Maagomleidings raak al hoe gewilder. JB Roux vertel ons meer
Maagomleidings is veral gewild in lande soos die Verenigde State van Amerika, maar ook in Suid-Afrika is dit vir al hoe meer mense wat buitengewoon oorgewig is, ’n oplossing.
’n Maagomleiding behels, vir dié wat nie weet nie, ’n operasie waarin ’n groot deel van die maag en ’n deel van die dunderm weggesny word. Die deel van die maag wat oorbly, is skaars groter as ’n okkerneut. Dit beteken dat iemand wat so ’n operasie gehad het, nie meer as ’n paar eetlepels kos op ’n slag kan eet nie. Die gevolg is dramatiese gewigsverlies.
Maar is dit so eenvoudig?
’n Maagomleiding is nie ’n kitsoplossing nie. Dit is en bly ’n operasie en soos met enige operasie is daar risiko’s. Daarom beveel dokters gewoonlik aan dat ’n pasiënt eers ’n strawwe dieet- en oefenprogram aanpak. Om te veel en te ongesond te eet, het dikwels ’n sielkundige oorsaak en daarom sal dokters soms ook terapie aanbeveel. Indien dié metodes nie werk nie, word ’n maagomleiding oorweeg. Die doel is nie om jou in die eerste plek goed oor jouself te laat voel en om jou goed te laat lyk nie, maar om die siektes wat met oorgewig gepaardgaan, soos diabetes en hartsiektes, te vermy.
Ná so ’n operasie is dit selfs belangriker as voorheen om gesond te eet. Omdat jy so min kos inneem, moet elke krieseltjie voedsaam wees sodat jou liggaam genoeg voedingstowwe kry. Selfs ’n paar blokkies sjokolade sal jou so vol laat voel dat jy ’n maaltyd moet oorslaan en jou liggaam belangrike voedingstowwe ontbeer. Vitamienaanvullings moet ook daagliks geneem word.
Die goeie nuus is dat al hoe meer mediese fondse vir so ’n operasie betaal. Indien nie, kan jy jou vir ’n rekening van minstens R130 000 regmaak. Mediese fondse betaal gewoonlik nie vir ’n opvolgoperasie waarin los vel verwyder word nie – dit word as kosmetiese chirurgie beskou.
Dan is daar ’n ander “vangplek”. ’n Jaar nadat sy ’n maagomleiding gehad het, het Daleen* ongeveer 90 kg verloor. Sy het wonderlik gevoel, maar toe ontwikkel sy ’n alkoholprobleem. Wanneer sy byvoorbeeld gaan uiteet het, het sy ’n glas wyn pleks van nagereg bestel: “Dit was fantasties. Ek hoef nie meer met my lepel gesit en speel het terwyl die ander mense aan die tafel aan hul crème brûlée weggeval het nie.”
Maar dit het nie daar gebly nie. Sy het skelm begin drink en het leë wynbottels vir haar man weggesteek, onder die invloed van alkohol bestuur, vir kort tydjies haar bewussyn verloor en haarself seergemaak sonder dat sy daarvan geweet het.
Daleen se verhaal is nie so vreemd nie. Volgens ’n onlangse studie het 7,6% van die pasiënte wat maagomleidings gehad het, voor die operasie reeds ’n drankprobleem gehad, maar 9,6% het ná die operasie aan alkohol verslaaf geraak. Dié neiging – om ’n verslawing aan kos met drankverslawing te “vervang” – is geensins uniek nie.
Baie mense wat maagomleidings ondergaan het, weet nie dat hulle daarna buitengewoon vatbaar vir drankverslawing is nie. Wetenskaplikes kon nog nie heeltemal dié tendens verklaar nie. ’n Moontlike verklaring is dat pasiënte hul verslawing aan kos vir ’n ánder verslawing verruil, maar meer onlangse aanduidings is dat daar ’n anatomiese verklaring is: ’n maagomleiding lei tot metaboliese en hormonale veranderinge in die liggaam en dit maak pasiënte besonder vatbaar vir alkoholisme, maar nie noodwendig vir ánder verslawings nie. Die oorsaak is moontlik ’n kombinasie van die bogenoemde faktore, maar dié faktore speel miskien glad nie ’n rol nie.
Ander voordele van ’n maagomleiding Navorsing dui daarop dat maagomleidings nie net pasiënte dramaties gewig laat verloor nie – pasiënte verloor tot 50% van hul oortollige liggaamsmassa en dié effek duur tot tien jaar lank – maar dit verminder ook pasiënte se vatbaarheid (en verlig die simptome) vir siektes soos Tipe 2-diabetes, hartsiektes en kanker. Pasiënte wat voor ’n maagomleiding hieraan ly, se kanse om aan een van dié siektes te beswyk, neem met 40% af. Aan die negatiewe kant is daar steeds die risiko dat ’n pasiënt aan drank verslaaf kan raak – al weet niemand steeds regtig wat die rede hiervoor is nie.
Verslawing Die moontlikheid dat eetverslaafdes ná ’n maagomleiding bloot een verslawing vir ’n ander verruil, insinueer dat eetverslaafdes dikwels ’n verslawende persoonlikheid het. Om een verslawing vir ’n ander te verruil, kom algemeen voor. Alkoholiste kan byvoorbeeld ná rehabilitasie skielik kettingrokers word. Dié teorie word egter ook bevraagteken omdat dit moeilik is om die oorsaak van ’n spesifieke verslawing te bepaal. Sommige deskundiges glo dat verslawing chemiese oorsake het, terwyl ander glo dat die oorsaak sielkundig is.
Een van die psigologiese verklarings vir verslawing is ’n versteurde reaksie op dopamien. Dopamien is ’n chemiese stof wat in die brein afgeskei word wanneer ons “lekker” dinge doen, soos om te eet, seks te hê, dwelms te gebruik of na musiek luister. Dopamien stel ons nie net in staat om sulke aktiwiteite behoorlik te geniet nie, dit motiveer ons soms om ons meer en meer aan sulke aktiwiteite te vergryp sodat ons selfs beter kan voel.
Ná jare se berading en nadat haar drankverslawing haar verhoudings en fisieke gesondheid feitlik vernietig het, het Daleen breekpunt bereik. Sy het drankverslawing afgeskud, maar dit was nie maklik nie. Sy weet dat baie ander mense wat maagomleidings ondergaan, ook nie vooraf ingelig is oor die moontlikheid dat hul verslawing aan kos met ’n ander soort verslawing vervang kan word nie. Sy tree as mentor op vir pasiënte wat maagomleidings gehad het; en is lid van aanlyn-ondersteuningsgroepe.
“As ek voor die operasie beter ingelig was,” sê Daleen, “sou dit ’n baie groot verskil gemaak het. Ek was ná die operasie woedend vir die onderskeie dokters omdat ek voel hulle het my in die steek gelaat. As hulle my gewaarsku het om ná die operasie van drank af weg te bly, sou ek nooit begin drink het nie.” **
* Skuilnaam
** Daleen se storie: http://scienceline.org
Meer inligting
www.durbanbariatricsurgery.co.za
www.chrysalisclinic.co.za