige oogpunt. En natuurlik lei dit na ingewikkelde onderwerpe soos trofeejag, homeopatie, arachnofobie en hondsdolheid. En vir die éérste keer maak ouma Dowe Dolla ook haar verskyning met ’n wyser en meer histeriese – of is dit dalk historiese? – perspektief op gebeure van die dag. Dis proudlysêfafrican! Spelleiding en musiek deur Emile Minie, teks en lirieke deur Jurgen Human, kostuumontwerp deur Heinz in Style en verhoogbestuur deur Carna Visser – vir Arena-Produksiehuis.
- Margit se bekroonde pantomime Liewe Heksie: Flower Power is te sien by die Brooklyn-teater in Pretoria van 19 April tot 1 Mei – Liewe Heksie: Flower Power is vanjaar vir vier kykNET-Fiëstas benoem.
- Margit se teaterrestaurant, Die Boer, het vanjaar weer ‘n sateliet-venue by die KKNK. Loer by www.dieboer.com
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.