Word daar deesdae te veel van onderwysers verwag? JB Roux stel ondersoek in in ons 17 Junie-uitgawe. Lees hier oor die rol van die ouer
“Die rol van die ouer en dié van die skool moet van die begin af duidelik gemaak word,” sê Christelle du Plessis, opvoedkundige sielkundige. “Ouerbetrokkenheid moenie opsioneel wees nie. Kommunikasie tussen skool en ouer is deurslaggewend. Soms word die week se huiswerk op die skool se webtuiste geplaas sodat die ouer ingelig bly. Sommige onderwysers hou daarvan op via e-pos of SMS opmerkings oor die kind se vordering te maak en ouers voortydig oor probleme in te lig.
“’n Skool waarby ek betrokke was, het onderwysers verplig om minstens een keer per maand ’n oproep na elke ouer te maak, asook om ouers te kontak wanneer die kind iets goeds gedoen het – dis ekstra werk vir die onderwyser, maar dit beteken soveel vir ouers en kinders, asook vir die verhouding tussen ouers en onderwysers.
“Wanneer iets ’n ouer bekommer, is dit haar reg en plig om self die skool te nader, ’n afspraak te maak en te gaan gesels. Wanneer daar samewerking tussen ouer en onderwyser is, maak dit onderwysers se las ligter. Dis ook vir ouers nodig om die skool te kontak wanneer daar iets ernstigs in die gesin of kind se lewe plaasvind, soos die dood van ’n grootouer of ernstige siekte, inbraak of egskeiding. Die skool het nodig om van positiewe én negatiewe verwikkelings te weet, sodat hulle die kind beter kan ondersteun.”
“Ouerskap is nie maklik nie. Ouers weet nie altyd wat om te doen of hoe om op te tree nie. Die skool kan help deur gereeld sprekers te kry om met ouers oor ouerskapsaangeleenthede te gesels. Skole vind egter dikwels dat die opkoms na sulke geleenthede baie swak is – soms daag daar meer onderwysers as ouers op!
“Uiteindelik bly dit steeds die verantwoordelikheid van die ouer om hulp te soek wanneer hulle nie meer raad weet nie. Dit is geen skande om hulp te vra nie.”