Kan Facebook sleg vir jou fisieke en geestelike gesondheid wees? ‘n Nuwe studie sê ‘ja’
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy probeer jou daarvan wegskeur, maar as jy weer sien is jy op Facebook. Jy “like” gou iemand se foto’s, deel ‘n grappie en vertel hoe jou dag verloop. Dit het nog nooit eens by jou opgekom dat Facebook dalk sleg is vir jou nie; inteendeel, dit hou jou op hoogte van sake en versterk jou vriendskappe! Of doen dit?
Holly Shakya, ‘n assistent-professor aan die Universiteit van Kalifornië in San Diego, was aan die hoof van ‘n studie wat ongeveer 5 200 mense met ‘n gemiddelde ouderdom van 48 oor verskillende tydperke gemonitor het.
Die deelnemers moes hul geestelike en fisieke gesondheid op ‘n skaal van een tot vier en hul lewensbevrediging op ‘n skaal van een tot tien gradeer en hul liggaamsmassa-indekssyfers rapporteer.
Die navorsers het ook toegang tot hul Facebook-aktiwiteite gehad.
Daar is gevind dat die wat groter aktiwiteit toon en baie plasings “like” swakker gesondheid gehad het. Daar is ook gevind dat diegene wat hul Facebook-status gereeld opdateer swakker geestesgesondheid as diegene gehad het wat dit minder doen.
Mense se gebruik van sosiale media is ‘n komplekse onderwerp en studies stem nie altyd saam of te veel Facebook skadelik is of nie.
Wat wel al bewys is, is dat verhoudings in die “regte lewe” mense gelukkiger maak as Facebook-vriendskappe.
BRON: http://www.deccanchronicle.com