Volgens Diane Mallaby, ’n sielkundige van Kaapstad, behoort alle selfdooddreigemente ernstig opgeneem te word.
Ansja Ferreira
“By mans spesifiek is die risiko vir die suksesvolle uitvoering van ’n selfdood geweldig hoog aangesien hulle tot meer gewelddadige optrede oorgaan en dit dus vier keer meer waarskynlik is dat hulle met hul eerste probeerslag suksesvol sal wees.”
Suid-Afrikaanse en internasionale kenner op die gebied van stres en selfdood, prof Lourens Schlebusch, stem saam: “Elke selfdooddreigement behoort as gevaarlik beskou te word. Selfs as jy voel die persoon is baie ver weg van ’n poging af, kan hy jou dalk verkeerd bewys,” sê hy.
Lourens verduidelik dat pasiënte met selfdoodneigings dikwels met depressie worstel, wat meestal ongediagnoseerd is in mans, omdat hulle nie maklik hul emosies beskryf of hulp soek vir hul hartseer nie. Groot lewensveranderings, soos ’n dood in die familie, ’n verhouding wat opbreek of finansiële bekommernisse, kan depressie veroorsaak. Tradisioneel word mans as die broodwinners en voorsieners gesien en daarom kan mans veral finansiële probleme baie ernstig opneem. Alkohol kan ook ’n groot invloed op hul buie en emosies hê.
Die gevaartekens om voor op te let, is volgens Diane die onttrekking van vriende en familie en aktiwiteite wat eens geniet is, werk en sosiale byeenkomste wat gemis word, geïrriteerdheid en aggressie en dinge wat gesê word, soos: “Ek is ’n las vir my familie”, gevoelens van hopeloosheid, verhoogde rokery of drinkery, lae energievlakke en ’n gebrek aan konsentrasie sowel as veranderinge in die gewone eet- en/of slaappatrone.
Vir gratis hulp en meer inligting, skakel die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-steungroep (SADAG) by 0800 567 567 of SMS 31393, of besoek www.sadag.org