Soos verskyn in Vrouekeur 13 April 2018 uitgawe
Ek ken ’n vrou wat daarvan hou om in die reën te stap, dit verpes om skoene te dra en nie geduld het met mense wat verkramp, verwaand of veroordelend is nie
Deur MARETTA BELLINGAN
Ek ken ’n vrou wat van kleins af grootoog na die wêreld gestaar en vroeg reeds besluit het om die lewe in al sy fasette te geniet. Die dogtertjie met die rooi hare en blou ogies was nie juis ’n kandidaat vir Mej Tinkerbell nie, maar tog oulik en innemend op haar unieke manier. Haar beste eienskap was egter haar lewenslus en sin vir avontuur.
Op skool was sy goed in tale, treurig in wiskunde, nie te sleg in sport nie en baie lief vir lees. Haar eerste liefdes was die sanger David Cassidy en die tennisspeler Björn Borg. Sy wou ’n lugwaardin, geoloog of aktrise word. Ek ken ’n vrou wat nie as jong meisie gedroom het van haar troudag nie, maar van die onbekende lande wat sy wou besoek, die meesleurende boeke wat sy wou lees en die interessante mense wat sy gaan ontmoet. Sy was nie iemand wat bang was om kanse te waag, op vreemde paaie te stap of uitdagende gesprekke te voer nie en het elke geleentheid op haar pad benut.
Ek ken ’n vrou wat hard gewerk het, maar net so hard gespeel het. Sy was kleurryk, nuuskierig en energiek. Altyd gereed vir nog ’n avontuur, honger vir kennis en gretig om te help. Ek ken ’n vrou wat mal was oor haar vriende, maar ook nooit bang was om alleen te wees nie. Sy was gek daaroor om op haar eie die wêreld te verken. Of dit nou was om vrou-alleen op ’n trein deur Indië te toer, in Thailand op ’n olifant te ry, in Maleisië in ’n reënwoud rond te stap of berg Kenia, die tweede hoogste berg in Afrika, tydens ’n sneeustorm uit te klim. Sy was nooit juis ’n yster in die kombuis nie, maar sy’t graag vir haar vriende kos gemaak. Tot laatnag gesit en wyn drink en ure lank die wêreld se probleme sit en uitpluis. Of soms net twak gepraat totdat die son opkom.
Ek ken ’n vrou wat mal was oor die liefde, al het sy meer paddas as prinse gesoen. Sy’t bly glo in die wonder van romanse en nooit hoop opgegee dat sy eendag iemand sou ontmoet wat haar knieë sou laat kantel nie. Ek ken ’n vrou wat soms die musiek so hard draai dat haar troeteldiere op die vlug slaan. Met haarself dans terwyl haar hond haar grootoog aanstaar. Ek ken ’n vrou wat vir haarself blomme en parfuum koop, mal is oor ’n glas rooiwyn (of twee), oesters en appeltert met room, pragtige materiaal, kantsakdoeke en antieke lampskerms. ’n Vrou wat nooit ’n moordkuil van haar hart maak nie en nie die waarde van vriendskap onderskat nie. ’n Vrou wat altyd bereid is om te luister, al het sy nie noodwendig ’n antwoord nie.
Ek ken ’n vrou wat daarvan hou om in die reën te stap, dit verpes om skoene te dra en nie geduld het met mense wat verkramp, verwaand of veroordelend is nie. Wat dit nie kan verdra dat iemand moet swaarkry nie en ongeregtigheid verag. Sy’s is nie perfek nie, maar gee ook nie voor dat sy is nie. Sy het baie foute gemaak, dom dinge gedoen en die verkeerde besluite geneem, soms tot haar eie nadeel. Maar sy’t opgestaan, haarself afgestof en haar kop opgelig. Ek ken ’n vrou wat weet dit bemagtig jou om te erken dat jy verkeerd is en dit maak nie van jou ’n swakkeling om om verskoning te vra nie. Sy glo aan vergifnis, genade en ’n goeie voetmassering. Maar die jare steel nie net jou tyd nie, dit vertrap jou drome, mors met jou kop en kaap jou lewenslus. Uiteindelik is alles net ’n vae herinnering en die lewe stotter voort soos ’n ou tweedehandse tjor wat teen ’n bult uitsukkel.
Ek ken ’n vrou wat haar chutspah verloor het. Wat nie juis meer opgewonde was oor enigiets nie, nie meer sing, hard lag en ’n wyntjie geniet nie. Wat ongeduldig, moedeloos en gefrustreerd is. ’n Vrou wat gedreig het om onder die aanslae van teleurstelling, ontnugtering en hartseer te knak. Ek ken ’n vrou wat besef het dat sy en sy alleen iets daaromtrent kan doen. Wat besef het dat sy dit aan haarself verskuldig is om die juk van swaarmoedigheid af te skud, dat geluk en innerlike vrede haar goeie reg is. Sy het haarself uitgedaag en besluit om weer met die oë van ’n kind na die lewe te kyk. Skielik was sy nie meer bang vir verandering of onseker oor die toekoms nie; inteendeel, sy sien daarna uit om weer laf te wees, kanse te waag en kaalvoet in die reën te dans. Ek ken haar. Miskien jy ook.