Ek is ’n bang mens en nie bang om dit te erken nie.
Zerelda Esterhuizen
Ek’s bang vir spoke, asteroïdes, boewe, muise, admin en nog baie ander dinge. En ook nie noodwendig in daai volgorde nie. Natuurlik het ek ‘n goeie skeut paranoia weg. Ja, ek’s die mens wat minstens vyf keer in die aand gaan kyk of die deure gesluit is, die kinders se komberse oor hulle is en of my selfoon besig is om te laai.
Toe my eerste kind gebore is, het ek skielik splinternuwe vrese leer ken en vrees het daarna my konstante metgesel geword. Ek onthou nog hoe ek my eerste baba in die sagte oggendlig betrag het. Sy was vir my die mooiste iets wat ek nog gesien het. Pragtig, pienk en rosig. Glad en uitgestryk soos nes ‘n baba kan lyk wat ‘n titsel te lank in haar ma se maag was. Sy was nie lus om hierdie wêreld te gou te sien nie … en wie kan haar kwalik neem?
Dis toe ek afgekyk het wat ‘n groot hand my keel stadig begin toedruk het. Wat gaan ek met haar maak? Hoe gaan ek na hierdie klein mensie kyk wat ek nie eers weet hoe om te bad nie? Ek het ‘n groot vrees gevrees. Ons was so ‘n week later by die huis toe ek een aand in my uitgerekte sweetpak, my opgerysde brooddeegmaag en die vertrekte gesig van my baba aanskou het, wat ek my eerste volskaalse paniekaanval ervaar het. Finding Nemo was op die TV en die trane het geloop. Die arme blerrie vissie moes nou sonder ‘n ma grootword. Die lewe is so onregverdig!
En ek het gehuil omdat niks ooit weer dieselfde sou wees nie. Moederskap het nie vir my natuurlik gekom nie. Ek het nie die een dag my baba gehad en die volgende oggend botter gekarring nie. Ek het nie met die een hand my baba gesus en met die ander hand crème brûlée gemaak nie. Nee, maar ek het in daardie moeilike fase leer cope met ‘n goeie klinieksuster se nommer veilig onder my foon se “Favourites” gesave. Die suster het my omtrent elke tweede week gesien en gou geleer hoe om ‘n angstige ma se vrese te besweer. “Ja, die kind drink genoeg,” “Ja, sy tel inderdaad gewig op”, “Nee, daardie merkie is normaal “en “Jy doen als, reg. Ontspan nou maar”.
Vrese het ook tot foute gelei wat ek nou ‘n paar jaar later kan herken en erken. Ek het my oudste onnodig skrikkerig vir baie dinge gemaak. “Pasop daar, dis te hoog.” “Wees versigtig, jy moet altyd my hand styf vashou.” Daar is ‘n groot verskil tussen om jou kind bedag op gevare te maak (wat ons almal moet doen) en om jou kind bang vir als te maak. Misdaad en dies meer is als wat ons as volwassenes bang maak, maar ons moet versigtig wees om nie bang kinders groot te maak nie. Ons kinders moet weet daar is dinge in ons wêreld wat nie perfek is nie, maar hulle moenie bang wees om te waag nie.
Ek kyk nou weg as my jongste roekelose dinge doen (sonder om darem sy lewe in gevaar te stel! Ek gaan nou nie die kind by ‘n vliegtuig laat uithang nie). Maar hy mag (en ek moedig hom aan) van stoepe afspring en hy mag maar met stokke en goed die wêreld instap. Ek het ook geleer om te laat gaan en die kinders kan by mense wat ek vertrou, uitslaap. Ons kan nie ons lewe bang leef nie, want dis nie ‘n lewe nie. As ma’s moet ons ons kinders positief die lewe instuur en daarom moet ‘n mens bedag wees op dit wat jy voor hulle sê. Hoopvol, positief, geesdriftig met ‘n gesonde skeut waagmoed. Dis die eienskappe wat my kinders moet hê. Maar bang vir die wêreld? Nee.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.