Om ’n verhouding in jou verbeelding te hê, klink vir my na ’n mors van tyd. As jy ’n spook kon vry, sou almal dit mos gedoen het?
Maretta Bellingan
Sannie ontmoet vir Jannie en haar hart klop tjoklits. Gelukkig vir Sannie voel Jannie dieselfde en daar is genoeg tjoklits tussen die twee dat hulle lewenslank gaan tandpyn hê. Die twee koer in mekaar se ore, staar droomverlore in mekaar se oë en kort voor lank loop die gebooie.
Dalk leef Jannie en Sannie lank en gelukkig saam, kry hulle twee en ’n halwe kinders, ’n drieslaapkamerhuis in ’n gemiddelde woonbuurt en hou elke jaar saam met die skoonmense in Mosselbaai se woonwapark vakansie.
Die twee word rustig saam oud. Sannie se boude het ’n bietjie uitgesak en die enigste six-pack wat Jannie deesdae het, is in die yskas. Hy noem sy groeiende maag ’n afdak oor ou tools en Sannie koop elke twee maande ’n boksie Honey Chestnut om die ergste grys in toom te hou.
Belangrikste is, die twee het geluister wat dominee in die kerk gesê het: “Tot die dood julle skei.” En as die goeie Vader hulle bewaar, sal hulle saam eendag op Huis Sonstraal se stoep die blokraaisel sit en invul. Oupa Jannie sal kort-kort sy gehoorstuk verloor en ouma Sannie sal knaend haar hekelpen verlê. Die twee sal mekaar se sinne voltooi en uiteindelik, ses maande uit mekaar, langs mekaar ter ruste gelê word.
Maar nie almal is so gelukkig soos Jannie en Sannie nie. Vir baie duur die tjoklitsfase net so ’n jaar of twee. Of dit nou weens uiteenlopende belangstellings, finansiële probleme of ’n sexy sekretaresse is. “Tot die dood julle skei” verander na “tot die ink op die egskeidingdokumente droog is”.
En dís hoekom, sê my dierbare vriendin Elma – ook nou al amper ’n dekade gelukkig geskei – sy liewer romantiese gevoelens vir iemand ontwikkel wat heeltemal onvanpas en/of buite bereik is. Dit maak alles net soveel minder ingewikkeld.
“Verduidelik,” sê ek en vul haar glasie met haar gunsteling- pienk bubbly op. My vriendin sit lekker gemaklik, vat ’n sluk van haar wyntjie en staar vir ’n paar oomblikke onleesbaar in die niet. “Die geheim is om ’n crush op iemand te ontwikkel en jou te verbeel dat julle op die punt staan om mekaar te vind. Dit kan iemand wees saam met wie jy werk, iemand wat elke dag op dieselfde trein as jy ry, aan dieselfde tennisklub as jy behoort …”
Dit maak glad nie vir my sin nie, maar ek vat liewer ’n sluk bubbly as om my vriendin te bevraagteken. Om ’n verhouding in jou verbeelding te hê, klink vir my na ’n mors van tyd. As jy ’n spook kon vry, sou almal dit mos gedoen het?
“Dis eintlik baie exciting,” borduur sy voort. “Om verlief te wees, is tog die lekker deel van ’n verhouding. Dis wanneer jy iemand se grille en geite leer ken, dat jy besef hoeveel opofferings ’n mens moet maak en daar is nooit ’n waarborg dat dit gaan werk nie. Hoekom dink jy is ons albei geskei?”
Jy argumenteer nie met ’n prokureur nie. Veral nie met een wat haar ná twee glase bubbly verbeel sy is ’n kombinasie van dr Phil, Oprah en dr Eve nie. Jy stem heelhartig saam en gooi jou eie stuiwer in die armbeurs, siende dat daar nou uit die slaapkamer gepraat word.
“Gérard Depardieu, die Franse akteur – ek het ’n crush op hom.” My vriendin lyk asof sy haarself nugter geskrik het, of sy onmiddellik vir my die nommer van ’n goeie terapeut gaan gee en my gaan dwing om by ’n ondersteuningsgroep vir mense met afwykings aan te sluit.
Dalk het ek hulp nodig, want wie vind ’n man aantreklik wat duidelik vraatsugtig is, ’n onaansienlike groot neus het en erken dat hy 14 bottels wyn op ’n dag drink? ’n Man wat onbeskaamd met Vladimir Putin bevriend is en besope op ’n vliegtuig in die gang gestaan en urineer het? Die meeste mense vind hom walglik.
“Daai vet walvis?” vra sy. “Hoewel, hy is nogal sexy, so op ’n grillerige manier.” En toe sê sy iets wat die hele storie in perspektief plaas. “Daar is ’n Franse uitdrukking, bien dans sa peau, dit beteken om gemaklik in jou vel te wees. Daai Fransman is gemaklik in sy vel, al lyk dit asof hy enige oomblik gaan ontplof.”
Sy bly vir ’n oomblik stil, kyk rond asof sy bang is iemand gaan haar hoor en sê in ’n fluisterstem: “As jy dit vir iemand vertel, sê ek jy lieg, maar ek dink Riaan Cruywagen is nogal hot.”
Dit gebeur wanneer jy dit die minste verwag. Jy kyk na ’n natuurprogram en skielik het jy net oë vir die vaal ventjie met die swartraambril wat allerlei statistieke oor die voortplanting van walvisse aframmel. Daar is net iets omtrent hom wat sê hy hou van wie hy is, hy lyk dalk nie soos George Clooney nie, maar hy straal ’n selfvertroue uit wat Rambo in die skadu stel.
“Te veel van ’n goeie ding is altyd lekker,” sê my vriendin en vat haar laaste sluk. “Miskien moet ons dit maar tog oorweeg om internet dating te doen. Ek wil regtig nie alleen oud word nie.”