Zerelda Esterhuizen
Ek is ’n werkende ma. Ja, ek werk soms meer by die huis as by die werk, maar ek bedoel ek is een van die ma’s wat elke dag werk toe moet ry en haar kinders by die naskool gaan haal.
Soms is ek bly ek is een, want ek het kollegas wat vriendinne geword het en ek kan my rekeninge betyds betaal, maar soms is ek spyt, want dit voel asof ek baie van my kinders se lewe misloop. My oudste het haar eerste tree by die dagmoeder gegee en my jongste het by die dagmoeder begin kruip.
Die kuberruim was al menige keer aan ’t gonse as tuisblyma’s en werkende ma’s mekaar pak. Ek onthou een geval waar ’n werkende ma omtrent tuisblyma’s afgekraak het. Tuisblyma’s was nie dik van die lag nie. En wie kan hulle kwalik neem? Hulle werk hard by die huis en kinders is geen grap nie. Aan die ander kant, is werkende ma’s ook al as nie-sulke-goeie-ma’s afgemaak omdat hulle nie altyd dáár is vir hul kinders nie.
Maar kom ek wees maar eerlik, die meeste werkende ma’s beny diegene wat by die huis bly en hul kinders soggens rustig kan gaan aflaai, hul wasgoed deur die dag kan was, inkopies kan gaan doen, dalk met ’n teetjie in die sonnetjie kan sit en hul kinders in die middag gaan haal. Ons weet hulle sit nie heeldag en doen naels en kyk Days of our Lives nie en is sekerlik saans soos hul beroepsusters poegaai, maar ons is so ’n tikkie jaloers.
Die voordele van tuisblyma’s word gereeld besing. Hulle kan hul kinders met huiswerk help en hoef nie in die aand nog te sukkel as hulle moeg en geïrriteerd is nie. Dis byvoorbeeld dan wat daar goed in ons huis gesê word wat nie opvoedkundige sielkundiges se goedkeuring sal wegdra nie. Ma van die Jaar is nie verniet Ma van die Jaar nie!
Tuisblyma’s hoef ook nie eers agtuur die aand skoolbriewe te lees en dan besef die kind het die volgende dag kunsbenodigdhede nodig nie en vervaard in kaste invaar en selfs speelgoed breek net om iets te hê nie. Hulle het die tyd om kulinêre skeppings vir hul kinders se Winkeliersdae uit te dink en nie soos ek op nr 99 vervaard te google en dan uiteindelik ’n verlepte malvalekker op ’n ewe pieperige stokkie te druk en dit ’n mannetjie te noem nie. ’n Mannetjie sonder ’n gesig, want ek was bang ek vergiftig ’n kind as ek ’n prentjie daarop teken. (My een kollega het gedog dis ’n vliegtuig, hulle lag nou nog!) Ek ken ook tuisblyma’s wat hul eie groente uit hul tuin pluk, self jogurt maak en gewoonlik etes geniet met al die voedselgroepe aanwesig. En dan die belangrikste, hul kinders is gelukkig om hulle in die omgewing te hê.
Die meeste van ons generasie se ma’s was by die huis. My ma het my leer lees nog voor ek skool toe is, want sy kon. Wou ek dieselfde doen? Natuurlik! Het ek die tyd om my kind te leer lees? Helaas, nee. Ek en my oudste moet gereeld wapenstilstande verklaar as haar Lin-se-flippen-vis-boek ons albei lam lê.
‘n Artikel op www.webmd.com beweer tuisblyma’s is aan die toeneem en dit raak al hoe gewilder opsie onder vroue. Amerikaanse statistieke toon dat daar reeds in 2005 5,6 miljoen tuisblyma’s was. Dit is ’n 22% toename sedert 1994. Die statistieke klim glo steeds. Is dit die ideaal? Baie glo so. Is dit prakties moontlik? Nee.
Ek is jammer dat ek wedstryde misloop, ek is spyt dat ek nooit “inloeroggende” kan bywoon nie, ek haat dit om die aand in ’n chaotiese huis in te loop en dan op spaghetti te besluit, want dis bloot die maklikste, en ek verpes my alarm wat 04:15 afgaan. Maar dis my realiteit. Wat as ek dit kon bekostig om by die huis te bly? Sou ek? Ek weet regtig nie. My werk is kreatief, stimulerend en ek is gek na die energie en selfs die roetine van die kantoor.
Dalk moet ’n mens ophou kyk na wat ander ma’s doen en bloot fokus op jou (soms deurmekaar) huis en haard. Wat maak dit tog saak as jou kind se lekkergoedmannetjie soos ’n voël of vliegtuig lyk? Vir wat moet ons onsself heeltyd met ander ma’s vergelyk? Dis mos nie ’n kompetisie nie. As jou kinders gelukkig is en dink jy is ’n awesome ma, is jy bes moontlik een. Die beste ding wat ma’s vir hulself kan doen, is om van die alewige skuldgevoel ontslae te raak. Dan kan jy jou kinders en mawees geniet, vir dit wat dit is. ’n Reis met lekker, minder lekker en soms goor oomblikke … Maar ’n reis wat die moeite werd bly.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.