Ek onthou nog my oudste se eerste verjaardagpartytjie. Sy het nie eers geweet wat om haar aangaan nie, maar haar koek het met handgemaakte kameelperdjies, seekoeitjies en ander suikersoet dierasies gespog.
Zerelda Esterhuizen
Sy was in die fraaiste kolletjiespakkie uitgedos, maar het skaars geglimlag vir die kloekende mense om haar. Daar was ’n magdom mense en eet- en drinkgoed en Ma en Pa het gedink dis hul partytjie en het tot ounag met vriende en familie gekuier. Oor die jare het die fokus meer na die “kind” in “kinderpartytjie” verskuif en het dit meer besadig (en goedkoper) geword.
Niemand kon ons nog van goeie beplanning beskuldig nie en toe ons weer sien, het ons twee kinders wat albei voor betaaldag verjaar en net ’n maand uitmekaar. 1 geskenk + 1 geskenk + partytjie + partytjie = 1 hengse slag vir die beursie.
Ek weet nie van jou nie,maar toe ek klein was, was kinderpartytjies nie sulke groot affêres nie. Ek kan nie ’n enkele ene onthou wat ek gehad het nie, maar vandag huur mense tot partytjiebeplanners en temas word vir maande lank bedink. Ma’s waag nie meer aldag self hul hand aan die koek nie (ek’s een van daai) en koop spoggerige koeke. Daar is tot mense wat professionele fotograwe reël om hul telge af te neem.
Ma en Pa van die Jaar het besef dis belangriker vir die kinders om te eet as om elke jaar twee partytjies ná mekaar te hou en ons het nou ’n nuwe beleid waar die een kind die een jaar partytjie hou en die ander ene ’n uitstappie kies net om die volgende jaar weer om te ruil.
Synde Ma van die Jaar het ek ook al ’n paar partytjieflops gehad en het al die arme bloedjies verbrande pizza en dies meer gevoer. Ek onthou nog hoe ons een jaar verskrik gestaan en kyk het na hoe ’n haelstorm twee geleende gazebo’s vernietig het. Die Raponsie-koek het bitter in ons mond geword terwyl ons sommetjies gemaak het … Partytjies is ook erg uitputtend. Vra maar my man. Ek vang hom ná elke liewe kinderpartytjie waar hy al prewelend met ’n skoppie en besempie loop en sê: “Dit was die laaste keer. Dit was die laaste keer.” Ons hou altyd die partytjies by die huis en maak vir dae daarna nog skoon. ’n Mens voel mos kompleet asof jy aan bomskok ly ná so ’n partytjie. Jy hoor nog die opgewonde gejil en geskree in jou kop lank nadat die laaste gaste vertrek het en jou man al mompelend en steunend die springkasteel begin opvou het.
Die ander dag vertel ’n wyse ma my dat jy net soveel maatjies nooi na jou kind se partytjie as die syfer wat hy of sy word. As hy of sy vier word, nooi jy vier maatjies. Dit is soveel maatjies as wat hulle op daai ouderdom kan hanteer, seg sy. Sy het nogal ’n punt beet, want ek het al gesien hoe my kinders nie by al die maatjies uitkom nie. My jongste hardloop daar rond in ’n waas van sielsalige geluk en wil meer met sy geskenke as met die maatjies speel.
’n Kinderpartytjie kan nogal kopkrap veroorsaak: Moet jy klasmaatjies nooi of moet jy net familie se kinders en vriende s’n nooi, en wie gaan vir jou kwaad wees daarna? My een vriendin werk haarself so op oor haar kind se partytjies dat sy op die dag omtrent maagpyn van pure senuwees het. Sy is nie gek na vreemde mense nie (al die skoolmaatjies se ouers) en sy is nogal erg perfeksionisties. As die kind se koek nie perfek uitkom nie, is sy ’n wrak.
Dis net kinders wat kinderpartytjies geniet, sê nog ’n vriendin, ‘n natuurlike ma wie se kinders sonder hik of kik grootword en soos die suurlemoenboompies in haar tuin floreer. Sy sê ’n mens moet hierdie soort dinge rustig benader en solank jou kind en die maatjies hulself gate uit geniet, is als reg. Al het jy daarna langverlof, ’n stil hoekie in die huis en ’n bottel duur wyn nodig. Het jy al enige partytjierampe beleef?
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.