Op entrepreneursdag besef MvdJ sy’s dalk nie besig om die wêreld se volgende Richard Branson groot te maak nie
Zerelda Esterhuizen
Dis nie maklik vir my om te verloor nie. Ek hou nie daarvan nie. Wie doen in elk geval? Dus, as daar enigiets soos ’n halwe kompetisie in my lewe opkom dan weet ek my kompetisiebrein gaan oorvat en ek gaan wil wen. Só betree ons mos die wonderlike wêreld van wedstryde toe my oudste skool toe gaan. En nou vra julle tereg: Het Ma van die Jaar nie haar les met die redenaars geleer en besef haar kind is net in graad 1 en nie in die Olimpiese Spele nie? Ja, dis juis waarom ek myself weer tot kalmte moes dwing toe nog ’n okkasie in ons lewe opduik. Die entrepreneursdag.
Daar is natuurlik pryse op die spel om die kinders aan te moedig om te koop en verkoop. Wil ek hê my kind moet wen? Dink jy ek sou eerder nou op ’n tropiese eiland met ’n Pina Colada in my hand wou sit terwyl ek my tone nou en dan in die blouselblou water druk? Ja, natuurlik.
Hoe winsgewend is die goudvissie-handel?
Ons bespreek en beredeneer idees vir die groot verkoping by die huis. Ek google, ek Facebook, ek Pinterest. Ek kontak ’n ma wat langer as ek in die land van skole beweeg en sy noem wat gewoonlik verkoop en wat nie. Ziani het ’n paar bisarre idees en my kollegas ook. Kollega Anlie meen goudvisse sal die geld laat inrol en ek sien al hoe moet ek die glibberige goedjies in plastieksakke druk en in gretige, taai handjies sit. Daai idee neem die loop toe ek die brief bestudeer en sien “geen lewende hawe” word toegelaat nie. Die lewende hawe laat my terstond aan daai kuikens dink wat in my kleintyd by skole verkoop is. Ag, siestog, in pienk, pers, blou en original geel. Kollega Je’Maine het idees van pyle, boë en kompetisies (met gepaardgaande toegangsgeld), maar daar staan duidelik “geen wapens” op die lys. Nog kollegas noem goed wat gebak of fisiek gemaak moet word, maar my tyd en geduld is te min.
Ek onthou hoeka verlede jaar hoe ek vir een kind kolwyntjies vir die skool gebak het en ’n koorsige middag in die kombuis deurgebring het net om ’n paar verminkte koekies op te lewer, wat lyk asof tweejariges hulle versier het. Ek het daar uit my foute geleer en met die volgende ene se verjaardag lieflike, plomp kolwyntjies gaan koop. Almal was gelukkig.
Pa van die Jaar maan teen te veel geld uitgee en te veel voorraad en raak benoud by die idee van bokse goed wat in ons huis rondstaan. Ziani wil aanplaktatoes en plakkers verkoop, maar ek’s bekommerd dat die mammabrigade my daarna kan stalk as hul kinders een of ander slangtatoe het wat in een of ander eeu ’n deity se troeteldier was. ’n Mens kry nou nie juis tatoes van Care Bears nie, dis gewoonlik een of ander vuurspuwende gedrog met 40 koppe.
Die groot dag breek aan
Tyd haal ons later in, my opgewondenheid taan radikaal en uiteindelik koop ek die middag voor die groot dag lekkergoed. Weg is al die idees van wonderbaarlike dinge wat binne tien minute gaan uitverkoop. ’n Kollega ontwerp ’n plakkaat, ons kry helderkleurige bakkies en kolletjiestafeldoeke en ek begin weer soos die regtige ma van die jaar te voel.
Ziani noem dat ons maar vir die kinders wat nie geld het nie, ook ’n ou swietie in die hand moet stop en ek besef ek maak dalk nie die wêreld se volgende Richard Branson groot nie.
Die dag breek aan en ons is gepak, gesak en gemotiveerd. Daar is ’n swetterjoel stalletjies en ma’s en pa’s laai houers en houers goed af. Daar is pannekoek, melkskommels, oulike potlode, fudge, koekies en dies meer. Ek en Ziani stel meer in die ander as in ons eie stalletjie belang, maar ons maak mooi en voel goed oor ons vaardighede. Die kinders stroom in hul bondels na die stalletjie langsaan waar ’n maatjie ballonstresballetjies verkoop. Sy maak geld soos soetkoek en ons staar haar beteuterd aan.
Ons kry darem weer lewe nadat ons die eerste R5-sakkie met lekkergoed verkoop en Ziani maak met ’n swierige gebaar haar klein kasregister oop. Sy bedank my inniglik vir my hulp en ek kry skoon skaam omdat ek so gekla het oor my kosbare verlofdag wat ek moes opoffer. Verkope kom maar stadig in en die entrepreneur aan ons tafeltjie wil kort-kort geld vat om haar maatjies se goedere te beloer. Sy kom terug met krone, jellie en ander proviand. Ma van die Jaar begin wonder oor haar swiets-idee wat nie so briljant was nie. Die lekkergoed staan en ons verkoop maar min, die kinders koop veel eerder vreemde goeters waarmee hulle kan speel as goeie, outydse ou lekkergoed. My kinders gaan swiets eet tot Kersfees!
Tussendeur is daar kinders met nie die regtige bedrae geld nie en Ziani gee graag ’n ekstra Rice Crispie-balletjie of twee as ’n kind honger lyk en gesels land en sand met die skoolmaats. Sy geniet elke oomblik.
Ek dink later by die huis oor die tyd en moeite wat daarin gegaan het en besef sulke dae gaan oor meer as net wins en verlies. Ek dink my sesjarige het lankal die les geleer wat ek haar die graagste wil leer. En dis om ’n hart vir ander mense te hê. Daai swiets wat sy so graag wou weggee … Het ons ’n wins gemaak? Nee. Het sy enige prys gewen? Nee. Het sy haar ma mateloos beïndruk? ’n Absolute ja.
Ons redakteur, Eldaleen Hugo, skryf ook in ons 29 Mei-uitgawe oor wat ons ons kinders moet leer. Gaan loer!
My wenke vir entrepreneursdae
• Besoek Pinterest.
• Moenie lekkergoed verkoop nie.
• Kyk mooi hoeveel geld jy voor die groot inval het.
• Laat jou kind deelneem. Hulle geniet dit vreeslik!
• Ek het te laat die boek Markdag deur Sam Scarborough (Random House Struik) ontdek. Daar is vrek oulike idees vir sulke dae en dis ook in Engels beskikbaar.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.