Ons kyk in ons 6 Junie-uitgawe na manipulasie. Hier is nog wenke om die manipuleerder in jou lewe vas te vat
LUISA VAN DER LINDE
Hoor jy gereeld die volgende by jou kind, lewensmaat, kollega, geliefde, vriend of vriendin?: “As jy regtig lief is vir my …” of “En dit ná alles wat ek vir jou gedoen het!”
Dr Susan Forward, ‘n terapeut, dosent en outeur van Los Angeles, Kalifornië, sê manipulasie in ‘n erge graad is ‘n vorm van emosionele afpersing. Dit is wat mense wat ons goed ken gebruik om ons te dreig as ons nie doen wat hulle wil hê nie.
Dr Susan sê manipulasie word juis deur diegene gebruik wat jou diepste geheime en swak plekke ken. “Maak nie saak hoeveel hulle vir jou omgee nie, hulle gebruik hierdie intieme inligting om vir hulself voordeel te trek.”
Mense wat gemanipuleer word, is ook meer geneig om ‘n swak selfbeeld te hê en aan posttraumatiese stres te ly.
Só herken jy manipulasie
Manipulasie is moeilik om te herken, want manipuleerders maak van verskuilde aggressie gebruik. Hulle kom voor as sorgsame, brose mense of mense wat maklik seerkry. Dié taktiek wat hulle gebruik om mense te oorrompel, maak dit moeilik. Jy mag dalk hul behoefte sien dat jy hulle versorg, maar nie sien dat hulle voordeel uit jou probeer trek nie.
Emosionele manipuleerders ken mense se swak punte en gebruik dit tot hul voordeel. Hulle gebruik aktiewe tegnieke soos om kwaad te word, te jok, mense te intimideer, te skree of te boelie.
Passiewe manipulasiemetodes sluit in: sanik en kerm, om jou te ignoreer, om die slagoffer te speel of om onbepaald stil te bly.
Vat jy dit?
Manipuleerders floreer wanneer hulle gevoelens van vrees, verpligting en skuld saai. Mense wat die maklikste gemanipuleer kan word, voel gewoonlik:
• verantwoordelik vir ander se probleme;
• skuldig of jammer oor iets wat hulle aan die persoon gedoen het;
• bang vir verwerping;
• hulle wil die manipuleerder tevrede stel en sê daarom vir die persoon “ja” al bedoel hulle eintlik “nee”;
• onseker en is bang om te erken dat hulle nie met die manipuleerder saamstem nie;
• hulle moet verduidelik hoekom hulle voel soos hul voel;
• simpatie vir die manipuleerder. Manipuleerders is uithaler-“slagoffers” en die persoon voel hy of sy moet die manipuleerder ondersteun en koester;
• hulle moet die manipuleerder se gevegte namens hom of haar veg;
• verplig om die manipuleerder se “ongelukkige situasie” op te los.
Só beveg jy dit
Philip du Toit, sakeman en teoloog gee die volgende wenke:
• Weerhou hom of haar daarvan om voor jou van ander mense lelik te praat of te skinder.
• Moenie probeer om hul foute direk vir hulle te probeer uitwys nie. Die manipuleerder gaan heel waarskynlik probeer om die situasie om te keer of om jou met retoriese vrae of redenasies te oortref.
• Toon begrip en wees liefdevol, maar moenie oorsimpatiek wees nie. Wees ferm en moenie toelaat dat die manipuleerder ‘n emosionele greep op jou kry nie.
• Moenie toelaat dat die persoon jou dwing om kant te kies nie.
• Bly onpartydig en hou ‘n afstand van enige persoonlike dispuut waarby hy of sy jou wil betrek.
• As jy teenoor die mens gefouteer het, bely opreg maar bondig. Moenie in die strik trap om voor manipuleerders te kruip of herhaaldelik dieselfde oortreding te bely nie, want dit is dikwels wat hulle wil hê.
As jy nog altyd te bang was om terug te antwoord, sê jou sê! As die manipuleerder agterkom jy gaan nie meer op eierdoppe loop om “hom of haar nie seer te maak nie” is jy op die regte pad.
Nóg ‘n manier om teen emosionele manipulasie te baklei, is om boek te hou van alles wat die manipuleerder sê. Manipuleerders maak staat daarop dat hul “slagoffer” nie presies kan onthou wat voorheen gesê is nie.
As ‘n emosionele manipuleerder vir jou ‘n taak moet afhandel en hy of sy het “ja” gesê, hou hulle aanspreeklik daarvoor, maak nie saak hoeveel hulle sug en kla nie.
Sodra manipulasie in jul verhouding voorkom, wys dit kalm en rustig uit. Die manipuleerder gaan bes moontlik kwaai reageer of probeer om jou skuldig te laat voel. Sê iets soos: “Ek voel jy probeer my nou manipuleer en ek gaan nie ingee nie. Sê eerder dit wat jy wil sê op ‘n direkte en positiewe manier”.