As jy ’n badkamermatjie nodig het
Zerelda Esterhuizen
Dit was ’n Saterdagaand toe ek besef het dinge in my lewe is besig om skeef te loop. Ek het al vir weke met ’n allemintige boek se proeflees gestoei wat nie wou klaar nie, die huis het gelyk asof ’n trop blesbokke daardeur was, albei kinders was siekerig en my jongste het pas ’n bak kos op die vloer laat val. Ek het gedoen wat ’n mens in sulke situasies wíl doen, maar gewoonlik nie doen nie. Ek het op my badkamermatjie gaan sit en ’n traan of twee gepink. Ma’s van klein kinders weet dat die badkamer gewoonlik die enigste plek is waar jy vir hulle kan wegkruip. ’n Badkamermatjie is ’n wonderlike, vertroostende plek. Probeer dit gerus as jy jouself ’n ineenstorting van vyf minute kan gun. Ek het daar opgestaan, aangegaan met my werk en gemaak asof niks verkeerd is nie.
Kort daarna word ek hondsiek en sleep my lyf ná ’n week waar ek elke dag by die werk is, dokter toe. Nie omdat ek as volwasse vrou besef het dat ek dokter toe moes gaan nie. Nee, op aandrang van my man en kollegas. Ek het bronchitis, maar proeflees die naweek ’n resepteboek, breiboek, doen ’n vertaling en skryf twee artikels en is die Maandag weer terug by die werk.
Dink ek ek is ’n supervrou en onmisbaar? Nee. Maar hoekom probeer ek so hard om dit te wees? Hoekom dink ons ons moet als vir almal doen en wees? Ek is beslis nie die enigste vrou in hierdie bisarre bootjie nie. Ek ken baie vroue wat hulself ongenadiglik dryf en by die werk en huis altyd probeer om beter en beter te wees, terwyl hulle sterk in hul vermoëns twyfel. ’n Vriendin vertel my die slim mense noem dit imposter syndrome. Gaan google dit ’n bietjie. Dit beteken dat jy ten spyte van jou suksesse nie glo dat jy goed genoeg is nie en jy glo jy verdien nie hierdie suksesse nie. Jy hou aan dryf en dryf en probeer en probeer, en as jy weer sien, is jy uitgebrand en vergeet heeltemal wie jy is. Jy bestaan net.
Iewers deur die jare, ’n troue, ’n huis, twee kinders, ’n werk, ’n hond, ’n swetterjoel rekeninge en ’n huisverband, het ek Zerelda agtergelaat. Ek het ‘n ma en ’n beroepsvrou geword en vergeet om die dinge te doen waarvan ek hou. Ek was nog altyd ‘n verwoede leser wat maklik twee-drie boeke oor ’n naweek kon kafdraf. Deesdae is my skootrekenaar by my bedkassie en ek lees omtrent net werksgoed. Wanneer laas het jy iets net vir jouself gedoen?
So wat sê ek hier? Die meeste ma’s (insluitend Ma van die Jaar) kan nie hul omstandighede verander nie. ’n Fairy godmother gaan nie eensklaps vir ons ’n miljoen of twee in die posbus sit en vir ons ’n au pair en voltydse huiswerker aflaai met ’n splinternuwe SUV nie … Nee, maar ’n mens kan gewoonlik ’n klein ietsie aan jou lewenstyl verander. Gaan skilder, doen joga of klim ’n koppie uit, maar fokus ’n bietjie op jouself. Hier’s my plan. Ek gaan meer “nee” sê vir dinge wat ek nie kan en wil doen nie. Ek gaan daagliks tien minute vir ektyd afknyp – al staan ek nog vroeër op sodat ek my kop stil kan kry. En … nou gaan diegene wat my ken, moet sit en aan ’n bank of kind vashou: Ek gaan vir my ’n fiets koop. Ek gaan nou en dan oefen sodat ek iets vir myself, my menswees en my gesondheid kan beteken. En eendag gaan ek weer begin swot en ek gaan weer boeke lees net omdat ek wil … Dis my plan. Wat is joune?
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.