Aangesien ontsmetmiddels van die rakke af verdwyn, het ons vir julle ’n paar resepte gesoek om jul eie middels te maak – vir die hande en vir oppervlaktes
Daar is talle resepte op die internet en julle sal sien dat ‘n paar bestanddele oorvleuel. Mens kan omtrent jou eie mengsels met ‘n paar kernbestanddele bedink.
Handontsmetmiddel
1 Meng die volgende in ‘n spuitbottel:
10 druppels laventelolie
6 druppels sitroengrasolie
25 druppels teeboomolie
30 ml Aloe Vera-jel
60 ml medisinale alkohol (rubbing alcohol), hamamelis (witch hazel), vodka of Listerine (95%)
Bron: Dischem
2 Meng die volgende in ‘n bak en gooi daarna in ‘n klein houertjie:
2/3 k 91% medisinale alkohol
1/3 k Aloe vera-jel
bietjie essensiële olie (van jou keuse)
Bron: Nebraska Mediese-sentrum
3 Meng die volgende in ‘n spuitbottel:
350 ml medisinale alkohol
2 t gliserien
1 e waterstofperoksied (by apteek)
90 ml afgekoelde kookwater
As jy ander hoeveelhede gebruik, onthou dat die alkohol minstens ¾ van jou finale mengsel moet bevat. Jy kan ook ‘n papierhanddoekie daarmee natmaak en dit as ‘n klamlappie gebruik. Gooi essensiële olie daarby as jy dit lekker wil laat ruik.
Bron: www.wired.com
4 Meng die volgende in ‘n bak en GOOI daarna in ‘n bottel:
3 e medisinale alkohol
1 e Aloe Vera
½ t gliserien of vitamien E-olie
20 druppels teeboomolie
10 druppels laventelolie.
Bron: https://livesimply.me/
5 Vul ‘n botteltjie driekwart met hamamelis (witch hazel). Voeg nou 2 e klapperolie en 4 druppels laventelolie by. Gooi nog 12 druppels essensiële olie van jou keuse by (‘n mengsel van olies werk goed).
Bron: www.freebiefindingmom.com
6 Meng in ‘n houer:
5 druppels laventelolie
30 druppels teeboomolie
90 ml vodka
¼ t vitamien E-olie
15 ml Aloe Vera-jel
Bron: www.diynatural.com
Ontsmetmiddel vir oppervlaktes
- Verdun 5 e (1/3 k) bleikmiddel in ongeveer 4 l water en gooi in ‘n spuitbottel.
Bron: Die CDC in Amerika
- Meng 240 ml water saam met 240 ml witasyn. Voeg 23–30 druppels sitroenolie (of essensiële olie van jou keuse) by.
Bron: www.traditionalmedicines.com
- Meng 20 ml skottelgoedskeep, 250 ml pers spiritus in 1 l water.
Bron: Facebook
- Waterstofperoksied (hydrogen peroxide) is ‘n kragtige ontsmetmiddel. Gooi dit in ‘n spuitbottel en spuit oppervlaktes daarmee.
- Meng ¼ k witasyn, 1¾ k water en 30 druppels van ‘n mengsel van essensiële olies (Meng byvoorbeeld 15 druppels elk van laventel en suurlemoen of 10 druppels elk van bloekomolie, peperment en lemoen.)
Bron: www.doterra.com
- Leser Louisia Lotter van George sê ons onderskat kruie en hul waarde. Sy kook ‘n mengsel van roosmaryn, salie en ment in water en laat dit deur sif of moeselien syg. Sy gooi dan 7 druppels teeboomolie by die mengsel en gooi in ‘n spuitbottel. Dit het ‘n heerlike vars reuk en is ‘n natuurlik ontsmettingsmiddel, vertel sy.
- Op Facebook het Amanda de Clercq ‘n oulike wenk gedeel: Gooi Dettol in ‘n pakkie wet wipes in en gebruik dit dan as ontsmetlappies.
- Chriszelda Hartman Koen het hierdie resep gedeel: Meng 1 deel gliserien/hand- of lyfwas in jelvorm, 2 dele pers spiritus en 10 druppels essensiële olie.
- Koekoe Barnard het hierdie gedeel: Meng 800 ml afgekoelde kookwater met 200 ml bleikmiddel. Voeg essensiële olie by as die reuk te sterk is.
- Carlet du Preez sê Milton is ook ‘n goeie ontsmettingsmiddel – mens gebruik dit immers om bottels skoon te maak.
- Anneke van der Walt meng 300 ml water, 30 ml asyn, 30 ml suurlemoensap, 30 ml Sunlight Liquid en 20 ml Dettol of Savlon. Gooi in ‘n spuitbottel.
Gebruik wenke op eie risiko
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.