Die wynmaker en eienaar van Malanot Wyne, Marius Malan, het onlangs ’n interessante konsep gebruik om sy wyne aan kos-en-wynliefhebbers voor te stel
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die wynmaker en eienaar van Malanot Wyne, Marius Malan, het onlangs ’n interessante konsep gebruik om sy wyne aan kos-en-wynliefhebbers voor te stel, deur kragte saam te span met Luke Wonnacott van Table Seven in Salt Orchard in Soutrivier.
Luke en sy vrou, Kate, doen spyseniering, reis na kliënte se huise vir sjefstafels en het pas ’n konsep-restaurant in Soutrivier se nuutste ontwikkeling geopen.
Malanot Wyne se name is ’n samestelling van Malan en Genot en Marius het verduidelik dat hy baie patrioties en mal oor Afrikaans is. Dit het duidelik na vore gekom in die keuse van sy Chenin blanc se naam, Asiel. Slegs 900 bottels word hiervan gemaak en die wyn word in papier met ’n gespe soos ’n outydse dwangbaadjie verseël. Marius het verduidelik dat jy die wyn as’t ware uit die bottel bevry wanneer jy dit geniet – amper asof jy die wyn se dwangbaadjie losgespe.
Marius maak sy wyne op Summerhill plaas buite Stellenbosch. Hy het vertel dat hy aan minimale inmenging glo en die natuurlike wynmaakproses volg. Hy glo goeie wyn word in die regte grond met die regte klone en kultivars gemaak. Hy gebruik gesonde, ouer wynvate om sy wyne te verouder, wat nie te veel hout-ekstraksie meebring nie.
Marius het vertel dat hy nie aan kompetisies glo nie, maar wel sy Chardonnay ingeskryf het en vyf sterre in die Platter’s wyngids verdien het en 93 punte in die Prescient Chardonnay-verslag.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.